Word Ryk, Bly Ryk

LAPA Uitgewers publiseer PJ en Geo Botha se boek getiteld Word ryk, bly ryk: Hoe om welvaart te skep en bestuur. Dit beslaan 174 bladsye en is tjokkenblok vol voorbeelde, strategieë en wenke om beheer oor jou eie finansiële toekoms te neem. Daar is drie afdelings, naamlik “Welvaatskepping: Hoe om geld te maak en te verdien”, “Welvaartbestuur: Hoe om geld wat jy gemaak het, te laat groei”, en “Welvaartoordrag: Hoe om jou welvaart te geniet en na te laat vir die volgende generasie”. Ná elke afdeling volg opdragte en vrae wat lesers aanmoedig om oor hulle welvaartreis te besin. Daar is ook suksesstories oftewel gevallestudies van welvaartskeppers soos onder andere Michael Jordaan, Albé Geldenhuys en Whitey Basson ter aansporing.

Die Botha-broers is beide onafhanklike finansiële adviseurs by Bovest Wealth Management, ’n welvaartbestuursmaatskappy wat hulle pa, dr. Riaan Botha, gestig het. Dr. Botha is die skrywer van Welvaartskeppers (lees my oorsig oor sy boek hier). PJ is ’n analitiese denker en fokus graag op die tegniese en praktiese aspekte van finansies, terwyl Geo ’n strategiese dromer is wat in besonder belangstel in die sielkunde van besluitneming. Hulle is medeaanbieders en -vervaardigers van die program Welvaartskeppers op kykNET. Dis hulle passie om gewone mense te help om geld te maak in ’n uitdagende omgewing en dit te laat meer word. Lesers word aangemoedig om die boek hulle eie te maak, strategieë te identifiseer waarby hulle aanklank vind en dan beheer te neem oor hulle finansies.

Volgens die uitgewersbrief beantwoord die broers die volgende vrae in Word Ryk, Bly Ryk: “Wat is die geheime en strategieë van die uitgelese groep wat welvaart skep, hetsy as entrepreneurs, professionele mense of salaristrekkers, én boonop daarin slaag om hul geld te laat groei, te geniet en uiteindelik oor te dra aan die nageslag?”

PJ en Geo skryf in die voorwoord: “Met hierdie boek is dit ons doel om soveel as moontlik Suid-Afrikaners te help om beter finansiële besluite te neem. Ons lewe in ’n land met ongelooflike potensiaal en wonderlike mense wat baie kan vermag. Ons staar ons nie blind teen ons land se probleme nie, maar weet ook dat indien ons elkeen kan fokus op dit waarmee ons goed is, dit wat binne ons beheer is, ons persoonlike asook gedeelde sukses kan bekom.” En in die inleiding: “Veral in ’n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, kan ons nie meer wag vir die regering of groot korporatiewe maatskappye om ’n verskil aan die ekonomie teweeg te bring nie – óns moet die verandering wees. Ons land het heelwat strukturele probleme en om dit op te los bied ongelooflik baie geleenthede. Elke individu en klein of medium sakeonderneming moet die verantwoordelikhede aanvaar om welvaart en geleenthede te skep, nie net vir hulleself nie, maar ook vir ander.”

Ek het Word Ryk, Bly Ryk baie interessant en leersaam gevind. Die skrywers deel hulle kundige advies op ’n lesersvriendelike, maklik verstaanbare wyse. Hulle gee goeie, praktiese en sinvolle raad. Ek hou daarvan dat hulle die kweek van goeie finansiële gewoontes aanmoedig en lesers eerder ontmoedig om te val vir “get-rich-quick”-skemas.
Skaf gerus jou kopie van Word Ryk, Bly Ryk hier aan. Dit is ook by deelnemende boekhandelaars beskikbaar. Jy kan hier ’n uittreksel uit die boek lees.

Kompetisie
Twee gelukkige Kragdag-lesers kan elk ’n kopie van Word Ryk, Bly Ryk met die komplimente van die uitgewers wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die weggeeboeke is om hier onder in die kommentaar te vertel waarom jy dit graag sal wil wen. Sluitingsdatum 31 Augustus 2023.

 

 

 

 

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

9 Comments

  • Sal baie graag die boek wil lees OMDAT ek hou daarvan om met die finansies van ons gesin te werk en dit graag net nog beter wil leer bestuur en welvaart skep maar ek weet net nie altyd hoe nie. Dit is ook moeilik om te besluit wat is die regte boek om te lees en DIE EEN LYK VIR MY NA ‘N WENNER om te lees!

  • Ek wil nie ryk word vir myself nie maar ek wil finansiël sterk en onafhanklik wees om ander te kan help hoe en waar ek kan. Tans moet ek KIES wie kry die hulp, en dit is niks lekker nie wat my menswees word gevul deur te gee. 😃 Dit is DIÉ awesomeste gevoel wat geld nie kan koop nie maaaaar ongelukkig het ek juis die geld nodig om in sekere gevalle WEL geld te kan gee. Dus, as ek die selfstandigheid en vaardigheid het om die geld vir my te laat werk, kan ek baie meer vermag as tans. 😃 💜 Triljarde dankies vir die geleentheid om die boek te kan wen. 😃

    • Geluk, Magda! Jy wen ‘n kopie van Word ryk, bly ryk. Ons sal jou kontak in verband met die aflewering van jou prys.

  • Ek hou van syfers en lees graag van besigheids mense wat suksesvol is. Dit is altyd lekker om die mense se perspektief te lees oor hoe hulle oor geld en besigheid dink. Baie mense dink dat sukses sommer maar net in jou skoot val maar daar is baie harde werk en natuurlil ook talente en gawes betrokke. In die huidige ekonomiese stand waarin ons onsself bevind is dit noodsaaklik om kennis te neem, inligting te bekom en te leer op alles velde waar jy kan maarveal as dit by finansies kom. Ek dink nie almal kan ryk wees en ryk bly nie maar almal kan leer om beter met hulle geld te werk insluitende ek ook. Daar is baie mense wat raad en insig gee en dit sal interresant wees om die perspektief van die twee skrywers te lees. Ek is `n boekwurmpie en het tans Siya kolisi se boek gelees en is tans besig met Brand Pretorius asook Whitey van Neil Joubert.
    Groete

  • Een ding wat alle mense moet onthou is dat jou gesondheid nie n gegewe is nie en jy kan dit aan of af skakel nie, my kan ook nie daarvoor besluit nie, en jy kan dit ook nooit makeer of verander as die lot jou tref nie.
    My lewe het in n oogwink verander van gesond wees, aktief en bevoorreg on elke dag te kon werk tot daai dag wat ek oornag siek geword het en dit die begin van die einde van my volmaakte lewe was. Die nuus was skokkend toe ek mee gedeel was dat ek ongeneeslike longkanker het wat reeds versprei het na my ander organe. Ek het my hele lewe in daai oomblik verloor en van daar was dit die begin van n onbekende lydings pad wat my geen waarborg gee dat ek n dag sal mee maak sonder seer, ongemak en pyn nie. Ek is vas oortuig dat ek wel administrasie werk sal kan doen ten spyte van n onvoorspelbare dag. Siende dag geen besigheid belangstel om n Jong 63 jarige sieklike person in diens te neem is ek oortuig daar is nog n hydrate wat ek kan lewer met die magdom kennis en ervaring wat ek op gebou het oor die jare.
    Ek is vas oortuig dat die boek Word Ryk, Bly Ryk die regte voedingsmiddel is om my nuwe erdwurm boerdery in n suksesvolle onderneming te omskep. Kennis is random.
    Dankie vir die geleentheid on te kan deel neem

    • Geluk, Louis! Jy wen ‘n kopie van Word ryk, bly ryk. Ons dal jou kontak in verband met die aflewering van jou prys.

  • Dit kan help om jou kennis teverbreed en jouself tebemagtig , ook vir die kinders wat een van die dae uit s=die skool gaan.

  • Beleggings en welvaartskepping is ‘n lewenslange avontuur. Mits mens jouself kan programmeer om dit so te beskou. Ongelukkig leer tradisionele onderwys en opleiding mens weinig van finansies. Tegnologiese ontwikkelinge dra by tot die bestaande agterstand in kennis. Daarom is boeke soos dié so noodsaaklik. En die feit dat dit in Afrikaans geskryf is, gee dit daardie ekstra stukkie bekoring. Ek sal baie graag dié boek wil he.

  • Dankie vir die resensie.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui