Wat kan jy verwag op KragDag?
In die voorwoord het ons heelwat gesels oor vrae en antwoorde. Tog is daar baie meer wat KragDag vir jou bied.
Fokus op die gesin:
KragDag is slegs 20 minute se ry buite Pretoria, wat dit ‘n ideale uitkom-dag is vir die hele gesin. Woensdag is ‘n openbare vakansiedag, so die kinders is nie op skool nie en die ouers is nie by die werk nie. Dis die perfekte geleëntheid om weg te kom van die normale roetine af en ‘n dag as gesin saam te geniet, met vars(er) lug en sonskyn.
Die terrein is so uit gelê dat omtrent 1 vyfde van die perseel opsy gesit is vir kindervermaak. Daar is ‘n kolossale pretpark, speel area en kinderaktiwiteite. As jy na die terreinkaart kyk, lê hierdie gedeelte aan die noordekant van die terrein.
So mevrou, ek kan sommer al jou gedagtes lees. Terwyl die kinders in die pretpark baljaar, en pa allerhande vrae vra oor sy nuwe grassnyer, staan jy maar taamlik verveeld rond, reg? Gelukkig nie.
Die Kou en Kunsmark is juis daar om jou huis, meer huislik en gerieflik te maak.
Junior Entrepreneurs:
Terwyl ons van kinders praat, is daar ‘n afdeling van junior entrepreneurs. Hierdie is kinders en jongmense wat met leeuemoed hulle dienste en produkte bekendstel en verkoop. En moenie dink dat hulle kinders is wat hulle produkte op ander kinders mik nie – sommige van hierdie jongmense trap al klaar diep spore in die grootmens wêreld. Hulle teikenmark is juis grootmense, sommige teiken selfs bestaande besighede as hulle kliënte.
Jou ervaring by KragDag is nie volledig nie, nie voordat jy een of ‘n klomp van hierdie brawe jongmense gaan ondersteun het nie. Hulle stalletjies is in rooi gemerk op die terrein kaart.
Kos en Kuier:
As jy en jou mense moeg raak vir die lewe in die stad (of op die plaas) en jy wegkom vir ‘n dag of vier na KragDag toe, is kos natuurlik baie hoog op die prioriteitslys. Jy kan hier enige iets kry van tradisionele boerekos (soos biltong en koeksisters) tot by eksotiese uitlandse disse (soos pizza). En natuurlik ‘n gesonde verskeidenheid van goeie boeretroos.
Jy gaan beslis nie honger huis toe gaan nie. Dis in der waarheid afdraande van die ekspo terrein af na die parkeerterrein toe, as jy gaan terug rol na jou kar toe.
Daar is op verskeie plekke oor die terrein eet en kuierplekke uit gesit en elkeen van hierdie areas se atmosfeer verskil. Jy sal sommer vinnig aanvoel watter area resoneer die beste met jou.
Vermaak:
Deur die loop van die ekspo gaan daar lewendige musiek wees. Daar gaan verskeie diere tentoonstellings wees, veral in die Arena by die Landbou terrein. So as honde of perde vertonings vir jou is, kyk gerus op die webblad om te sien wanneer wat waar gebeur.
Veiligheid:
Elke jaar wil ek ‘n kind sommer net voorkeer en vra: “Boetman, het jy verdwaal, is jy op soek na jou pa of jou ma?” Want elke jaar sien ek hoe kinders sonder hulle ouers se toesig rondhardloop, speel en baljaar.
Selfs nie eers beursies of selfone wat verdwaal het, bly verlore nie. Dit gebeur elke jaar dat hierdie waardevolle items by die inligting stalletjie op eindig. En dan kry hulle weer hulle pad huis toe.
Inligting:
Daar is hoofsaaklik 3 metodes hoe jy inligting in die hande kan kry.
1. Die Webblad
◦ www.kragdag.co.za
2. Die Selfoon Toepassing
◦ Soek KragDag in Google Play Store of in die Apple App Store.
3. Die Inligting Stalletjie op die KragDag terrein.
◦ Dis langs die Sakeliga Raadsaal.
Pendel Trekker:
Terwyl ons by die kinders begin het, kan ons by die ouer mense eindig. Die parkeerterrein is kolossaal. Gelukkig is daar ‘n trekker met ‘n sleepwa wat heeltyd tussen die parkeer terrein en die toegangshekke ry.
So jy kan op een van twee manier op die sleepwa op kom. Die eerste is dat die jongman wat die trekker bestuur, jou soos ‘n sak mielies op die wa op gooi. Die tweede manier is dat jy die drie trappies, met die handreling gebruik om op te klim. Dis jou keuse.
En Nog Baie Meer:
Wat ons hier bo oor gesels het, is maar net die bokant van die ysberg. So gebruik die webblad, sosiale media en die selfoon toepassing, om alles uit te vind wat te doene is.