Wees jý die verskil wat jy graag wil sien

Ek lees onlangs JP en Geo Botha se boek getiteld Word Ryk, Bly Ryk: Hoe om welvaart te skep en bestuur gelees. Die Botha-broers is albei onafhanklike finansiële adviseurs by die welvaart maatskappy Bovest Wealth Management.

In die inleiding staan geskryf: “… [I]n ’n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, kan ons nie meer wag vir die regering of groot korporatiewe maatskappye om ’n verskil aan die ekonomie teweeg te bring nie – óns moet die verandering wees. Ons land het heelwat strukturele probleme en om dit op te los bied ongelooflik baie geleenthede. Elke individu en klein of medium sakeonderneming moet die verantwoordelikhede aanvaar om welvaart en geleenthede te skep, nie net vir hulleself nie, maar ook vir ander.”

Ek het dadelik besef dat die skrywers die spreekwoordelik glas as halfvol sien en nie halfleeg nie. Hulle is positief dat daar geleenthede in ons land is ten spyte van al die uitdagings. Maar voel die gewone man op straat ook só? En hoe sien mens hierdie geleenthede raak en benut dit? Meer nog, hoe lééf mens hierdie positiwiteit op voetsoolvlak uit in die hoop dat dit wyer sal uitkring en hopelik ’n opheffende impak op ander sal maak.

Die verandering wat ek en jy graag in ons land wil sien, moet by jou en my begin. Dit help nie ons sit en wag en hoop dat dinge maar net vanself gaan verbeter of dat ander die wa deur die drif sal trek en ons maar net voordeel sal trek uit die proses nie. As elkeen van ons net begin om in ons eie invloedsfeer, ons onmiddellike kring, ’n verskil te maak, kan dinge mos net beter raak. Die Amerikaner Jeremie Kubicek, ’n topverkoper skrywer en entrepreneur, skryf: “To be an effective, respected and positive force for change, today’s leaders must overcome our cultural tendencies toward narcism and self-centeredness. To have influence, you have to reach beyond your walls and give up yourself for the benefit of others.”

Ons nouste invloedsfere is ons eie gesinne, families, vriendekring, werksomgewing en gemeenskap. KragDag se leuse is nie verniet “Doen jou eie ding!” nie. Deur volhoubare en selfstandigheidsoplossings te vind vir probleme wat ons direk raak (soos die uitdagings van energie, water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, vervoer, konstruksie, ensovoorts), verminder ons ons afhanklikheid van die staat en skep ons ’n beter lewe vir onsself.

Hiermee saam kan ons opheffingswerk doen en ook ’n maker- en kreatiewe entrepreneuriese  lewensingesteldheid aanmoedig. “Woorde wek, maar voorbeelde strek,” sê die spreekwoord mos. Ons aksies sal ’n kettingreaksie tot gevolg hê, verál as ons positief is en daadkragtig optree.

Ek glo daaraan dat ons mekaar moet toerus met vaardighede. Kom ons skep geleenthede vir mekaar om te groei en inkomste te genereer. Dis tyd dat ons handevat en mekaar ’n hupstoot gee. Ons kan ons kennis en ervaring deel. As elkeen van ons net een ander persoon help om verantwoordelikheid te neem vir hulself en hul afhanklikes, kan die gety weldra draai. Kom ons help mekaar om selfvertroue en selftrots te hê deur die voorbeelde wat ons in woord en daad stel. Die een hand was die ander. Saam kan ons ’n verskil maak. Maar die verskil begin by jou en my. Dink nuut, leef nuut en doen nuut, want ons kán. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui