Veldgidse te kies en keur

As natuurliefhebber is ek altyd baie opgewonde wanneer daar nuwe veldgidse verskyn. Hierdie gidse is gewoonlik omvattend en gesaghebbend, en dit bevat die mooiste foto’s en illustrasies. Dit word saamgestel deur kenners met jare se ervaring en dien as waardevolle hulpmiddel vir studente, navorsers, akademici, stappers en natuurentoesiaste.

Ek hou graag aan KragDag-lesers drie Engelse gidse voor wat onlangs deur Penguin Random House gepubliseer is.

 

Field Guide to the Spiders of South Africa (Ansie Dippenaar-Schoeman)

Hierdie hersiene en bygewerkte uitgawe is die mees omvattende gids tot Suid-Afrikaanse spinnekoppe tot op hede. Die boek behandel meer as 780 algemene spinnekopspesies wat in huise en tuine aangetref word asook die meer rare spinnekopfamilies. Die boek beslaan 400 bladsye en behandel spinnekop wat in webbe of plante of op en in die grond woon.

Die gids beslaan ʼn inleidende hoofstuk waarin die morfologie en lewenssiklus van spinnekoppe voorgehou word. Die funksies van sy sowel as spinnekopversamelingtegnieke word bespreek. Lesers leer ken die spinnekoppe se identifiserende karaktertrekke, gedrag, verspreidingareas en bewaringstatus. Daar is ook ʼn afdeling oor gif waarin spesies uitgewys word wat gevaarlik vir die mens is. Dit dui ook die simptome en behandeling van spinnekopbyte aan en verduidelik die verskil tussen neurotoksiese en sitotoksiese gif.

Dippenaar-Schoeman is ʼn aragnoloog wat oor die afgelope 55 jaar 300 titels, insluitend nege boeke en 66 identifikasiegidse, gepubliseer het oor haar navorsing.

 

Field Guide to Scorpions of South Africa (Ian Engelbrecht)

Volgens die skrywer is skerpioene al vir 420 miljoen jaar deel van ons lewens en word as lewende fossiele beskou. Suid-Afrika huisves 108 spesies (drie families) wat in byna elke bioom voorkom – van woestyne tot fynbos en selfs ons tuine. Dit is die eerste omvattende gids wat elke bekende spesie in ons land beskryf en illustreer. Die gids beslaan 294 bladsye en het gedetailleerde volkleurfoto’s en illustrasies wat die patrone en kleure van elke skerpioen duidelik wys. Dit is so geskryf en georganiseer dat lesers inligting maklik sal opspoor en vergelykings kan tref.

In die inleidende hoofstuk leer lesers meer oor wat skerpioene nou eintlik is en kyk na hulle anatomie, klassifikasie, biologie en gedrag, habitat en waar en hoe om hulle op te spoor. Daar word ook gekyk na gifsterkte en die behandeling van skerpioensteke. Ek hou daarvan dat daar wenke met die leser gedeel word oor hoe om skerpioene te bewaar en selfs hoe om hulle te fotografeer.

Engelbrecht het ʼn MSc in bewaringsbiologie en ʼn PhD in dierkunde. Hy het al verskeie nuwe spesies ontdek.

 

Guide to Seabirds of Southern Africa (Peter Ryan)

Hierdie is die enigste boek wat eksklusief op Suider Afrika se 142 spesies seevoëls fokus. Die nuwe, tweede uitgawe sluit ʼn afdeling oor vlieënde visse en vlieënde inkvisse in. Dit behandel ook nege nuwe spesies en sluit nuwe foto’s in. Lesers kan die jongste inligting wat deur seevoëlspesialiste versamel is, verwag.

Daar is verskeie kleurfoto’s van elke seëvoel, verspreidingskaarte en inligting oor hulle biologie, gedrag en bewaringstatus. Die uitgebreide inleiding vertel meer hulle oorsprong en bewaring, hoe hulle broei en vervel, wat hulle eet en hoe om hulle te fotografeer. Dis die ideale gids vir voëlkykers en natuurliefhebbers wat graag tyd by die see deurbring.

Ryan is ʼn emeritus professor aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het al verskeie boeke oor voëls geskryf en neem hulle ook graag af.

 

Afsluiting

Ek het al drie bogenoemde gidse fassinerend gevind en beveel elkeen heelhartig aan. Jy kan al drie by toonaangewende boekhandelaars koop of aanlyn bestel.

Skaf Field Guide to Spiders of South Africa hier aan.

Skaf Field Guide to Scorpions of South Africa hier aan.

Skaf Guide to Seabirds of Southern Africa hier aan.

 

Kompetisie

Drie gelukkige KragDag-lesers kan met die komplimente van die uitgewer elk ʼn kopie van bogenoemde boeke wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die prys, is om hier onder aan te dui watter boek jy graag sou wou wen en waarom. Indien ons jou in kennis stel dat jy ʼn boek gewen het, maar jy nie binne veertien dae op die e-pos reageer om jou afleweringsbesonderhede te verstrek nie, sal jy die prys verbeur en sal ʼn nuwe wenner getrek word. Sluitingsdatum 29 Maart 2024.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

11 Comments

  • Ek verkies Seabirds of Southern Africa omdat ek onlangs na die kus verhuis het en die voëls hier leer ken.

  • Ek sal graag A Field Guide to Scorpions of South Africa wil wen.

    Daar is baie tipes skerpioene waarvan ek nie weet nie. Hoekom is hierdie boeke nie in Afrikaans beskikbaar?

  • Field guide to scorpios

  • Ek stel baie belang in spinnekoppe. Die belanstelling het begin to ek as jong seun in die Kalahari gewoon het. Mense verstaan nie soseer spinnekoppe nie dus is hulle bang vir spinnekoppe.

    Dog daar is redelike gevaarlike en giftige spinnekoppe.

    Dit sal goed wees om my kennis verder uit te brei

  • Field guide to spiders.
    Fassinerende diere waarvan ek meer wil weet.

  • Ons is ywerige voëlkykers wat Van Mpumalanga af hierheen verhuis het. Die verskeidenheid voëls hier is baie minder as in die Wildtuin waar ons dikwels gaan voëls kyk het. Ons kennis van seevoëls is baie beperk en ons sal graag so n gids wil bekom.

  • Ek stel baie belang in die natuur en alhoewel spinnekoppe nogal grillerig is, probeer ek hul altyd red. Sal baie graag meer omtrent hul gewoontes ens wil weet.

    Groete

  • Field guide to spiders in South Africa
    Ek het oor die jare gereeld die tipe gidse
    en Boeke aangekoop om dat dit meer
    Inligting en detail verskaf.
    Groete
    Charles

    • Hi, Field Guide to the Spiders of South Africa, Klink na ‘n vreeslike oulike boek wat my 12 jarige dogter baie sal geniet en ook baie daaruit sal kan leer!!
      Vreemd dat party dogters nie so erg ril soos hulle broers wanneer dit by die interessante spesie kom nie 🤭
      Terloops, al die boeke klink baie interessant dis ongelooflik wat ons Vader alles geskape het, tot die kleinste fynste dingetjies🙏🏻

  • Dis sal so lekker wees om “Guide to Seabirds of Southern Africa (Peter Ryan)” te wen d.m.v. Krag Dag. Dis sal my meer insig gee aangaande seevoëls langs die Suid-Afrikaanse kus.

  • Ek het al verskeie Veldgidse aangeskaf, maar het nog niks oor Spinnekoppe nie. Ons het onlangs vanaf die plaas getrek na die buurdorp, waar ander soorte spinnekoppe voorkom as op die plaas. Hierdie SPINNEKOP Veldgids sal my help om my nuwe omgewing beter te ken en te verstaan……

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui