
Boekoorsig: Storiekos
Ek is altyd opgewonde wanneer daar ‘n splinternuwe kookboek op my lessenaar beland. Daar is min dinge wat vir my so lekker is soos om die resepte van interessante disse te bestudeer en na die verleidelike foto’s daarvan te kyk. Deesdae is kookboeke mos ook propvol wenke, raad en lieflike vertellinge. Dit is nie net onpersoonlike versamelings van resepte nie maar gee die leser ook ‘n kykie in die skrywers of opstellers daarvan se lewe – gewoonlik ‘n heerlike nostalgiese terugblik of kykie na ander kulture se kos- en smaakervaringe.
Frik de Jager se resepteboek getiteld Storiekos: op reis na resepte stel op geen manier teleur nie. Dit het onlangs by Naledi verskyn en is opgedra aan sy geliefde Rory. Dit word op die agterblad beskryf as “veel meer as net nog ‘n kookboek”. Diegene wat van reis, mense en hulle stories hou en daarby nog lief is vir kook, sal hierdie boek van waarde vind. Dit beslaan 105 bladsye en het ook volkleurfoto’s.
Die lokteks lui: “In Storiekos nooi Frik jou uit om saam met hom op reis te gaan vanaf die Karoo tot in Kaïro en van Rusland tot in Rome. Dit is ‘n kos-reisverhaal waarin hy sy passie vir ‘peasant food’ of plattelandse kos deel – resepte en stories van mense en ervarings versamel oor ‘n tydperk van bykans vier dekades. Hy deel die eenvoud en opregtheid van hierdie geregte wat die toets van tyd weerstaan het en deur die jare aangepas is in die kombuise van generasies van huiskokke. Op sy reise dwarsoor die wêreld het mense hom ingenooi in hul huise en harte, die geheime van ou familieresepte met hom gedeel en het hy saam met hulle baie van hierdie disse leer kook in plattelandse kombuise en klein restaurante.”
Frik, ‘n jare lange gereelde gas op RSG se Klets en Kook-program en voorheen die eienaar en bestuurder van ‘n paar restaurante, skryf in die Inleiding dat hy van kos en omtrent alles van kos hou, veral “die voorbereiding met verskillende geure, speserye en kruie en bestanddele – vreesloos en met vreugde en geduld”. Hy reken dat ons bang is om te kook en ons inisiatief en selfvertroue in die kombuis verloor het omdat ons voel ons moet met glanssjefs, kosprogramme en koffietafel-resepteboeke meeding. Hy skryf: “Bog, sê ek. Gryp jou voorskoot, maak oop die deur van jou koskas en begin speel sonder vrees of twyfel! Onthou, jy is nou die glanskok en net jy bepaal die eindproduk. Nie die glanssjef of die bykans onverstaanbare resep of koffietafelfoto’s nie – jy kies die bestanddele en is in beheer van die proses en beloon jouself met jou eie Michelinster aan die einde.”
Frik vertel tong in die kies dat sy ma se water gebreek het terwyl sy besig was om die Kersmaal voor te berei. Hy is op 26 Desember gebore “steeds soekende na die geure en reuke van die Kersfeesmaal” en reken dat sy kosstories en liefde vir kook dus reeds voor sy geboorte “gebore” is. Storiekos maak ‘n wye draai en die leser vergesel Frik na onder meer Londen, Basel, Praag, Turkye, Spanje, Frankryk, Rusland, Portugal, Marokka, Venesië, Pelgrimsrus, Rosendal en die Karoo. Telkens skets hy die agtergrond van die plek en gee lieflike beskrywings wat hy met lewendige vertellinge opdis gevolg deur liplekkerresepte.
Hier volg net ‘n paar resepte wat in die boek is: Halusky tradisionele straatkos – meel-en-speksnysels; Rafelvark – sigeunerstyl; Panelle – kekerertjiefritters; Veldwagterskos; Giouvetsi – pastagereg; Fasolada – Griekse bonesop; Pincho’s – vark-of hoendersosaties; Spaanse hoender; Mosselsop; St. Joseph se korma-hoendergereg; Olga se Russiese filet; Koninklike visgebak; en Marokkaanse hoender. Ek hou egter die meeste van sy resep vir die lewe op bladsy 103. Dit sluit 5 koppies liefde en 3 koppies vergifnis in.
Skaf gerus jou kopie van Storiekos: op reis na resepte hier aan of koop/bestel dit by jou naaste boekwinkel.
Kompetisie
Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n eksemplaar van Storiekos: op reis na resepte wen. Die boekprys kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 November 2025.

nou is ek honger
As ’n trotse Suid-Afrikaanse kosliefhebber wil ek graag die wêreld proe deur hierdie bladsye. Elke resep is soos ’n paspoortstempel – ek kan nie wag om wêreldwye kookkuns in my kombuis op te tower nie!