Plaasaanvalle en landelike veiligheid TLU-SA
Henry Combrink van TLU-SA praat oor landelike veiligheid en hoe gemeenskappe kan optree om hul omgewing veiliger te maak.
Na 1994 het georganiseerde landbou die regering genader oor die kwesbaarheid van die landelike gemeenskap weens die ontbinding van die kommandostelsel. Hulle het gepleit vir ‘n vervangende landelike beveiligingstruktuur. Helaas, weens staats- en politieke beperkings, het daar min van gekom en die strukture wat wel deur die staat op die been gebring is, is gebrekkig. Dit hang af van die ingesteldheid van polisiestasiebevelvoerders en veiligheidskoördineerders.
Die realiteit is dus: Jy kan nie jou veiligheid aan ander delegeer nie; dit bly jou primêre verantwoordelikheid om jou huis en omgewing veilig te hou. Daarom probeer TLU-SA altyd om boere by plaaswagstelsels en gemeenskapsveiligheidstrukture te betrek. Dit is belangrik dat boere weet hoe om in verskillende scenario’s en omstandighede op te tree.
Die grootste probleem met landelike veiligheid is dat die polisiestasies onvoldoende is. Dit is ‘n arbeidsintensiewe onderneming wat vereis dat die polisiemag plaasbesoeke moet doen om met boere te kommunikeer en probleme aan te spreek. Hierdie werk moet op stasievlak gebeur, maar daar is groot logistieke uitdagings, wat veroorsaak dat dit nie oral effektief is nie.
Jou naaste bure bly maar die eerstes wat moet reageer in ‘n noodsituasie, en hulle moet die nodige vaardighede hê om effektief op te tree. Dit is belangrik om die toneel te beveilig en te sorg dat alles forensies korrek hanteer word.
Kortom: Elkeen moet verantwoordelikheid neem vir sy eie veiligheid en bereid en gereed wees om ander in noodsituasies te hulp te snel. Die staat gaan en kan dit nie doen nie.