Vat self die stuur – vorm saam ‘n vloot

Die mediadekking van die pas afgelope G20-beraad het feitlik uitsluitlik gefokus op:

  • Die geskarrel om Johannesburg se strate, as reisroetes van internasionale regeringsleiers tydens die beraad, in ‘n respektabele toestand te kry (na dit vir drie dekades gelaat is om te verval en ten gronde te gaan) met die vals voorstelling dat dit ‘n ware beeld van die toestand van Suid-Afrika bied.
  • Die gebruik van die beraad deur Cyril Ramaphosa as ‘n narsistiese “shine vang” geleentheid deur met verwaande bravade groot meneer te speel teenoor die VSA en om witvoetjie te soek by Europese- en ander moondhede se regeerders, in aandagafleiding van sy en die ANC se vernietigende en selfverrykende praktyke en ten koste van ‘n samelewing wat kwyn.
  • Ramaphosa se blatante en moedswillige leuen, deur die voorhou van ‘n beweerde konsensus G20 Leiers’ Deklarasie aan die einde van die beraad. Om as sodanige deklarasie bekend te staan vereis die reëls dat al die G20 lande se leiers daarvan moet deel wees en dit eenparig moet onderskryf – nie een van hierdie vereistes is aan voldoen nie.

Die indruk wat Ramaphosa skep is dié van ‘n kaptein wat die “Titanic”, teen alle waarskuwings in, teen die ysberg vasgestuur het (want sy skip is mos onsinkbaar) en daarna die passasiers in die skip se onthaalsaal se aandag op leuenagtige manier af te lei van die skade wat hy veroorsaak het, vol te hou dat die skip op die regte pad is en die toehoorders met kwinkslae te vermaak. Dit alles terwyl hy met sy multi-biljoenrand buit ‘n privaat reddingboot vir homself laat voorberei vir wanneer die finale uur aanbreek.

Die skyn in die onthaalsaal verhoed egter nie dat die skip sink nie. Om die waarheid te sê versnel sy optrede aldaar die sink van die skip met al die gevolglike skade, aangesien hy die tyd wat hy aan hierdie mannewales spandeer, eerder kon gebruik het om te red wat te redde is.

Sy speel met die leeu se snorbaarde veroorsaak dat daar tans wetgewing in die VSA voorberei word vir ekonomiese samewerking met Afrika, met die pertinente uitsluiting van Suid-Afrika. Die groot skade kom nog. In ‘n vorige artikel is daar reeds die beoordeling gemaak dat daar in die ganse geskiedenis geen ander persoon was wat soveel ekonomiese skade en vernietiging van menselewens in Suid-Afrika veroorsaak het, soos Ramaphosa nie.

Suid-Afrika se insluiting by die G20, is nie te danke aan die grootte van Suid-Afrika se ekonomie nie, maar is bloot ‘n “token” lidmaatskap om darem ‘n Afrika-staat ook in te sluit (daar staan omtrent twintig state voor hom in die lyn tussen hom en die kleinste ander deelnemer in die G20). Dit sal dus nie verbaas nie, as Suid-Afrika binne die afsienbare toekoms deur ‘n ander Afrikastaat in die hierdie posisie vervang word nie. Trump het reeds aangedui dat Suid-Afrika nie uitgenooi sal word na die G20 beraad in 2026 nie en dat Suid-Afrika as gevolg van Ramaphosa & kie se kwaadwillige optrede geen verdere betalings en subsidies sal ontvang nie.

In hierdie artikel is Ramaphosa egter maar net die voorbeeld. Die kritiek geld ook vir ander politieke- (dink aan John Steenhuisen) en regeringsleiers – dit blyk bv. ook uit die meedoen aan die skyn en leuens van Ramaphosa by die G20 beraad.

Dit bring ons by ‘n dieper besinning oor wat die oorsaak van hierdie falende regeringsbedeling in die wêreld is. Ten spyte van soveel moderne demokratiese state se degraderingstendens, word demokrasie steeds met geloofsywer verabsoluteer, en is enige bevraagtekening daarvan tradisioneel as taboe beskou. Mens kry dikwels in reaksie op mislukte kommunistiese/sosialistiese state, die verweer dat die ideologie net nie reg uitgevoer was nie. ‘n Soortgelyke verweer vir die falings van demokrasie, word nou ook soms gehoor. Miskien is hierin die eerste gunstige teken van die erkenning van ‘n mislukkingskiem inherent aan geykte demokrasie.

Demokrasie is boonop oneerlik gebaseer op ‘n beweerde sosiale kontrak, wat nog nie deur ‘n enkele persoon geteken is nie. Miskien kan ‘n werklik getekende sosiale kontrak juis deel van die oplossing wees.

Vir solank voorskriftelike dwang en regeringsmags-absolutisme nie vervang word met ‘n klem op vrywilligheid nie (selfs in samehang met demokratiese prosesse), is ons gedoem tot ‘n toenemend tiranniese slawerny samelewing (ongeag van die goeie bedoeling van die tiran self). CS Lewis het dit goed gestel:

My contention is that good men (not bad men) consistently acting upon that position [imposing “the good”] would act as cruelly and unjustly as the greatest tyrants. They might in some respects act even worse. Of all tyrannies, a tyranny sincerely exercised for the good of its victims may be the most oppressive. It would be better to live under robber barons than under omnipotent moral busybodies. The robber barons cruelty may sometimes sleep, his cupidity may at some points be satiated; but those who torment us for our own good will torment us without end for they do so with the approval of their own conscience. They may be more likely to go to heaven, yet at the same time likely to make a Hell of earth. This very kindness stings with intolerable insult. To be “cured” against one’s will and cured of states which we may not regard as disease is to be put on the level of those who have not yet reached the age of reason or those who never will; to be classed with infants, imbeciles, and domestic animals.

KragDag se filosofie staan lynreg hierteenoor.

Ons glo nie in voorskryf nie – ons glo in voorbeeld stel.

Nie in beheer nie – maar in bou.

Nie in wag nie – maar in doen.

En daarom is dit die vraag waarmee elkeen van ons moet sit: Wat kan ek doen om myself, my gesin en my gemeenskap op te bou?

Die waarheid is eintlik eenvoudig: Die toekoms word nie gebou deur politieke toesprake, beloftes of regeringsplanne nie. Dit word gebou deur mense wat bereid is om self aan te pak – om te werk, te bou, te leer, te skep en nuwe ondernemings op die been te bring.

Gemeenskappe groei wanneer gewone mense praktiese stappe neem: wanneer iemand ’n klein onderneming begin, ’n diens aanbied, ’n stuk grond benut, ’n vaardigheid deel, of ’n probleem oplos. Entrepreneurskap is nie ’n modewoord nie – dit is die fondament van werkskepping en plaaslike stabiliteit. Dit is hoe gemeenskappe sterker, veiliger en meer onafhanklik word: wanneer mense met vryheid én verantwoordelikheid onderneem.

Dít is staatsbestandheid: die besef dat jou sekuriteit nie by die staat lê nie, maar in jou vermoë om vir jouself en jou gemeenskap te bou.

Dít is selfstandigheid: nie isolasie nie, maar praktiese verantwoordelikheid. Die vaardigheid en ingesteldheid om te kan doen, onderneem, produseer, oplos en saamwerk – omdat werklike vooruitgang by jou begin, en sterk word wanneer gemeenskappe dit saam doen.

KragDag vier presies hierdie gees: dat gemeenskappe ‘n land bou wat hulle wíl hê, sonder om op toestemming te wag. Dat mense hul toekoms self vorm – nie deur eise aan ander nie, maar deur die verantwoordelikheid wat hulle vir hulleself neem.

En daarom is dit die vraag waarmee elkeen van ons moet sit: Wat kan ek doen om myself, my gesin en my gemeenskap op te bou?

Want dit is hoe ons vorentoe beweeg.

Deur die stuur in jou eie hande te vat – deur ‘n vloot met ander selfstandige stuurmanne om jou te versamel.

Elkeen op sy eie voete – maar nooit alleen nie.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui