Boekoorsig: Dagstukboeke vir laerskolers

KragDag-lesers maak erns met die Woord en leer ook hulle kinders van God se weë. Christian Art Publishers publiseer Dagstukkies en gebede vir dogters en Dagstukkies en gebede vir seuns. Beide hierdie sagtebandboeke is vir laerskolers tussen 8 en 12 jaar oud bedoel en ouers kan dit met ‘n geruste hart vir hulle kinders aanskaf.

Elke oordenking bevat ‘n kort oggendstukkie en Bybelvers sowel as ‘n aandgebed. Dit pas alles op een bladsy in en help kinders om die dissipline aan te leer om God soggens en saans op te soek. Die dagstukkies bied geestelike pitkos op die kind se vlak.

Ek hou van die feit dat die boekies nie kinderlik lyk nie, tog só belangrik vir veral ouer kinders se beeld. Die bladsye is baie mooi met randpatrone versier. Elke boek het ook ‘n bladsy voorin waarop die kind se naam met ‘n boodskap geskryf kan word.

Indien ouers saam met jonger kinders wat nog nie baie leesfiks is nie hierdie dagstukkies lees, kan dit lei tot spesiale koestertye en die geleentheid skep om vrae te vra. Meer bedrewe lesers mag dalk verkies om die boeke op hulle eie deur te werk.

Hier onder vertel ek meer oor elke boek:

Dagstukkies en gebede vir dogters

Die agterbladteks lui: Die 365 dae is verdeel in ‘n kort en kragtige dagstukkie […] om kinders te help om God te leer ken terwyl hulle lees en bid oor onderwerpe wat deel van hulle lewe vorm, soos keuses, gebede, vriendelikheid, uithouvermoë, liefde, respek en vele meer.

Die bemoedigende oordenkings en inspirerende gebede herinner meisies daaraan dat God hulle liefhet en net die beste vir hulle wil hê. Lewenskwessies, soos onder meer geloof, vriendskap en vergifnis, word op ‘n gemaklike geselstrant aangebied en kom nie as prekerig oor nie.

Hier is ‘n voorbeeld uit een van die gebede: “Here, ek wil U volg, maar soms is dit moeilik. Soms wil ek nee sê. Ander kere voel dit of ek wil weghardloop … selfs wanneer ek weet dit is nie die regte ding om te doen nie. Dankie dat U by my is as ek sukkel. Ek weet U sal my nooit verlaat nie. Gee asseblief vandag vir my die krag om die dinge te doen wat U van my vra. Amen.”

Skaf jou kopie van Dagstukkies en gebede vir dogters by goeie boekwinkels aan of kry dit hier.

Dagstukkies en gebede vir seun

Die agterbladteks lui: Die 365 dagstukke […] verseker van God se krag, teenwoordigheid, liefde en heling. Hulle sal God leer ken en sy liefde, omgee en plan vir hulle lewe beter verstaan.

Seuns ontdek die heerlike versekering dat God met hulle is en hulle baie liefhet. Die oordenkings en gebede help seuns om ‘n nou band met hulle hemelse Pa te smee en na Hom te gaan met lewensvrae en probleme en ook om vertroosting te vind.

Hier is ‘n voorbeeld uit een van die oordenkings: “God het vir jou unieke sterkpunte gegee sodat jy die uitdagings in jou lewe kan oorwin. Dit sal nie altyd maklik wees nie. Selfs sterk mense het oomblikke van swakheid, maar in God het jy ‘n vriend en iemand wat jou kan help. Hy sal altyd daar wees om jou moed in te praat in moeilike tye. Deur beginselvas te wees, bult jy jou tipe spiere.”

Skaf jou kopie van Dagstukkies en gebede vir seuns by goeie boekwinkels aan of kry dit hier.

Ek beveel beide dagstukkieboeke aan.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van Dagstukkies en gebede vir dogters wen. Nog twee lesers kan elk ‘n kopie van Dagstukkies en gebede vir seuns wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om dalk vir die pryse in aanmerking te kom moet jy hier onder in die kommentaarveld vertel of jy ‘n dagstukboek vir ‘n seun of vir ‘n dogter sal verkies. Sluitingsdatum 30 Junie 2026.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

4 Comments

  • Dit sal ‘n groot voorreg wees om my kleindogter hieraan bloot te stel en elke aand ‘n stukkie te lees en ook ‘n gebed. Dit is geweldig belangrik om ons kinders naby aan God groot te maak, want Hy is ons enigste verlosser waarop ons kan vertrou.

    • Baie geluk, George, jy wen ‘n kopie van Dagstukkies en gebede vir seuns. Ons sal met jou in verbinding tree.

  • Dit sal so n groot geskenk wees vir my kleinkinders veral my oudste kleindogter wat my gereeld vra vir iets om te lees “enige iets asb ouma”

    • Baie geluk, Anna, jy wen ‘n kopie van Dagstukkies en gebede vir dogters. Ons sal met jou in verbinding tree.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui