Boekoorsig: Herman se tafel

Herman Lensing se jongste resepteboek getiteld Herman se tafel is pas deur Penguin Books uitgegee. Die boek beslaan 192 bladsye en bied tien unieke spyskaarte, elkeen gebaseer op ‘n tema waarby al die gange – voorgereg, hoofgereg, nagereg en meer – inskakel. Hierdie resepte is, volgens die lokteks, “saamgestel met kundigheid en styl, maar is deurgaans toeganklik, aanloklik en bevat maklike bestanddele”.

KragDag-lesers is hartlike kuiermense vir wie familie en vriende belangrik is. Hierdie kookboek is vir seker die ideale gids vir wanneer jy wil onthaal.

Herman wys jou selfs hoe om jou tafel te dek. Hy haal dus al die moeite uit die ervaring om ‘n paar vriende oor te nooi vir samesyn en ‘n onvergeetlike ete. Die volgende aanhaling resoneer met my: “Vir Herman is die kuiertafel die hart van die huis en van saamwees – van bande versterk en van vriendskappe smee – ‘n simbool van alles wat mooi en goed is. ‘n Tafel is waar ons die onthou van môre skep.” Van my mooiste herinneringe is rondom ‘n etenstafel saam met hartsmense wat ‘n maaltyd saam met my geniet.

Dit is wel ‘n bederf om gaste vir ‘n ete by ‘n restaurant te nooi, maar dit bly ‘n grootliks onpersoonlike ervaring wat jou ‘n hele paar rand uit die sak sal jaag. Wanneer jy egter geliefdes na jou huis toe nooi en die disse self beplan en voorberei, word dit ‘n weergalose intieme ervaring wat jou (en hulle) lank bybly. Dit is immers ‘n Bybelse opdrag om gasvry te wees.

Ons lees in Herbreërs 13:2 (AFR2020): “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.” En dink net hoeveel keer het Jesus vir mense kos gegee. Ons lees byvoorbeeld van die keer toe die dissipels ná ‘n nag op die see aan wal gegaan het: “Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook.” (Joh. 21:9, AFR83) Dit was die derde keer dat Jesus aan hulle verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is (v. 14).

Arina du Plessis Huysamer skryf in die voorwoord só oor Herman se tafel: “‘n Versameling besonderse tafels geïnspireer deur Herman se passie om mense se lewens mooi te maak met die liefdesoffer wat hy so goed ken en so mildelik deel – fantastiese kos. ‘n Tafel bring mense saam, en kos is die middel tot die samekoms; die hartklop. Dit is saam aan tafel waar die spesiaalste dae in ons lewens gevier word, en ons mooiste herinneringe vorm aanneem.”

Herman reken: “Om mense vir ete te nooi is die grootste liefdesoffer wat jy kan maak, want dis iets wat jy vir ander doen. Jy reël ‘n bymekaarkomgeleentheid vir mense wat jy met die hand gekies het. Dan is dit die groot beplanning wat afskop: eers die datum, dan die gaste, dan die tema of dekor en, heel laaste, die spyskaart.” (8)

Hy skryf ook: “Ek het hierdie boek geskryf om fees te vier. Om jou te oorreed dat feesvier – groot of klein – die lewe mooi maak. Dek dus maar daardie uitspattige tafel, of gebruik die mooi wat jy het. Kook groot met uitsoekbestanddele of kook klein met wat in jou kas is. Nooi mense met briewe, of kondig dit luidkeels aan vir jou gesin, want ons moet feesvier terwyl ons kan. Die lewe is baie kort en dinge verander tog so gou, maar jy het nóú die kans om messe te polish, glase te poets, tafeldoeke te stoom, blomme te rangskik, kerse te brand en jou tafel met daardie spesiale borde te dek. Kook, beplan en doen moeite, want die tafel staan reg.” (9)

Herman se tafel is in vele opsigte ‘n besonderse boek. Nie net is die spyskaarte uniek en die disse aptytwekkend nie, maar die uitsonderlike volkleurfoto’s, stilering, bladuitleg en puik geskryfde vertellinge is ook indrukwekkend. Herman skryf byvoorbeeld oor die Kalahari: “In die Kalahari is God se engele elke dag rondom jou, soos ‘n buurvrou wat vinnig stop en ‘n sakkie skuinskoek kom aflaai, of dáái boer met sy ruim hand wat ‘n sakkie dadels of sultanas kom aflaai.” (14)

Die tien hoofstukke se opskrifte is Kalahari toe! Eerlike kos, ‘n goeie begin; Ouma se kombuis vir nóú se tafel; Spierwit: Mooi, skoon, nuut; Eet Italiaans met ‘n knertsie Suid-Afrikaans; Immergroen uit die kruietuin; Koel kuier, geurige kos; Knus tafel: Kuier by die see; Teetafel: Van soet tot sout met ‘n skeut rooibos; Spogtafel: ‘n Dinner party met swier, en Kom sit! Elke hond kry sy dag.

Die spyskaart vir die Kalahari toe!-tafel is: kondensmelkkoffie; botter, koffie en beskuit; askoek met korrelkonfyt; krummelpap met kaiings en melk; staanrib (skuinsrib); boerewors met regte tamatiesmoor; toeka se tasselvleis, en skuinskoek (of soos Herman dit noem, Kalahari-doughnuts).

Herman se tafel is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. Bestel dit ook hier.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van Herman se tafel wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel hoekom jy graag ‘n kopie sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2026.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

7 Comments

  • Onopgesmuk sonder die aansitterige oe’s en aah’s wat jy by deesdae se kosmeesters vind – ‘n ware bruikbare kookleesboek.

    • Baie geluk, Peet, jy wen ‘n kopie van Herman se tafel. Ons sal met jou in verbinding tree.

  • Alhoewel ek nie self kan kos maak nie ,is my vrou die ou wat ons magies vol hou.Ek kyk graag programme van Herman op die TV en kry dan ook lus om dit self te probeer.Nie net lyk dit lekker nie maar ek kry selfs lus om dit self te probeer.Met so n boek,en fotos,kan dit dalk net my eerste keer wees.

  • Ek self kan nie kosmaak nie maar met n boek soos die,met fotos,kry n ou lus en kan ek dalk net self probeer.Ek kyk graag na programme op TV wanneer Herman kos maak.Dit lyk altyd so lekker.

  • Herman het uitstekende idees en maak lekker en interessante kos. Dit sal ‘n voorreg wees om van sy resepte te probeer en vir die gesin te bedien. Deur net die foto’s te kyk, maak mens sommer honger.

  • Hoe spesiaal sal dit nie wees om hierdie boek te besit nie

    • Baie geluk, Marie, jy wen ‘n kopie van Herman se tafel. Ons sal met jou in verbinding tree.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui