Boekoorsig: Besonderse reisboek vir leunstoelreisigers
Dop jy ook gereeld jou beursie om in die hoop dat daar genoeg rande en sente is om ‘n vakansie te onderneem? Vir baie van ons is ‘n wegbreek kus of Bosveld toe ons nie beskore nie – wat nog te sê van ‘n oorsese reis of twee. Fanie van der Merwe, bekende reisiger van formaat (volg hom hier op Facebook), se reisboek getiteld Fanie os oppie jas het onlangs by Naledi verskyn en bied die perfekte oplossing vir die ongelukkiges wat met Jan Tuisbly se karretjie moet ry, terwyl die res van die mensdom met ‘n groot gejuig hulle vakansietasse pak.
Die lokteks op die agterblad lui: “Met hierdie versameling reisstories neem Fanie die leser op ‘n warrelwindbesoek aan agt lande wat weinig op die gemiddelde reisiger se radar verskyn – Noord-Korea, Mianmar, Kambodja, Tibet, die Filippyne, Thailand, België en die uithoeke van die VSA. Pittige anekdotes, asemrowende foto’s en lighartige geskiedenisverwante vertellings maak van dié boek ‘n reisbundel soos wat nog selde in Afrikaans gesien is. Die vertellings sal verbluf en die foto’s sal betower, maar dis die humoristiese, tong-in-die-kies observasies wat selfs die mees huisvaste Jan Tuisblyer sal laat jeuk vir ‘n internasionale reis.”
As geskiedenisonderwyser aan internasionale skole, het Fanie al dikwels die geleentheid gekry om te reis. Vandag is hy die hoof van geesteswetenskappe by Dulwich College, ‘n gesogte internasionale skool in Suzhou, China. Sy nering en die heeltyd bytende reisgogga het hom al belastingpligtig in drie verskillende lande gemaak, naamlik die Verenigde Koninkryk, Saoedi-Arabië en nou ook China. Hy het al meer as vyftig lande besoek en beplan om na nog dubbel soveel te gaan.
Ek was so bevoorreg om die teksversorging van Fanie se manuskrip te doen en het dus die geleentheid gehad om verskeie kere met hom te korrespondeer oor die Van der Merwes se nomadiese leefstyl. Hy noem sy seun en vrou Kind en Kraai in die boek. Hulle laat hulle Fanie se reisplanne welgeval en hou hulle lywe ook baie graag toeris. Ek is elke keer verstom dat Fanie ná meer as twee dekades in die buiteland steeds so ‘n groot liefde en respek vir sy moedertaal koester. Hy praat en skryf suiwer Afrikaans, en dis net ‘n plesier om na hom te luister en sy skrywes te lees. Nie net is hy ‘n fyn waarnemer en mensekenner nie, maar hy beskik oor ‘n heerlike sin vir humor en ‘n raakvat manier van beskrywing. Hy neem homself nie te ernstig op nie en dryf graag die spot met homself. Ek het vele kere vir sy kwinkslae en gevatte opmerkings geskaterlag.
Fanie os oppie jas beslaan 344 bladsye en dosyne kleurfoto’s. Die boek is deurspek met QR-kodes wat lesers met hulle selfoon kan skandeer. Hulle word dan gelei word na ‘n webwerf waar Fanie sommer baie meer foto’s, video’s en agtergrond vertellinge deel. Die boek bied dus nie net ‘n opvoedkundige en vermaaklike leeservaring nie, maar ook ‘n besonderse interaktiewe lees- en kykervaring.
Lesers sal nie in Fanie os oppie jas kan lees hoeveel onderbroeke en pare kouse hulle moet inpak vir ‘n voorgenome reis nie. Hulle sal wel uit Fanie se oogpunt opwindende off the beaten track-ekskursies kan meemaak en die plaaslike inwoners se doen en late en gebruike leer ken. Fanie deel ook sy kennis oor geskiedkundige gebeure. Ek het saam met hom tussen die bladsye van die boek onder meer Elvis Presley se Graceland-woning besoek, ’n Grammy-toekenningsaand in Los Angeles bygewoon, by die Jack Daniels-distilleerdery aangegaan, ‘n rodeo-vertoning bygewoon, Berg Everest uitgeklim en getiekiedraai op ‘n plein in Noord-Korea.
Uittreksel:
My besoek aan Los Angeles was net ’n een-aand-affêre, maar ek kon darem ’n uur of wat afknyp om ’n draai in Hollywood te gaan maak. Wat internasionale besienswaardighede betref, is ek nie juis kieskeurig nie. Inteendeel. Gewoonlik is ek met baie min tevrede. In selfs die mees onbesonge toeriste-aantreklikheid sal ek as ’n reël net die goeie sien. Ek het egter die Hollywood Walk of Fame as teleurstellend ervaar – om dit nou sagkens te stel. Daar was geen afsperrings, inligtingsborde, toegangsgeld om te betaal of inderdaad énige fanfare van énige aard nie. Dit is in wese net ’n sypaadjie neffens kitskos- en aandenkingswinkels, met hordes bekendes se name in pienk sterre daarop aangebring. Glansryk is dit nie. Arme Bill Murray se ster was besmeer met ’n platgetrapte hamburger en ’n halfgeëte McFlurry het op Tom Cruise s’n gepryk. Die Walk of Fame? Nee wat, meer soos die Walk of Shame. (bl. 176)
Skaf gerus jou kopie van Fanie van der Merwe se Fanie os oppie jas hier aan. Dit kos slegs R350,00 per eksemplaar, wat spotgoedkoop is vir so ‘n dik boek met soveel kleurfoto’s.
Kompetisie
Naledi skenk ’n eksemplaar van Fanie os oppie jas aan twee gelukkige KragDag-lesers. Die wenboeke kan slegs na ’n adres in Suid-Afrika versend word. Om deel te neem aan die kompetisie en in aanmerking te kom vir die pryse moet jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy graag hierdie reisboek wil wen. Sluitingsdatum 31 Januarie 2025.
Ek volg Fanie al baie jare en bly net om die draai van sy alma mater – die Hoërskool Montana in Pretoria. Ek geniet sy pittige vertellings oor die mense en kulture wat hy al op sy reise teëgekom het. Ek het ook besondere waardering vir sy goeie oog vir ‘n foto! Sy vertellings oor sy besoek aan Noord-Korea het my verstom gelaat – dit is ‘n land waaroor ons so min weet en hy het my belangstelling in die donker deeltjie van die wêreld behoorlik geprikkel! Ek sal baie graag ‘n kopie van sy boek wil bekom en dit vir my ma en pa wil gee. Op amper 80 jarige ouderdom is hulle ywerige leunstoel reisigers en ek dink die boek sal die ideale Kersgeskenk vir hulle wees!
Wow Fanie, ons is trots op jou. Die boek is n moet vir elke Saffa wat al Europa getoer en in London gebly het.
Baie geluk Louise vir n goeie resensie!
Dit sal vir my so groot geskenk wees om al Fanie se avonture in een bundel te kan geniet. Sy skrywes het my al soveel plesier verskaf. Leunstoel reisiger van formaat, dis ek.
Groete uit die Karoo.
Ek wil graag die boek wen om hom vir iemand anders te kan skenk,ek het reeds een, en ek kan aan ‘n hele paar mense dink wat hom gaan geniet.
Ek is absoluut versotop Fanie se stories
Miskien is België die land wat die hoogste op my emmerskoplys lê van die lande wat Fanie beskryf, en omdat ek nie van nature ‘n waaghals op my eie is nie, maar wel ‘n goeie spanmaat…kind en kraai…is, sal ek baie graag saam met die skrywer en kie die hierdie lande ontdek, My paspoort is gereed.:-)