Om te staan en wag – het dit nut?
In die aanbieding van Prof Johan Slabber tydens die Akademia en Solidariteit se Kragopwekkingseminaar het hy tong-in-die-kies verwys na die wyshede wat admiraal Hyman Rickover kwytgeraak het. Die Engelse spreekwoord wat lui: “Many a true word is spoken in jest”, is egter in hierdie geval vanuit ‘n projekbestuursoogpunt baie waar. Admiraal Rickover het die volgende (vry vertaal) te sê gehad oor die aanskaffing van kernreaktors – waarskynlik vir aanwending in kernaangedrewe vlootvaartuie:
“ ‘n Akademiese reaktor of reaktor-aanleg het bykans altyd die volgende basiese eienskappe: (1) Dit is eenvoudig. (2) Dit is klein. (3) Dit is goedkoop. (4) Dit is nie swaar nie. (5) Dit kan baie vinnig gemaak word. (6) Dit is soepel of buigsaam vir aanwending. (7) Weinig ontwikkeling is nodig voor aanwending. (8) Die reaktor is in die studiefase van ontwikkeling en word nie tans vervaardig of gemaak nie.
Daarteenoor vertoon die reaktor in die Praktyk die volgende eienskappe: (1) Dit is in die proses om gebou te word. (2) Dit is agter in skedule. (3) Dit vereis nog ‘n enorme hoeveelheid ontwikkeling op klaarblyklik onbeduidende dinge. (4) Dit is baie duur. (5) Dit neem lank om te maak vanweë ingenieursontwikkelingsprobleme. (6) Dit is groot. (7) Dit is baie swaar. (8) Dit is baie ingewikkeld.
Die gereedskap van die akademiese ontwerper is ‘n vel papier, ‘n potlood en ‘n uitveër. ‘n Fout word maklik uitgeveë en verander. Maar sou die ontwerper van ‘n reaktor in die praktyk fouteer, dan dra hy die fout om sy nek. Dit kan nie uitgeveë word nie – almal kan dit sien!”
My nuuskierigheid is deur hierdie 4-ster-admiraal geprikkel en het toe bietjie oor hom opgelees. Hyman G. Rickover (27 Januarie 1900 tot 8 Julie 1986) was ‘n admiraal in die Vloot van die Verenigde State van Amerika onder wie se leiding die aanvanklike ontwikkeling van kernkragaandywing in die Amerikaanse Vloot gedoen is. Hy het het bekend gestaan as die “Vader van die Kernkragvloot” weens sy rol in die ontwikkeling van die eerste kernkragduikboot. Reeds in 1946 het Rickover die oortuiging gehad dat kernaangedrewe skepe, veral kernaangedrewe duikbote, die toekoms van die Vloot was. Hierdie gedagte was nie deur sy onmiddellike bevelhebbers gesteun nie. Hy het egter sy idees met Chester Nimitz, toenmalige Hoof van Vlootoperasies gedeel en met sy steun is ‘n Kernkrag-afdeling in die vloot onder Rickhover se leiding gevestig.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog het hy vir 30 jaar besluite oor die verkryging van oorlogskepe vir die Amerikaanse vloot beïnvloed. Admiraal Rickover was verder ook gemoeid met die ontwikkeling van die Shippingport-kernkragstasie, die wêreld se eerste kommersiële water-onder-druk-kernreaktor, wat vir opwekking van elektrisiteit gebruik is. Twee keer is die “Congressional Gold Medal” vir uitsonderlike diens aan hom toegeken – een van slegs 4 mense aan wie hierdie medalje ooit toegeken is. Op die rype ouderdom van 86 jaar is hy oorlede en in ‘n private seremonie begrawe. ‘n Paar dae later is ‘n gedenkdiens in Washington DC gehou. Op versoek van die admiraal se weduwee het oud-president Jimmy Carter Sonnet 19 deur John Milton, When I Consider How My Light is Spent (ook bekend as On his blindness), voorgelees. Hier het my aandag weer afgedwaal. Wat is die inhoud van hierdie gedig? Wat beteken hierdie gedig? Waarom het admiraal Rickover se weduwee versoek dat hierdie gedig gelees moet word?
Sonnet 19, meer bekend as “When I consider how my light is spent” is ‘n gedig van die Engelse digter John Milton (jr) wat geleef het vanaf 9 Desember 1608 tot 8 November 1674. Die gedig is na alle waarskynlikheid geskryf in die middel van die 1650’s nadat Milton sy sig verloor het. In die gedig word nagedink oor die fisiese en geestelike uitdagings wat die digter as ‘n blinde persoon het. Hy voel ontoereikend om die werk wat God vir hom gestel het uit te voer en hy is bekommerd dat hy sy vermoë om God te dien verkwis. In die tweede helfte van die gedig argumenteer die digter met homself dat God geen menslike hulp nodig het nie en dat daar baie maniere is om Hom te dien. Soos baie ander van Milton se gedigte, byvoorbeeld “How Soon Hath Time”, verdedig die digter die protestantse uitgangspunt dat saligheid deur die geloof bewerkstellig word, eerder as deur werke.
Waarom het Admiraal Rickover, wat Joods was, se weduwee hierdie gedig versoek? Ek dink die sleutel van die antwoord is te vinde in die leuse van die NWCA (Navy Wives Clubs of America) wat lui: “They Also Serve, Who Stay and Wait“. Mevrou Rickover was waarskynlik ook ‘n lid van die NWCA en moes seker dikwels in haar lewe die opoffering doen om vir haar baie besige man te wag.
Erkenning: