Depressie, spanning en uitbranding
CUM Boeke publiseer Johan Smith se boek getiteld Depressie, spanning en uitbranding. Hy verduidelik in hierdie tweede uitgawe wat pas vrygestel is hoe mens dié breinsiekte, een van die mees verlammendste siektes in die wêreld, kan herken en hanteer en verduidelik ook watter maatreëls getref kan word om dit te voorkom of te oorwin. Ek beveel die publikasie propvol praktiese, waardevolle raad en riglyne oor hoe die siekte hokgeslaan kan word, heelhartig aan.
Smith dra die boek op aan sy seun, Dirkie, wat werklik deur ’n baie swaar tyd gegaan het om depressie te oorwin. Hy skryf in die voorwoord dat hy spesifiek genader is om die boek te skryf omdat sy gesin eerstehands deur depressie en uitbranding geraak is. “[D]ie swart hond van depressie of die groot ‘D’ … was vir ’n geruime tyd ’n kuiergas in ons huis wat spesifiek my seun (en daarom die hele gesin) verrinneweer en verniel het. … Daarmee saam is daar my eie storie van uitbranding wat my soos ’n woedende wolf bekruip en amper vernietig het.”
Hoewel Depressie, spanning en uitbranding nie ’n wetenskaplike boek is wat biologiese of fisiologiese navorsing bevat nie, leer mens geweldig baie van ’n ingewikkelde siekte met baie probleme. Jy gaan nie hierin detail vind oor al die soorte depressies nie. Ook nie ’n ontleding van die brein en hormone of die verskillende medikasies en dié se voor- en nadele nie. “Mense se eie stories, sommige baie hartseer en verpletterend, vorm … die onderbou van hierdie boek,” skryf Smith. Hy het doelgerig baie gelees, navorsing gedoen en sy hart uitgeskryf om aan lesers ’n onthutsend eerlike leeservaring te bied. Sy wens is dat lesers aan die einde van die boek saam met hom sal uitroep: Daar is hoop! Verskeie mense, waaronder die bekende skrywer Alta (Marilé) Cloete, deel hulle ervaringe met en van depressie.
Hoofstukke 1 en 2 handel oor die Smith gesin, maar veral oor Dirkie, hulle vroeggebore baba, wat reeds in graad een erge angs ontwikkel het. Gedurende sy universiteitsjare het depressie in felheid toegeslaan. Dirkie se suster Marli skryf dat dit vir haar baie sleg was om hom so te sien, want sy was gewoond aan ’n lewendige, energieke en humoristiese Dirkie. Smith skryf: “Hy was in diep depressie vasgevang en het in die spreekwoordelike diep, donker gat gesit. In daardie gat was daar geen teken van hoop nie; daarom wou hy nie meer lewe nie. Hy het glad nie meer kans gesien vir die lewe nie. Die dood het werklik vir hom aantrekliker gelyk as sy aaklige lewe en donkerte wat hy op daardie oomblik ervaar het. … Jou kind kan homself nie regruk as hy só voel nie. Jou kind kan nie reageer op woorde van aanmoediging soos ‘byt vas’ nie” (22).
Henk Gous – ’n pa wat sy depressiewe dogter aan selfdood afgestaan het en daarna saam met sy vrou, Ansie, ’n boek getiteld As ’n kind se lag verdwyn geskryf het – beskryf depressie nie net as ’n moedeloosheid en terneergedruktheid nie. “Dis ’n mediese toestand wat ’n mens se liggaam, denke, gevoelens en gemoed beïnvloed. Die oorsaak van depressie is ’n wanbalans in die neurochemiese oordragstowwe in jou brein. As daar genoeg serotonien tussen die senuwee-eindpunte is, kan jy glimlag en goed voel oor lekker dinge. As daar egter ’n tekort aan serotonien is, is alles om jou donker, al skyn die son helder vir ander mense (40, 41).
Dirkie benadruk self die noodsaaklikheid van die rol van ’n psigiater, voorgeskrewe medikasie en die belangrike rol wat terapie in sy uitendelike herstel gespeel het. Hy het ná sy eerste tekens van beterskap begin getuig oor sy ervarings en mense vanuit sy ervaringswêreld begin raad gee oor depressie. Die uiteindelike boodskap van die boek is dat depressie ’n ernstige en selfs lewensbedreigende siekte is, maar dat daar wel hoop op herstel is vir depressielyers. “Dinge het vir my verander toe ek bewustelik die kopskuif gemaak het van lyer na vegter en doelbewus begin soek het na dinge wat ek self kan doen om my te help. Dis waar die draaipunt vir my gekom het” (54, 55), getuig Cloete. Sy noem ook dat depressielyers nie alleen negatiewe gedragspatrone kan verander nie. Hierdie boek rus depressielyers sowel as hulle geliefdes toe om die siektetoestand beter te verstaan en te bestuur.
Meer oor die skrywer: Johan Smith is ’n skrywer, prediker en spreker. Hy bedien landswyd ’n wye spektrum van mense, soos die jeug, ouers, gesinne, mans en vroue. Daarby fokus sy nie-winsgewende maatskappy, VitaAmp, op bediening aan die jeug, onderwysers, skoolhoofde, predikante en gewone lidmate.
Depressie, spanning en uitbranding beslaan 175 bladsye en 16 hoofstukke. Dit is by deelnemende boekhandelaars beskikbaar, maar kan ook hier bestel word.