Bemarkingswenke

Met KragDag se ekspo wat binnekort plaasvind, is dit dalk ’n goeie idee om jou verkoopstrategie op te skerp.

Dis is nie genoeg om bloot ’n stalletjie te beman en jou produk of diens ten toon te stel nie. Dit maak nie saak of jy ’n reusemaatskappy met ’n advertensiebegroting van miljoene rande verteenwoordig en of jy sommer iets smaakliks in jou eie tuiskombuis voorberei en wil verkoop nie, die goue reël vir optimale bemarking bly dieselfde – wees sigbaar! Jou voornemende kliënte of klante sal nie van jou weet indien jy nie jouself aan hulle bekendstel op verskillende innoverende wyses nie. En natuurlik moet jy hulle bewus maak daarvan dat hulle in werklikheid ’n behoefte het aan die diens of produk wat jy lewer en dat jý in daardie behoefte kan voorsien.

Die maklik om te sê adverteer. Maar hoe doen jy dit wanneer jy nie fondse het om groot bemarkingsveldtogte in koerante, tydskrifte en op TV te loods, reuse-advertensieborde op te rig en duursame volkleurplakkate te laat druk en versprei nie? Maklik! Jy maak gebruik van tegnologie wat gratis of amper gratis beskikbaar is, en jy dink buite die spreekwoordelike boks. Hou net ’n baie streng oog oor kwaliteit, want op die ou einde wil jy jou klante of kliënte nader lok en nie afskrik nie. Min dinge sit kopers so gou af as ’n advertensie wat se bewoording lomp voorkom en swak gespel is. Hê dus respek vir jou kopers en sorg dat jou advertensie teksversorg is.

Hier onder gebruik ek as voorbeeld ’n skrywer wat graag sy boek wil bemark. Jy kan egter met bietjie verbeelding dieselfde tipe strategieë toepas om jou produk of diens onder kopers se aandag te bring. Begin eerder vroeër as later.

  • Loods ’n kompetisie waarin ’n getekende kopie of twee van jou boek gewen kan word. Moedig inskrywers aan om die kompetisie te deel met hulle vriende.
  • Vra jou vriende, familie en kollegas om foto’s van jou boek wyd en syd op sodiale media te deel en iets daaroor te sê. Word by mouth bly een van die gewildste en mees suksesvolle bemarkingstrategieë.
  • Begroot vir ’n paar resensie-eksemplare en stuur dié gratis na resensente in die hoop dat hulle dit sal resenseer of iets daaroor sal sê op sosialemediaplatforms.
  • Loer op die internet rond vir boekeblogs of ander skrywers se webwerwe. Vra die bloggers of hulle oor jou boek sal blog.
  • Jy kan Facebook betaal om die plasings/advertensie oor jou boek ’n hupstoot te gee en meer sigbaar te maak.
  • Maak ’n kort, interessante video oor jou boek. Lees dalk ’n gedeelte voor ook. Plaas dit op YouTube, TikTok, Facebook, ens.
  • Verklaar jouself bereidwillig om onderhoude toe te staan, hetsy per video, podsending of e-pos.
  • Adverteer veral in jou eie gemeenskap waar jy bekend en bemind is. Stuur ook ’n resensie-eksemplaar na jou plaaslike gemeenskapskoerant en vra of hulle belang sal stel om ’n onderhoud met jou te doen.
  • Kontak skole en vra of jy jou boek mag kom bekendstel – al kry jy net 5 minute tydens saalperiode op ’n Maandag. Vra of jy ’n hoofstuk kan voorlees aan jou ouderdomspesifieke teikenmark, m.a.w. vir die grade waarvoor jou boek geskik is – kry die kinders opgewonde oor die boek en die stryd is halfgewonne. Wys ook die waarde van die boek uit aan onderwysers.
  • Kontak boekwinkels en vra of jy ’n ontmoet-die-skrywer-geleentheid in hulle winkel mag hou. Adverteer voor die tyd en daag betyds op met jou pen en boeke.
  • Kontak lees- en skryfkringe en ander groepe/verenigings in jou omgewing. Bied aan om oor jou boek te gesels.
  • Moenie van jou plaaslike en omliggende biblioteke vergeet nie. Die personeel is gewoonlik baie tegemoetkomend teenoor skrywers.
  • Kontak klein gemeenskapsradiostasies. Hulle sal dalk iets oor jou boek met hulle luisteraars wil deel, veral as jy jou beskikbaar stel vir ’n onderhoud.
  • Laat druk plakkate van jou boek se omslag en vra of jy dit iewers kan opsit waar daar baie voete is. Maak gebruik van vryskutkunstenaars en ondersteun só iemand wat ook ’n inkomste probeer genereer, of doen dit jouself deur van gratis ontwerpsagteware gebruik te maak.
  • Laat druk jou boek se voorblad op ’n paar pette of T-hempe en vra gewilde persone wat ’n groot aanhang het om dit te dra.
  • Sluit aan by Lekkerleesboekrak en Let’s Read / Kom ons lees op Facebook. Die skrywer, Alta Cloete, vertel ook van nuwe kinderboeke op haar groep, Afrikaanse boeke vir die jongklomp. Kyk ook na Boekemakranka en besoek Storiewerf en Boeke- en skryfnuus.
  • Vra jou uitgewer wat doen hulle om jou boek te bemark en ondersteun die inisiatief.
  • Help ander skrywers om hulle boeke te bemark. Die een hand was mos die ander.

Sterkte! Dis voorwaar nie maklik om jou diens en produk te bemark nie, maar dit is wel doenbaar. Die goue reël: Moenie wag dat dinge gebeur nie, máák dit gebeur. Wees proaktief en passievol asook selfversekerd en eerlik. Sorg dat jy gesaghebbend kan kommunikeer oor jou produk en diens en hou jou pryse billik. Moet ook nie vergeet van naverkopediens nie. Glo in jou produk of diens en oortuig jou voornemende koper om dieselfde te doen.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Dankie vir hierdie baie bruikbare artikel, Louise. Ek is n nuwe skrywer en reken ek het n agent nodig. Kan jy my verwys na n bron wat my kan inlig hoe om n agent te identifiseer?

    Dankie vir jou aandag.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui