4 kinderboeke met hart vir Kersfees

Die feesgety is op hande, maar – soos my oorle ouma sou sê – die sogenaamde Christsmas feeling ontbreek.” Ons ry met pap wiele én die brieke is aan. 2020 het baie van ons bloedneus én bloedbek geslaan, en dít sonder dat ons vooraf gewaarsku is dat ons kaalvuis in die kryt moet klim en vir oorlewing veg teen ’n supervirus. Covid-19 het die wêreld onverhoeds bekruip soos ’n wafferse ninja en links en regs pakslae uitgedeel. Baie van ons se beursies is boomskraapleeg na dese.

As jy gelukkig is, is jou salaris net gesny. Ander is afgedank of pakkette aangebied. Ondernemings het een na die ander gevou. In sommige gesinne het beide broodwinners eensklaps hulle inkomste – en in baie gevalle ook die dak oor hulle koppe – verloor. Werkloosheid en armoede het soos ’n verstikkende, donker wolk oral om ons kom lê. Voeg daarby die toenemende misdaad en wetteloosheid in die land en ook talle onbekwame politici wat die indruk skep dat hulle soos imbesiele met handgranate sokker speel. Boonop bedreig ’n tweede golf Covid 19-infeksies ons en gevolglik ook die moontlikheid van heringestelde strenger grendelmaatreëls.

Dis nie maklik om positief te bly te midde van hierdie uitdagende omstandighede en ellende nie. Wat nog te sê Kersfees vier! Maar as daar nou een ding is wat vuisvoos Suid-Afrikaners góéd kan doen, dan is dit om op te staan, plan te maak, en verbete voort te beur – want ons móét, verál vir ons kinders. Daarom is dit ook belangrik om wel na ’n stukkie normaliteit te gryp en te besin oor waaroor ons wel hierdie Kersgety blymoedig kan wees, want daar is áltyd iets om voor dankbaar te wees. Of jy en jou gesin dus Kersfees hou om godsdienstige redes, en of julle dit net as ’n vakansiedag beskou, neem hierdie jaar die doelbewuste besluit om elke oomblik daarvan te koester saam met jou geliefdes. Ons het gesien hoe verskriklik vinnig en onverwags die wêreld meteens asof buite beheer om ons kan begin tol, so kom ons neem die tyd om ons hartsmense te omhels en te konsentreer op dít wat werklik saak maak – mekaar.

Sou jy wel hierdie Kersfees bevoorreg genoeg wees om kersgeskenke te kan bekostig, wil ek graag voorstel dat jy boeke gee. Ek lys hier onder vier boeke wat jy met geruste hart kan oorweeg as geskenke vir kinders. Nie net sal jy kinderharte bly maak nie, maar ook skrywers en uitgewers ondersteun. Onthou, stories bring hoop, want dit “ontvoer” jou uit die hier en nou wat soms aaklig kan wees en neem jou op reis na dikwels wonderlike en magiese plekke waar dinge beter is. Saam met stories kom moontlikhede en ander wêrelde. ’n Kind kan in die mees armoedige omstandighede in ’n plakkershut woon, maar die aardbol en die heelal deurkruis as ’n skatryk koninklike tussen die blaaie van ’n boek. Stories kan kinders ook help om sin te maak van die deurmekaar wêreld waarin ook húlle leef.

 

Titel: My boek oor gevoelens (Stéphanie Couturier & Maurèen Poigonec)

Uitgewer: Penguin Random House

ISBN: 978-1-48590-068-9

Hierdie lieflike interaktiewe storie – wat deur ’n ontspanningsterapeut ontwikkel is – gee aan kinders raad oor hoe om hulle gevoelens te beheer deur insetsels en animasies in die boek te gebruik. Kinders leer hoe om emosies soos vrees, woede, jaloesie, blydskap, skaamheid, trots en hartseer te hanteer. Die pragtige illustrasies en gepaardgaande raad, voorstelle én verrassings maak van hierdie boek ’n heerlike en leersame leeservaring. Dit is die verhaal van klein Simone wat ’n aaklige tyd beleef waarin alles skeefloop, maar sy leer om haar gevoelens te erken en daardeur te werk. ’n Stukkie raad in die boek is bv. “Lag laat jou ontspan en help jou om minder angstig te wees. Voordat jy aan die slaap raak, dink aan iets snaaks wat met jou gebeur het.” Die boek is geskik vir voorlees én selflees. Bestel dit hier.

 

Titel: Storiekaros (Wendy Maartens & Megan Bird)

Uitgewer: LAPA Uitgewers

ISBN: 978-0-6396-0401-5

Dié feestelike bundel met meer as 30 geliefde stories, rympies en speletjies leer ’n kind speel-speel waardevolle lewenslesse soos goeie maniere en om twee keer te dink voordat jy kattekwaad aanvang. Die boek bied aan die ouer die geleentheid om saans tyd saam met die kind te spandeer en hulle te verdiep in ’n salig-droom-storie of ’n gaapwekkende slaaptydrympie. Dit neem die kind op ’n verbeeldingsreis saam met immergewilde karakters soos Tyl Uilspieël en Jakkals en Wolf. Boonop ontdek die kind bekende speletjies soos Klippiegooi, Wolf, Wolf, hoe laat is dit?, en Koljander, Koljander. Die volbladillustrasies is pragtig en die boekformaat lekker groot. Die bundel van 136 bladsye is geskik vir voorlees én selflees vir 5-jariges en ouer. Bestel dit hier.

 

Titel: Gediggies vir vrolike gesiggies (Aletté-Johanni Winckler & Wess-lee de Klerk)

Uitgewer: Lux Verbi

ISBN: 978-0-7963-2182-4

Hierdie besonderse bundel bevat 49 oorspronklike gediggies met verskuilde lesse wat lewensvaardighede op ’n spelerige en ligte trant oordra. Nie net leer die gediggies kinders van rym, saamspeel en om nie selfsugtig te wees nie, maar dit wys hulle ook daarop dat hulle God volkome kan vertrou en op Hom kan staatmaak. Die boek sal vir eindelose pret sorg, want nie net word elke gediggie kleurvol en verbeeldingryk geïllustreer nie, maar van dit is ook getoonset in heerlike saamsingliedjies deur onder andere Heinz Winckler. Die CD met 20 liedjies is by die boek ingesluit. Die bundel van 96 bladsye is geskik vir voorlees en selflees tot en met 8-jarige ouderdom. Bestel dit hier.

 

Titel: Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart (Ronél vd Watt & Mandé du Plessis)

Uitgewer: Naledi

ISBN: 978-1-928518-87-7

Hierdie baie spesiale kinderboek met ’n sosiale gewete bevat tien lekkerleesstories oor omgee, vriendskap en lojaliteit. Dit vertel hoe kinders in juffrou Ansie se klas traumatiese situasies, mediese toestande en verskillende gesinsamestellings ervaar en hanteer. Die outeur, ’n afgetrede kindersielkundige met 35 jaar se praktykervaring, pak gewigtige kwessies met deernis, sensitiwiteit en humor aan op ’n ouderdom-toepaslike wyse. Die stories gee aan kinders hoop, maak hulle bewus van ander se lewensomstandighede en dra by tot die ontwikkeling van empatie. Daar is ook agtergrondinligting oor elke storie se spesifieke tema en ook vrae om oor te gesels. Die boek beslaan 147 bladsye en is geskik vir voorlees én selflees tot en met 9-jarige ouderdom. Bestel dit hier.

Kyk uit vir die volgende nuusbrief waarin ek boeke vir tieners en volwassenes voorstel.

* Ter wille van deursigtigheid noem ek graag dat ek met Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart se redigering gehelp het.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui