Wanneer mense moet saamwoon
Onlangs hoor ek iemand ’n opmerking maak oor hoe duur lewensonkostes geword het en hoe al meer families (en in sommige gevalle vriende of selfs vreemdelinge) genoop word om by mekaar in te trek om kostes te help deel. Jong mense trek (dikwels met gesin en al) terug na hulle ouerhuis, of bejaarde ouers trek by hulle kinders in. Hierdie tipe saamwoonreëlings kan broodnodige finansiële verligting bied indien al die betrokkenes hulle kant bring en saamwerk. Nog ’n rede waarom mense verkies om saam te bly, is die betreurenswaardige misdaadsituasie in ons land. Dit is bloot net nie meer so veilig soos in die verlede om stoksielalleen te woon nie. Daar is veiligheid in getalle, hoor ons dikwels. Die bokkie wat afdwaal van die trop word dikwels deur roofdiere gevang.
Natuurlik is so ’n saamwonery nie gewaarborg om maanskyn en rose te wees nie. Sit verskillende persoonlikhede en generasies saam onder een dak, en jy kan jou maar regmaak dat misverstande en allerhande uitdagings aan die deur gaan kom klop. Mense is nie van nature goedgemanierd en bedagsaam nie. Wat vir een persoon werk, is vir ’n ander onaanvaarbaar. Kommunikasie, verkieslik voordat probleme ontstaan, is dus uiters belangrik. Die beste is dat saamwoners vooraf skriftelik met mekaar ooreenkom oor huisreëls en grense en streng daarby hou. Dis ’n goeie idee om ook vooraf oor wyses van konflikhantering ooreen te kom. Indien iemand nie sy of haar kant bring nie, wat sal die stappe wees om vir so ’n persoon kennis te gee? Vind dit alles uit alvorens jy net saam met iemand intrek omdat dit op die oog af lyk na ’n oplossing.
Hou gereeld huisvergaderings kompleet met notule en al. Bespreek vooraf wie verantwoordelik is vir wat en stel roosters op. Baie huise het byvoorbeeld slegs een kombuis. Kook een persoon kos en almal eet saam aan tafel? Of word daar beurte gemaak om te kook en op te ruim. Wie neem die vullis uit of versorg die tuin? Wie maak die huis skoon en doen die was- en strykwerk? En as julle ’n huis- of tuinwerker sou aanstel, wie betaal die persone en gee vir hulle hul opdragte betreffende elke dag se werk? Stel stort- of badroosters op. Hoe laat moet dit stil wees in die huis om vroegslapers in ag te neem? Ouer persone sal dalk eerder nie wil trappe klim na hulle slaapkamers nie, maar verkies om op die grondvloer te bly. Sou iemand dalk laat TV wil kyk of die sitkamer annekseer, hoe raak dit die ander persone in die huis? Hoe gemaak met gaste? En wat as daar klein kinders in die huis is wat wil hardloop en speel, maar Ouma en Oupa wil stilte en rustigheid geniet en nie oor speelgoed val wat oral rondlê nie.
Op die ou einde moet saamwoners daarop ooreenkom en hulle doelbewus verbind om mekaar se privaatheid te respekteer en daadwerklik saam te werk om ’n gelukkige hawe vir almal in die huis te skep. Hê geduld, wees aanpasbaar, behulpsaam en vriendelik. Hou ook jou neus uit die ander huisbewoners se sake. Moenie inmeng, kant kies, skinder of kwaadstook nie. Lewe met waardigheid en wees ’n seën vir ander. Saamwoon kán werk en vele voordele inhou. Onthou altyd dat ’n dak oor jou kop en kos in jou maag ’n groot voorreg en seën is wat baie ander nie geniet nie.
Gebruik natuurlike plante middels maar weet nog nie wat is reg en hoeveel van wat mag of most gebruik word nie en glo die boek sal net die regte ding wees om my pad op natuurlike medikasie voort te bou