So moet ‘n lekker skaap lyk!

‘N EERSTE VIR ‘N EERSTE! 

Diamond L Slaglampkompetisie te Sakeliga KragDag 2019 se Landbou Sub-ekspo!

Potjiekos, tjoppie oor die kole of tradisionele Skaapboud? Hoe ook al jy van hom hou, skaap- en lamsvleis bly ’n eg tradisionele Suid-Afrikaanse gereg! Lekkerrrrr……..

Hierdie jaar is ʼn GROOT een vir Sakeliga KragDag! In samewerking met TLU SA bied KragDag ʼn Landbou Sub-ekspo aan en die Diamond L Slaglamkompetisie – KragDag 2019 is een van die groot hoogtepunte.

Hoekom ʼn Slaglamkompetisie? Waaroor gaan dit? Hoe gaan ek as skaapboer (selfs al is my kudde klein) hierby baat vind?

Die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) het navorsing geïnisieer om die nutriëntesamestelling van Suid-Afrikaanse Lam te bepaal. Die RPO is baie nou betrokke met die SA Voerkraalvereniging om produksie van kwaliteit karkasse te verseker. Die AB–klas is deur die RPO aangevra en dit is duidelik dat die klassifikasie gesog is onder verbruikers. Die ideale karkas (SA Lam en Skaapvleis – A2) lyk soos volg:

  • Vet inhoud – Karkas 9.01 %
  • Vet inhoud – Boud 6.15 %
  • Hoog in vitamiene B1, B2, B3, B6, B12
  • Hoog in Fe (Yser) en Zn (Sink)
  • Goeie bron van CLA’s (Gekonjugeerde linoleïensuur)

Hetsy stoet- of kommersiële boer, vleis is die belangrikste faktor in jou bedryf! Wat is die kwaliteit van jou slaglammers?

Die Diamond L Slaglamkompetisie bied aan skaapboere (groot en klein) die geleentheid om die kwaliteit van hulle slaglammers te bepaal.

SAMIC (South African Meat Industry Company) is ʼn kwaliteitversekeringsorganisasie wat deur die RPO aangestel is om die klassifikasie en kwaliteit van Rooivleis te verseker. SAMIC se doelwit is om wêreldgehalte rooivleis te verseker. Deelname aan die Slaglamkompetisie bied aan die vleisprodusent die geleentheid om te bepaal in watter mate die karkasse wat sy slaglammers oplewer, aan die verbruikersmark se verwagtinge voldoen en dan die nodige aanpassings te maak om meer in lyn daarmee te kom.

Tydens die kompetisie word lammers eers op-die-hoef en dan weer aan-die-haak beoordeel. Dus kry jy as produsent die geleentheid om ondervinding op te doen met die seleksieproses wanneer uit die op-die-hoef beoordeling bepaal word wat die waarskynlike resultaat van die karkas van die geslagte lam gaan wees.

Die slaglamkompetisie word onafhanklik deur SAMIC volgens hulle standaarde en reëls beoordeel. In kort geld die volgende puntetellingstandaard (punte uit 100) vir inskrywings:

  • Massageskiktheid (5 punte)

Die optimale warm karkasmassa is tussen 14,0 kg tot 24,0 kg. Punte word op ‘n glyskaal afgetrek vir massa onder 14,0 kg en bo 24,0 kg. Minder as 11 kg en meer as 28 kg kry die karkas geen punte nie.

  • Vleis: Onderhuidse vetverhouding (65 punte)

Word met behulp van vetdiktemate- en vetheidskode op die karkas bepaal en in ʼn formule omgesit. Vetdikte word gemeet op verskillende dele van die karkas, naamlik die boud, lende en voorkwart.

  • Vetheid (10 punte)

Die karkasvetkode soos deur die beoordelaar bepaal, word in punte omgeskakel. Die optimale punte word verkry vir ‘n vetheidsklas 2 karkas, naamlik 10 punte.

  • Bouvorm (20 punte)

‘n Totale punt uit 20 word vir die bouvorm van die karkas deur die beoordelaar toegeken. Die optimale punt word verkry vir ‘n karkas met ‘n 5 bouvorm.

Die volgende is redes vir diskwalifikasie van karkasse of vir ‘n dier om ingesluit te wees in die kompetisie:

  • diere wat gewissel het – alle diere moet dus ouderdomsklas A wees;
  • karkasse wat afgekeur word weens siekte of beserings;
  • karkasse wat nie ‘n vetkode 2 of 3  behaal nie;
  • karkasse met ‘n kode 2 (matig) of 3 (erg) beskadiging;
  • diere of karkasse wat volgens kompetisiereëls gediskwalifiseer word;
  • geen diere met prominente groot horings wat beserings kan veroorsaak, word in die kompetisies toegelaat nie;
  • karkasse met ‘n bouvorm 1 (baie plat) of 2 (plat).

Die beoordeling behels hoofsaaklik om na die gehalte van die vleis te kyk. Vet moet tussen die vleis wees en die hele karkas bedek, maar daar mag nie te veel vet wees nie.

Klink HIER om SAMIC se uiteensetting van die klassifikasie van rooivleis te besigtig.

Voorlopige Program vir die Diamond L Slaglamkompetisie

7 Augustus 2019  – Aflaai, weeg en merk van diere by die KragDag ekspoterrein.

8 Augustus 2019  – Beoordeling op-die-hoef (lewendig) tydens die Sakeliga KragDag ekspo.

Boere is welkom om verrigtinge by te woon.

Skape word vervoer na Diamond L Abattoir vanaf 11:00.

9 Augustus 2019  – Oggend – slag van lam

Middag – Beoordeling van karkasse (aan-die-haak) – Diamond L Abattoir (Boere is welkom om verrigting te Diamond L by te woon)

10  Augustus 2019 10:00 – Aankondiging van wenkarkas by die Sakeliga KragDag ekspo;

Om aan die kompetisie deel te neem moet ‘n boer ‘n groep van minstens 4 lammers @ R50,00 per lam inskryf en ‘n groep kan uit ‘n maksimum van 16 lammers bestaan.

Geleentheid vir meer toerusting om top slaglamme te produseer

Die Bronkhorstspruit Vee Studiegroep bied Donderdag 23 Mei 2019 om 09:00 ʼn Boeredag aan by Diamond L Abattoir. Die dag behels ʼn SAMIC aanbieding, veekundige sprekers asook ʼn toer deur Diamond L Abattoir se fasiliteite.  Daar sal ook ‘n vraag- en antwoordsessie deur SAMIC hanteer word in sake die Slaglamkompetisie.

Die dag beloof om insiggewende inligting oor voerkraalbestuur, gesondheid, bio-sekuriteit, hanteringsfasiliteite en weiding te bied. Volledige inligting sal aan belangstellendes beskikbaar gestel word.

Plek:     Diamond L Group

Vir besprekings whatts-app 087 231 1644 of skakel met die KragDag Kantoor by 087 231 1644.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui