‘n Boer maak ‘n Plan!!

‘n Landbou ekspo aangebied in samewerking met TLU SA

’n Landbou sub-ekspo was vir ooglopende redes ’n logiese toevoeging tot Sakeliga KragDag Ekspo. Gegewe KragDag se demografiese ligging en binne die konteks van kleiner-area boerdery in die Gauteng omgewing, sal dit fokus op presisie en intensiewe boerderypraktyke wat waarde bied vir die boer en die benadering met die ekspo kan saamgevat word in die terme Volhoubaar, Intensief, Presies, Tegnologies Innoverend en Slim!

Die tema van Sakeliga KragDag 2019 is dan ook ‘n Boer maak ‘n Plan!!

Afgesien van KragDag se tradisionele tema en ander uitstallers, word voorsiening gemaak vir ’n addisionele 125 landbou uitstallings en ’n propvol program met sprekers soos Dr Faffa Malan van RUVASA, Dr. Chris van Dijk van die MPO, Felix Reinders van die LNR en Dr Karin en Manie Wessels van MAMRE en Dormer Stoet.  Besoekers word verseker van ‘n omvangryke lys lesings oor verskeie onderwerpe binne die landboubedryf en die aanbiedings beloof om besoekers met kundigheid huis toe te stuur.

Afgesien van die programme in die twee lesingsale, sal daar ook verskeie demonstrasies en vermaak in die arena aangebied word. Berede boogskiet en hommeltuig  demonstrasies asook boeresport is van die aktiwiteite om te verwag.

‘n Ander hoogtepunte is die Diamond L Abattoir Slaglam Kompetisie  in samewerking met SAMIC  wat boere die geleentheid sal gee om te bepaal of hulle slaglammers produseer wat die mark verwag.  Boere word aangemoedig om deel te neem aan hierdie leersame proses.  Lammers word afgelaai op 7 Augustus 2019.  Elke lam word geweeg en gemerk en alle data word noukeurig opgevang.  Donderdag, 8 Augustus word die diere op die hoef (lewendig) beoordeel waarna hulle na Diamond L Group Abattoir vervoer word.  Lammers word dan geslag en Vrydag 9 Augustus aan die haak beoordeel waarna die eerste drie wenners aangewys word.  Daar is groot pryse op die spel,  hou ons mediaplatforms dop!   Enige navrae kan gerig word aan Sinette Pretorius by 087 231 1644.

By KragDag is ons passievol oor die bevordering en bemagting van die jeug.  Landbou bied ‘n unieke

geleentheid vir kinders om vanaf ‘n jong ouderdom  hulle vaardighede binne landbou te slyp.  Tipies sal boet of sus al kleintyd  by pa geleer het wat die kenmerke van ‘n goeie bul of vers sal wees.  Waarskynlik het hulle ‘n paar lammers groot gemaak en bemark vir ekstra sakgeld en sou hulle waarskynlik al heel party vendusies bygewoon het en sodoende blootstelling kon geniet binne die unieke bedryf van Afslaers.

Dit is vir KragDag Landbou Sub-ekspo ‘n groot voorreg om as gasheer op te tree vir die Toyota SA Junior en Jong Afslaers Streeks Kampioenskappe. Hierdie kompetisie is vir die eerste keer in 2013 aangebied in samewerking met Veeplaas en Stockfarm.  Deelnemers word beoordeel volgens hulle vertoning op die rostrum, kennis van die vee en bedryfskennis. Die wenners neem deel aan die finale rondte te Alfa Expo wat in Parys aangebied word. As jy dink jy kan die kroon dra as die beste jong afslaer in die land, is hierdie kompetisie perfek vir jou!

Verskeie tema-uitstallers het hulle harte oopgemaak en goedere geskenk om na afloop van hierdie kompetisie die deelnemers geleentheid te gee om hulle staal te wys met ‘n liefdadigheidsveiling ten bate van Wetnose se donkie- en perdereddingsfonds.  Ons nooi almal uit om hierdie geleentheid te ondersteun.

Vanaf 8 – 10 Augustus gaan Landbou kook by Sakeliga KragDag! Met ‘n gemeenskap se hart wat warm klop vir landbou, ons borge se ondersteuning, vermaak vir die kleingoed, heerlike eet- en drinkgoed, is hierdie ‘n datum om aan te teken!  Moet dit nie misloop nie!

Om as besoeker te registreer klik HIER.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui