Unieke konferensie: Is jou onderneming “staatsbestand”?
Op 5 Junie trek Afrikaanse sakelui in Pretoria saam vir ‘n belangrike strategiese gesprek: hoe om besigheid staatsbestand te maak.
Die geleentheid is die sakeorganisasie, AfriSake, se halfdagkonferensie getiteld “Vooruitsigte vir staatsbestande sake – hoe ondernemings kan slaag wanneer die staat misluk.”
Internasionale ekonome en top plaaslike kenners soos Frans Cronje, Dawie Roodt en ander gaan by dié geleentheid praktiese antwoorde bied oor hoe ondernemings kan slaag wanneer die staat in sy take misluk. Die spyskaart is uitgebreid: Van historiese voorbeelde tot die jongste tegnologie. Van privaat geskilbeslegting tot alternatiewe energie. Hoe sakelui hul ondernemings kan beskerm en self ‘n goeie sake-omgewing kan skep, as die staat dan nie daarin slaag nie.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê die staat voldoen nie aan sakelui se redelike verwagtinge nie: “Die rol van ‘n staat is om ‘n gunstige omgewing vir besigheid te skep. Wet en orde, stabiele geldeenheid, infrastruktuur, howe, ensovoorts. Maar die teenoorgestelde gebeur: dis onteiening, randverswakking, swart ekonomiese bemagtiging, minimumlone, kwotas, nasionalisering van die Reserwebank, mislukte staatsondernemings soos Eskom en South African Airways, ensovoorts.”
Le Roux sê AfriSake glo die inisiatief vir samewerking lê by sakelui: “AfriSake dink die ekonomie is te belangrik om aan politici oor te laat. Dit is in almal se belang dat ‘n gunstige sake-omgewing geskep word. As die staat nie die wil of vermoë het om dit te doen nie, dan help dit nie om net te kla nie. Dan moet sakelui inspring en self ‘n gunstige omgewing vir besigheid skep: een wat staatsbestand is.”
Die program en sprekers sluit in:
- Hoekom jy jou sake staatsbestand moet maak (Dr. Frans Cronje, Uitvoerende hoof: Instituut vir Rasse-aangeleenthede)
- Die voordele van mededinging tussen state (Prof. Philipp Bagus, Professor in Ekonomie: Universiteit Rey Juan Carlos in Spanje; ontvanger van die 2016 Ludwig-Erhard-Preis)
- Nie staatsbestand nie: Lesse uit Zimbabwe (Russell Lamberti, Stigter: ETM Macro Strategists; medeskrywer: When Money Destroys Nations – How hyperinflation ruined Zimbabwe)
- AfriSake se visie vir ‘n selfstandige sakegemeenskap (Piet le Roux, Uitvoerende hoof: AfriSake)
- Staatsbestande geld (Dawie Roodt, Hoofekonoom: Efficient-groep)
- Staatsbestande identiteit en reputasie (Schalk Dormehl, Medestigter: Octobase; kettinglêer-/blokkettingkenner)
- Staatsbestande geskilbeslegting (John Brand, Spesialis: alternatiewe geskilbeslegting)
- Staatsbestande elektrisiteit (Prof. Willie Cronje, Alstom-stoel vir skoon energiestelseltegnologie: Wits)
- Staatsbestande korporatiewe strukture (Jacques Classen, Prokureur; Spesialis: eiendomsreg en administratiefreg)
Laaste besprekings vir AfriSake se konferensie word steeds aanvaar. Dit vind plaas op 5 Junie in die Atterbury Teater in Pretoria. Die koste vir AfriSake-lede is R250 en vir nie-AfriSake lede R850.
Besoek www.staatsbestand.co.za om jou sitplek te bespreek.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.