Transformasie sleep Suid-Afrika na mislukking

Die ANC se interne twiste en leierskapskonferensies geniet baie aandag in die media, en baie mense is verheug oor opnames wat daarop dui dat die ANC waarskynlik nie meer ‘n meerderheid sal behaal in ‘n verkiesing as dié nou moes plaasvind nie.

Intussen moet in gedagte gehou word dat die ANC tot en met die 2024-verkiesing steeds die bewind in hande het. Hy gaan dus waarskynlik nog harder druk om sy beleid deurgevoer te kry, en daardie beleid gaan meer radikaal moet word om nie te veel stemme te verloor nie. Die nuwe Onteieningswet wat sopas deur die Parlement gestoomroller is, is een voorbeeld daarvan. Die ander een is die nuwe wet wat die jarelange beproefde Wet op Betreding gaan vervang, omdat, soos dit in die aanhef tot die konsep wet verwoord is, die ou betredingswet “uit die koloniale tyd dateer en in die demokrasie irrelevant geword het”. Die verandering gaan dus oor ‘n politieke agenda eerder as om praktiese noodsaaklikhede en natuurlik is daar ‘n paar lastighede in vervat wat eiendomsreg in gevaar bring.

Sopas het daar ‘n Witskrif vir die Beskerming en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit die lig gesien. Kommentaar daarvoor het reeds op 6 September gesluit.

Die dokument het ‘n hele paar angeltjies wat veral boere kan raak, en wat ook ‘n aanslag op eiendomsreg in meerdere of mindere mate inhou. Natuurlik is die gonswoord weer “transformasie”, en soos met elke transformasie-gesprek, is daar weer eens geen definisie aan geheg nie.

Die ANC is sedert 1994 besig met transformasie, en al uitkoms wat van dié ongedefinieerde transformasie sigbaar is, is eens werkende stelsels wat vernietig is. Die ANC se transformasie het in werklikheid degenerasie geword. Tans is daar nie veel meer oor wat nog tot niet getransformeer kan word nie, maar steeds bly dit die ANC se gonswoord waarop hy sy beleid skoei en wat hy in wetgewing en regulasies inbou.

Dit was ook die geval met die AAMP-landbouplan, waarvan TLU SA, LWO, SAAI, Neasa en andere hulle gedistansieer het – juis omrede dit eerder gaan oor politieke transformasie wat nie met die werklikheid van die ekonomiese vryemarkbeginsels rekening hou nie.

Die toepassing van die ANC se eensydig ingestelde transformasie het gelei tot stygende werkloosheid, stygende pryse, daling in die waarde van die rand, ekonomiese agteruitgang, gebrekkige of selfs totale afwesigheid van dienslewering – regdeur, van nasionale tot op plaaslike regeringsvlakke, gekwalifiseerde ouditverslae van al die staatsentiteite en meeste munisipaliteite met die gevolglike afgradering van die land se ekonomie tot rommelstatus deur die internasionale graderingsinstellings.

Die Witskrif oor Biodiversiteit praat ook weer van voogdyskap van die biodiversiteit wat in die staat gesetel moet wees, soos wat al gebeur het met die minerale regte en die water. Dit is ‘n sagte en misleidende term vir nasionalisering wat ‘n suiwer kommunistiese konsep is en wat al by die stadium van sagte sosialisme verby beweeg het.

Rooiligte behoort nie net te flikker as die ANC begin praat van onteiening sonder vergoeding nie, maar ook as hy praat van voogdyskap en veral transformasie. Daardie terme het nog niks goeds vir die land, landbou en die ekonomie ingehou nie.

Dit is belangrik dat daar teruggedruk moet word teen hierdie rewolusionêre denkpatrone wat deurlopend geskep word.  As individu is dit kort duskant onmoontlik om hierteen op te staan. As organisasies egter hande kan vat en gesamentlik skeppend bou vir ‘n gestabiliseerde omgewing wat staatsbestand is, dan is daar altyd hoop!

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Bennie van Zyl
  • Bennie van Zyl
  • Hoofbestuurder TLU SA

    012 804 8031 - Kantoor nommer

One Comment

  • Kan julle asseblief vir ons n nuwe “Oortreders sal vervolg word” bord onwerp vir ons plaas in lyn met die nuwe wetgewing, sodat ons dit kan laat druk. Of assebief, maak een wat ons kan koop en op ons heinings plaas.
    Dankie
    cheryl.mccrindle@gmail.com

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui