Die Toren-moorde

Plaasmoorde, soos dit vandag voorkom, is nie ‘n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie. Alhoewel die rolspelers verander bly die motiewe in baie gevalle dieselfde. Pierre Stofberg lê in 1990 ‘n tesis voor ter gedeeltelike vervulling van ‘n Magistergraad in Lettere en Wysbegeerte (Geskiedenis) aan die Universiteit van Stellenbosch met die titel: DIE GESKIEDENIS VAN DIE AFRIKANER-OORLAMS MET SPESIFIEKE VERWYSING NA DIE LEWE VAN JAGER (CHRISTIAAN) AFRIKANER, 1760-1822. Teen dié agtergrond word gebeure rondom die “Toren-moorde” verhaal, wat maar ‘n klein gedeelte beslaan van ‘n ryke geskiedenis van die trekboere en inwoners van die Noordwes-Kaap.

Die plaas, Groot Toren (gedeeltelik ook Groot Doornberg genoem) is omtrent 45 km vanaf Calvinia geleë, aan die noord-westekant van die Hantam Berge.  Die naam is afgelei van die Hollandse beskrywing van die groot berge wat oor hierdie plaas toring.  Dit behoort al vir meer as twee eeue aan die nageslag van die Pienaar- en Louwfamilies.

Omtrent ‘n halfeeu voor die Groot Trek, in die laat 1700’s, het die Trekboer Petrus Abel Pienaar (oorspronklik Pinard) en sy vrou, vierde en derde geslag Franse Hugenote, noordwaarts in die Kaap-kolonie getrek, met die doel om goeie grond te soek waarop hulle ’n boerdery sou kon vestig.  Sy vrou, Jacoba Margaretha, het uit die prominente Hugenote familie Theron (oorspronklik Therond) gestam.

Hulle het op ’n ongerepte waterryke plaas afgekom, oortrek met pragtige blomme, in ‘n kom omring deur die hoë Hantamberge.  Hy het die naam “Groot Toren” daaraan gegee en vir 15 jaar lank het hy en Jacoba as die pioniere van daardie omgewing, hul boerdery ontwikkel en ’n tuiste geskep vir hul agt kinders.  Een van hul dogters se name was Hester Josina.

Maar soos die gebruik in daardie tyd was, het hulle ook gekleurdes as werkers in diens gehad. Onder andere was hul plaasvoorman en hoofveewagter ’n kleurling van Khoikhoi-afkoms met die naam Jager Afrikaner, seun van kaptein Klaas Afrikaner, wat deur die liberale VOC in die kompanjie aangestel was.  Die Afrikaner-Oorlams was ’n familiegroep wat vanweë hul noue kontak met die blanke nedersetters, arrogant en oorlams met die blankes geraak en ook bedrewe geraak het met die geweer en met perde.

Vanweë hul oorlamsheid, het Jager se familie spoedig van hul veewagterstatus, tot jaggenote en later tot kamerade van Veldkornet Pienaar gevorder, selfs in die kommando-optredes teen die Boesman/(San)-veerowers wat ook vir talle plaasmoorde verantwoordelik was.  Pienaar het selfs erkenning daarvoor van die landdros en Goewerneur ontvang.  Terselfdertyd het die Afrikaner-familie egter ook agtergekom hoe maklik die omliggende Khoi- en Nama-groepe langs die Oranje Rivier se vee geroof kon word.

Een nag in Maart 1796 verskyn Jager Afrikaner en sy broer Titus in die deur van die hoofhuis op Groot Toren en na ’n kort woordewisseling gryp hulle gewere en vermoor eers vir Petrus en Jacoba Pienaar en daarna drie kinders van die gesin.  Onwetend vir Afrikaner, het die dertienjarige Hester Josina oorleef, deur dood te speel totdat hulle die moordtoneel verlaat het, waar die ander kinders en huisbediendes haar die volgende dag gekry en verpleeg het.

Nadat sy weer haar gesondheid herwin het, het sy die plaas verlaat om by ander familie op Tulbach te gaan woon.  Sy is later met Willem Petrus Louw (vierde geslag Hollandse Geuse) getroud en het na Groot Toren teruggekeer.  Hier op haar geboorteplaas, het hulle gesin dertien kinders grootgemaak.

Jager Afrikaner en sy familiegroep het noordwaarts gevlug en hulleself in die Oranjerivier-gebied gaan vestig.  Vanuit hul veilige rivierskuilings het hulle ’n roof- en plunderbestaan teen enige inheemse groepe gevoer en het later tot meer as honderd aangegroei.  Die geweer en perd het hulle in ’n onbetwiste magsposisie geplaas en tydens daardie periode is Jager Afrikaner in 1799 deur die Britse Goewerneur Charles Somerset ook voëlvry verklaar.

Omstreeks 1803 het die Afrikaners hul skuilplek verlaat en hulle omtrent ’n dagreis te perd noordwaarts, by Blydeverwacht gaan vestig.  Die Albrecht-broers het hulle as sendelinge by die Afrikaner-Oorlams gaan vestig en na twaalf jaar het Jager Afrikaner ”tot bekering” gekom. Sy seun Jonker Afrikaner het egter sy pa se roof- en plunderbestaan vir die daaropvolgende veertig jaar voortgesit – in die suidelike en veral sentrale dele van wat later as Duitswes-Afrika, Suidwes-Afrika en tans as Namibië bekend sou staan.

Jager Afrikaner word dus die stamvader van die Afrikaner-Oorlams, wat die Noorwes-Kaap en Suidwes-Afrika se geskiedenis ingrypend negatief beïnvloed het. Inheemse groepe, wat geen of min kontak met die blanke koloniste gehad het, moes hulself voortdurend verdedig teen die wispelturige Oorlams-Afrikaners, wat hul vermoë as bedrewe skuts en perderuiters ten volle en gewelddadig benut het.

Erkennings:

 

4.00 avg. rating (83% score) - 2 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui