Riglyne aan voornemende sonkragverbruikers

As jy dit oorweeg om van Eskom- of stadsraadskrag na sonkrag oor te skakel is daar ‘n paar baie belangrike punte waaraan jy eers aandag moet skenk voordat jy ‘n finale besluit neem.

  1. Kry jou huishouding, veral die vrou in die huis, om in te koop in jou sonkraggedagte. Dis is van uiterste belang omdat dit later baie probleme kan veroorsaak.
  2. Maak seker dat die totale huishouding sonkragslim is, want met Eskom krag het ‘n huishouding onder normale omstandighede onbeperkte krag vir 24/7 terwyl met sonkrag jou krag beperk is tot die stelsel wat jy geïnstalleer het. ‘n Tipiese stelsel bestaan gewoonlik uit ‘n 5kVA wisselrigter, 12 x 330W sonpanele wat slegs ongeveer 3,96kW bruikbare elektriese krag lewer asook 2 x 4,8kWh batterye – dit wil sê 9,6kWh – waarvan net 7,68kWh beskikbaar is vir gebruik.

Om verder dit te verduidelik…

  1. Die produktiewe tyd waartydens die sonpanele elektriese krag opwek om die sonstelsel se batterye te laai is gedurende die dag, vanaf ongeveer 10:00 tot 16:00 – ‘n periode van ongeveer 6 ure. In hierdie tyd wek die twaalf 330W sonpanele ongeveer 23,76 kWh elektriese energie op. Daar is egter ‘n verlies van ongeveer 30% op die panele wat ons in aanmerking moet neem. Dit laat ons met sowat 16,63 kWh se bruikbare energie. Uit hierdie bruikbare energie moet die batterye vir die aand se gebruik volgelaai word. Die energie wat oorbly kan vir die dag se energiebehoefte aangewend word. Word daar egter te veel elektriese energie deur die dag gebruik, dan is die batterye nie vol genoeg gelaai vir die aand se energiebehoefte nie.
  2. Ons kan dus sien dat slegs die batterye elektriese energie aan die huishouding verskaf vanaf 16:00 tot volgende dag om 10:00 – ‘n tydperk van ongeveer 18ure!
  3. Indien jou gemiddelde kragverbruik saans 700W per uur is beteken dit dat die elektriese energie wat in die batterye gestoor moet word gelykstaande is aan 18 x 700 W = 12,6kWh. Die benodigde batterykapasiteit is gevolglik 12,6kWh. Die tipiese benutbare gedeelte van die 4,8 kWh battery (‘n DOD-beperking van 80%) is gelykstaande aan 3,84kWh. Die aantal batterye om 12,6kWh te lewer is 12,6kWh ÷ 3,84kWh = 3,28 batterye. Ons sou kon weg kom met 3 Lithiumbatterye om krag gedurende die aand aan die huishouding te voorsien, maar 4 batterye sou dalk meer ideaal wees.
  4. Sou die huishouding spandabelrig wees met hulle kragverbruik moet daar óf ‘n groter sonkragstelsel opgesit word óf die huishouding sal sonder krag moet klaarkom wanneer die batterye leeg is.
  5. Wat verder in gedagte gehou moet word, as die ‘n huishouding te veel krag sou verbruik, is dat sou batterye gereeld leeg getrek word, verkort dit die lewensduur van die batterye. Gevolglik veroorsaak dit ‘n hoër instandhoudingskoste en ‘n vroegtydige vervangingskoste.

Wanneer die hele huishouding instem tot sonkrag kan die huishouding begin met die volgende veranderings alvorens finaal besluit word oor die grootte van voorgenome sonkragstelsel:

  1. Verander jou elektriese geisers na songeisers of gasgeisers.
  2. Verander jou elektriese stoof en oond en/of induksie-oond en -plate na ’n gasstoof met -oond.
  3. Skenk jou elektriese braaipan, ketel en rooster aan iemand en kry ‘n ketel wat op die gasstoof werk. Roosterbrood kan ook op die gasstoof gemaak word.
  4. Elektriese verwarmers is uit soos koekies in ‘n weeshuis – kry eerder ‘n gasverwarmer.
  5. Geen sweismasjien word aanbeveel met ’n sonkragstelsel nie.
  6. Tuimeldroërs is nog ‘n ander sondebok wat tot 4kW elektriese drywing verbruik. Gebruik daarom verkieslik geen tuimeldroërs nie.
  7. Produkte soos ‘n mikrogolfoond en strykyster moet ‘n mens nie gelyktydig gebruik nie. Jy gebruik dit slegs wanneer dit regtig nodig is en ook net gedurende die dag wanneer die son skyn.
  8. Maak seker jou yskaste, vrieskaste, wasmasjiene, lugversorgers en skottelgoedwassers is lae kragverbruikstoestelle, dit wil sê A+, A++ of slegs A+++ -gradering. Gebruik slegs wasmasjiene wat nie water warm maak nie. Was eerder net met koue water.
  9. Vervang al die huishouding se gloeilampe met LED-lampe.
  10. Indien moontlik, vervang al die huishouding se sekuriteitsligte met sekuriteitsligte wat ‘n eie sonpaneel en batterye het en wat met ‘n dag- en nagskakelaar toegerus is.
  11. Kry ‘n goeie betroubare kragopwekker van ten minste 7,5kW of selfs groter. Die kragopwekker dien as bystand vir jou sonkragstelsel tydens dae wanneer daar nie genoegsame sonskyn is nie of wanneer daar gesweis moet word.
  12. Indien die huishouding boorgatpompe, drukpompe en ander motors gebruik moet ingedagte gehou word dat daardie motors ongeveer viermaal (4x) sy gespesifiseerde drywing benodig tydens aanskakeling – byvoorbeeld,  ‘n  0,75kW motor benodig ongeveer 3kW drywing tydens aanskakeling.

Gebruik dus elektriese krag oordeelkundig en moet nie jou sonkragstelsel oorlaai nie. Versprei die huishouding se kragverbruik in ooreenstemming met elke dag se energie vanaf die son. Hierdie riglyne behoort ‘n huishouding te help om ‘n meer doeltreffende sonkragstelsel aan te koop en dit tot sy volle potensiaal te gebruik. Wees sonkragwys en bespaar geld.

Sonkrag-vriendelike huishoudelike produkte is ook by Sonman beskikbaar. Sonman is SAPVIA Geregistreerde Installeerder en PV GreenCard ge-akkrediteer

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Hendrik Schoeman
  • Hendrik Schoeman

2 Comments

  • Punt nommer 12. => “75kW” moet lees 0.75kW

    • Dankie vir jou oplettendheid Andro! Ons het dit reggemaak.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui