Rondebult Construction Machines

PROMOSIE-ARTIKEL

Die alleeneienaar en stigter van Rondebult Construction Machines, Johan Duvenage, is op 3 Julie 1951 op Middelburg, Mpumulanga, gebore. Hy matrikuleer aan die Hoër Tegniese Skool Middelburg en verwerf daarna ’n diploma in elektriese ingenieurswese aan die Technikon Pretoria. Hy boer suksesvol met lewendehawe en mielies in sy twintigs en brei later uit na industriële pypfabrieke sowel as ’n steenmakery op sy plaas, Rondebult, naby Witbank.

Johan het egter die geweldige aanvraag na betroubare, hoëgehalte en bekostigbare masjinerie wat benodig word in mynbou-, konstruksie-, en landboubedrywighede sowel as by hawens en pakhuise raakgesien. Met ’n gesindheid van “hoe groter die uitdaging, hoe groter die geleentheid tot groei”, het hy hom daartoe verbind om die gaping in die mark te vul. Rondebult Construction Machines het in 1995 operasioneel geword danksy Johan se versiendheid, vernuf en visie om grondverskuiwingsmasjinerie vanuit Sjina in te voer.

Die snelgroeiende besigheid het vandag ’n indrukwekkende, steeds groeiende voetspoor in verskeie Afrikalande en groot stede in Suid-Afrika. Dit is hulle missie om langdurige en volhoubare verhoudinge met hulle kliënte te verserker deur a) die kundigheid wat hulle oor die jare verwerf het tot voordeel van die kliënt aan te wend, en b) hulle daartoe te verbind om telkens ongeëwenaarde diens en ondersteuning te lewer. Goed opgeleide en ervare personeel staan altyd gereed om kliënte met raad en daad te bedien.

Rondebult Construction Machines se dienste sluit die huur en verkoop van aanlegte, masjinerie en egte parte en toebehore in. Boonop verskaf hulle omvattende dienste, 24/7 tegniese bystand, aflewering, instandhouding en finansiële ondersteuning aan hul gewaardeerde kliënte. Hulle doen ook reuse-opknappingswerk, -ombouings en -opbouings aan masjinerie. Dit sluit selfs die volledige herbou van masjiene, ratkaste, transmissies of ewenaars in. Danksy gevorderde tegnologie, tegniese vaardigheid en ’n gemotiveerde werkerskorps is geen taak ooit te groot nie.

Johan se dogter, Natasha de Vries, is die finansiële bestuurder van Rondebult Construction Machines. Haar dogtertjie, Mieke (5), is oupa Johan se oogappel. Natasha het die volgende oor haar pa te sê: “My Pa is ‘n hardwerkende persoon wat moontlikhede in enige omstandighede sien. Hy het my geleer dat niks maklik kom nie, maar solank jy jou beste gee, sal jy jou doelwit bereik. Hy raai my ook altyd aan om – wanneer dinge dalk nie volgens plan verloop nie – positief te bly, want mens sien slegs die uitweg as jy positief is.”

Dit is dus geen wonder dat hierdie gerespekteerde siviele, infrastruktuur- en mynbou-toerustingverskaffingsmaatskappy, wat al byna drie dekades lank bestaan, as ’n leier op hulle gebied gesien word nie. Hulle groot vloot splinternuwe en tweedehandse masjinerie staan reg om enige swaardiensprojekte aan te pak, maak nie saak watter tipe materiaal vervoer of geskuif moet word of hoe die terrein lyk nie. Elke operateur is deeglik opgelei en kom alle gesondheids- en veiligheidsvereistes streng na. Kontrakteurs van regoor die land weet dat hulle die bekwame personeel kan vertrou om die mees geskikte masjien vir ’n betrokke projek aan te beveel ten einde tyd en koste te bespaar maar steeds kwaliteitwerk te lewer.

Johan se nou bande met Sjina het baie daartoe bygedra dat Rondebult Construction Machines oor die jare heen as ’n gerekende handelsmerk gevestig is. Hy vertel graag hoe hy Sjina ’n paar keer in die vroeë 1990’s besoek het toe dié land nog nie juis gereed was om toeriste te ontvang nie. Hy het tydens snerpende sneeutoestande agterop ’n toergids se bromponie gery wanneer hy na klein dorpies gegaan het om verskaffers te sien wat masjinerie gemaak het. Hy moes ook eet wat beskikbaar was, want Westerse kos was nog nie daar beskikbaar nie. Hierdie uitdagende omstandighede en avonture het hom net nog meer vasbeslote gemaak om van sy besigheid ’n sukses te maak. Aanvanklik moes ingenieurs modifikasies aan die masjinerie help aanbring om te verseker dat dit aan plaaslike spesifikasies en vereistes voldoen. Daarna het ’n uitdagende proses gevolg om vertroue vir Sjinese vakmanskap en produkte by die Suid-Afrikaanse mark te kweek. Johan, wat die beginsel van “aanhouer wen” onderskryf, het deurgedruk. Danksy volgehoue buitengewone goeie diens en die verskaffing van puik masjinerie het Rondebult Construction Machines van krag tot krag gegaan.

Die besigheid kon die eise wat die wêreldwye Covid-19-pandemie aan die ekonomie gestel het suksesvol die hoof bied. Hulle het selfs aan kliënte uitstel gegee op die betaling van hulle rekeninge en hulle sodoende deur die moeilike tyd gehelp. Hulle was ook gelukkig genoeg om deurentyd handel te kon dryf, aangesien hulle masjinerie aan die noodsaaklike mynbou-industrie verskaf. Verder is hulle graag betrokke by gemeenskapsopheffingswerk en verskaf onder meer gratis opleiding aan genomineerde individue om van hulle masjinerie te hanteer. Dan bied hulle ook gereeld hulp aan omliggende skole deur sportsgronde te skraap en funksies, sporttoerusting en -klere te borg. Die personeel, wat uit 75 werknemers bestaan, word voortdurend uitgedaag om deur middel van opleiding en studie hulle kennis te verbreed en hulle vaardighede op te knap om sodoende hulle volle potensiaal te bereik.

Johan gee die volgende goue raad aan voornemende entrepreneurs: “Bied altyd goeie diens en ’n goeie produk. Jou naam en reputasie is ongelooflik belangrik. Behandel ook jou werkers met respek; hulle is jou familie.”

Gaan loer gerus hier op Rondebult Construction Machines se webtuiste. Vergewis jouself van die tipe masjinerie (bv. stootskrapers, grawers, vurkhysers, myntrokke, glipstuurlaaiers, vibrerende rollers en wielladers) wat hulle beskikbaar stel asook die wye verskeidenheid dienste wat hulle lewer. Daar is takke in Kimberley, Douglas en Hopetown. Hoofkantoor is in Bronkhorstspruit.

Kontak die besigheid by telefoonnommers 087 234 8602 / 013 933 3833 of stuur ’n e-pos na support@rondebult.co.za.

Rondebult Construction Machines neem vanjaar deel aan die 2022 Sakeliga KragDag-ekspo wat gehou word op 11, 12 en 13 Augustus. Kom besoek hulle by stalletjienommers 187, 188 en 189 en kom kyk watter masjiene hulle vir jou beskikbaar het ten einde jou konstruksiebehoeftes beter aan te spreek.

Bogenoemde artikel is deur ‘n onafhanklike persoon, onderneming of instansie saamgestel. Menings en standpunte wat in die skrywe gestel word, is nie noodwendig die standpunt of beleid van KragDag, sy werknemers, die nuusbriefredakteur of enige van sy aandeelhouers nie.
0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui