Die rooi kombers

Die klop aan die deur wat kort na die geluid van perdhoewe op die werf volg, klink soos geweerskote deur die stil huis…

Dis hooggety  in die skaakspel wat hom in die Stormberge van die Oostelike Provinsie gedurende die Tweede Vryheidsoorlog afspeel. Die legendariese Kommandant Willem Fouché met sy ongelooflike helder oë het kringe om die Engelse jagter Kapt. Gatacre gehardloop. So laat in die nag… vriend of vyand?

My oupa, Koos van Zijl van die plaas Doornhoek, kon van enige een van die twee kampe ‘n besoek verwag. Hy het die dun lyn van die Engelse geregtigheid dikwels getoets deur noodsaaklike items, soos veral skoene in Hofmeyr aan te koop, onder curfew die dorp uit te smokkel en dan plaas toe te karwei waar dit later deur Kaapse rebelle afgehaal is.

Dit was dus heelwaarskynlik met ‘n onrustige gemoed dat hy op die geklop die deur oopgemaak en die swaar gewonde jong man tussen sy twee makkers op sy drumpel gesien staan het.

Die Boerekrygers word haastig na binne geneem waar my ouma hulle direk kombuis toe neem om daar aandag aan die gewonde te gee. My oupa stook die vuur vir warm water terwyl my ouma die wonde skoonmaak en verbind.

Toe my ouma hom kamer toe wou vat, word aan die twee ou mense verduidelik dat die Kakies van hulle weet en op hulle spoor is en dat hulle dadelik verder moes gaan. Hoe meer ouma verduidelik dat die jongman versorg moes word hoe dringender het die aandrang op die noodsaaklikheid geword om so gou as moontlik te vertrek. Teen haar beterwete in berus my ouma haar teen die krygers se besluit en gaan haal sy een van haar nuwe komberse, ‘n rooi kombers, uit die kas om die gewonde teen die bitter koue van die Stormberge te beskerm. Met kommer word daar van die drie ruiters afskeid geneem wat net so geheimsinnig en skielik in die duister verdwyn as wat hulle gekom het.

Jare nà die vredesluiting is daar weer ‘n geklop aan die voordeur en daar staan ‘n jongman op die stoep en groet my ouma met die woorde: Môre Tante – onthou Tante my nog? Toe sy ontkennend antwoord kom die hortende woorde uit die jongman se mond terwyl sy oë swem in trane: “Onthou Tante die rooi kombers?”

Weet iemand dalk iets van dié rooi kombers? Die spore van lank gelede is deur die wind verwaai. Hopies grond wat die grafte van baie van die rolspelers gemerk het is dalk ook al deur die wind weggewaai, of staan iewers eenkant verlate – en tog wonder ek of die rooi kombers dalk in iemand se familiegeskiedenis net onder ‘n dun lagie stof begrawe lê.

Lemmie.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

2 Comments

  • wat n pragtige storie!! veral nou met die oorlog in Ukaraine.Ek glo daar gaan baie stories van heldedade en hulp en moed vir jare vertel word in hierdie nuwe tye waar oorlog nog nie n einde het nie.

  • Ek het van Zyl voorgeslagte gehad.(My ouma aan moederskant se ma was Johanna Susanna van Zyl 1873-1962)
    Sal graag wil weet of dit Genealogies inpas, want ek en my sus is juis besig om ons familie te probeer opspoor.
    Ek is wel daarvan bewus dat daar een of ander Kaapse rebel in die familie was, wat nooit op ‘n familiefoto mog verskyn het nie.
    Sou graag met die skrywer wou kontak maak. Miskien is ons twee se familie saam toegegooi onder die ROOI KOMBERS, en as ons daarin kan slaag om die genealogies drade op te tel, kan ons dalk saam weer ‘n ROOI KOMBERS weef.
    My e-pos adres mag dus in bg verband bekend gemaak word.
    Helene Pretorius

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui