Huldeblyk aan Professor Lötz Strauss
LÖTZ STRAUSS (13 Mei 1930 – 25 Nov 2020)
Stil, broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy; bekyk hom goed.
Die oog, nou dof en weggesink, soos vuurvonk kon hy blink . . .
Sommer so vanself kom die woorde van Jan FE Cilliers se gedig ten tye van generaal Christiaan de Wet se oorlye in mens se gedagtes op as jy aan Lötz Strauss dink. Trou aan sy beskeie aard sou dit hom laat kriewel het om dié eer toegeswaai te word, vir jóú sal dit laat kriewel om by hom te sit en sy persoonlikheid en statuur te ervaar.
Hy was een van 8 kinders en sy pa was ‘n tegnikus by die poskantoor van destyds wat vir die installering en instandhouding van telefone verantwoordelik was. Uit eerstehandse ervaring kon hy tydens ‘n uitsending van die program Hoe verklaar u dit op sy tipies rustige manier ‘n vraag beantwoord oor die gegons van die telefoondrade. Die gemak waarmee hy vrae oor die Fisika kon uitlê, was die resultaat van sowel ‘n grondige kennis van sy vakgebied asook die Godgegewe gawe van onderrig gee. Ewe deeglik is ‘n antwoord nagevors, of dit ‘n stuk navorsing vir sy doktorale verhandeling oor Kernfisika was, en of dit ‘n leke-vraag van ‘n luisteraar op die platteland was. Ek sien hom in my geestesoog in die Huishoudkunde-departementshoof se kantoor as hy nie geweet het wat in brooddeeg aangaan nie, en toe dáár gaan lig opsteek het! Ontdaan van enige kompromie as dit oor die inhoud van sy vak of die liefde vir sy taal gegaan het. Daar kon ‘n ondeunde glinstering in sy oog flonker as hy in sy gemoed giggel ten aanskoue van kollegas, wat sukkel om met ‘n linksom uitgegroefde kurktrekker ‘n kurkprop uit ‘n wynbottel te kry. ‘n Stukkie hiervan leef voort in sommige uitstallings van sy lieflingskind, die Exploratorium (huidig, Scienza), op die Tukkie kampus: “As jy hierdie knoop deurgehaak het, laat dit weer in sy oorspronklike vorm”
Dis onmoontlik om sy nalatenskap na waarde te skat wat in onderrig belê is. Handboeke, publikasies, sy versameling Scientific American ‘s in die Exploratorium, die Camera Obscura op die dak van die Fisikagebou, die Foucauld-slinger met sy hout-windroos by die Fisikagebou by Tukkies se ingang. Sy studente is versprei oor die wêreld: van die VSA se ruimteprogram tot by ‘n tafel in ‘n nederige plattelandse dorpshuis; waar die liefde vir sy vak se saad by geslagte gesaai is wat nie eens weet wie Lötz Strauss was nie!
My leergebinde eksemplaar 1/30 van “Hoe verklaar u dit?” kry vir my ‘n nuwe betekenis; die knop in die keel kan nie afgesluk word nie; ons salueer jou my vriend …
Stil! Broers, dáár — gaan ‘n man verby.
Lemmie van Upington – 072 264 1992
Ek het by Prof Strauss klas geloop op Tukkies as ingenieurs-student.
Ek moet erken dat hy `n groot ywer vir Fisika gehad het wat besielend op mens ingewerk het.
Dankie dat julle ons laat weet van sy heengaan.
Ons sal hom altyd onthou.
Beide ek en my oudste dogter het die voorreg gehad om by prof Strauss Fisika 1 lesings te ontvang.
Ek kon my dogter voorberei vir prof Strauss se waarskuwing oor jool.
Hy het by ons ‘n dieper liefde vir fisika gegee.
RIV
Baie mooi verwoord…. Rus sag “Oupa” Strauss
… eendag gaan dieselfde van Lemmie gesê word
Bosveld groete
Mia
Jip, ons het ‘n groot gees verloor en ook ‘n groot man, wat ‘n verlies. Ek kyk nou na sy “Inleidende Fisika” boek op my boekrak, aangekoop in 1982. Selfs in my prulle jeug het ek al toendertyd besef dat hierdie een van die baie min akademici is wat nie probeer het om studente vir ‘n “rip-off” te vat met belaglike pryse vir voorgeskrewe boeke wat elke jaar daarby in druk verander nie. Hy het meegevoel gehad met die geboelie wat in die manskoshuise aangegaan het. Sy vakgebied is interessant aangebied, wens ek het meer opgelet en gefokus. Hamba Kahle Makhulu.
Daar is eintlik nie woorde wat kan beskryf wat Lots Strauss vir menigte studente beteken het nie. Ek het die voorreg gehad om n aantal jare vir hom te werk beide in Fisika 1 departemenmt waar ek sy admin gedoen het asook in die Eksploratorium as kurator waar ons menigte eksperimente ontwikkel het. Hy het meer ontwikkel en ek gebou. Menigte middagete is in sy kantoor genuttig van vars brood en koue vleis. Die deernis waarmee hy vrastelle van studente wat gedruip het weer nagesien het om net een punt te soek… n hart van goud….. sag rus Prof….. jy het my lewe verander….
Vir my was hy toonbeeld van kennis oor wat ookal. Mooi klas by hom geloop nie maar wel die voorreg om hom as hooggeagte vriend te hê en soos die spreek woord sê, “aan die voet van Gemaliël” sit en in gesprek met hom gewees. Het hom besoek in Pretoria, Hermanus asook in die hospitaal te Stellenbosch ná ‘n kniegoperasie. Hy het in sy Hermanus-huis’n baie spesiale trap na sy studeerkamerlaat insist, enige in sy soort wat ek nooit sal vergeet nie. Ek groet Prof. Löts met weemoed en tog met trots dat ek’n man der manne geken het.