Erdwurmtee. . . so doen ék dit met Karibiese rooi-erdwurms (red wrigglers)

Daar is volop en baie insiggewende inligting oor erdwurmboerdery op die internet beskikbaar, maar vir die doeleindes van hierdie foto-artikel volstaan ek met “so doen ék dit.

As inleiding, enkele gedagtes oor die anatomie van die erdwurm. In die skets hieronder kan die twee organe wat vir my doel belangrik is, gesien word. Dit is die nefridium (wat ‘n nierfunksie vervul) en die spysverteringsbuis wat voedselreste uitskei. Die uitskeidings van die erdwurm word, tesame met die wateroplosbare stowwe in hul blyplek, uitgeloog en dan as vloeibare bemesting aangewend. Die kweek van plante in houers is ‘n onderneming op sy eie en hierdie artikel fokus net op die aanhou van erdwurms.

Houers: ‘n Produksie-eenheid bestaan uit twee 50 liter plastiese baddens. Een bad bevat die wurms en het sowat 7 gate van 10 mm in deursnee in die bodem van die bad. Hierdie bad pas binne in ‘n tweede bad en rus op 4 houtblokke met ‘n dikte van ongeveer 4 cm. Hierdie tweede bad dien as versamelaar van die vloeistowwe wat in die eerste bad berei word. Ek gebruik juis baddens en nie “bins” nie omdat, belugting, temperatuurbeheer en humiditeit in Upington faktore is waarmee rekening gehou moet word. As kooigoed vir die erdwurms in die eerste bad, gebruik ek vars perdemis wat uit die stalle van perdeliefhebbers kom.


So ver ek weet, bestaan daar nie kwaliteitspesifikasies vir “erdwurmtee” nie. Tydens gesprekke met “erdwurmboere”, wat dieselfde kwaliteitsvereistes as ekself aanlê, is dit bevestig dat ‘n roekelose uitloog van die neerslae in die erdwurms se kooimaakgoed, ‘n negatiewe impak op oeskwaliteit het. ‘n Hoë kwaliteit erdwurmtee vertoon ‘n skynbare olielaag op die oppervlak van die vloeibare bemestingstof soos in die foto hieronder gesien kan word.

In die meegaande foto word ook gesien dat die oppervlakte versteur is en dat die “neerslag” as ligte vlekkies sigbaar is. ‘n Oes van hierdie kwaliteit verdun ek met water in die verhouding 1:20 tot 1:30 vir bemesting. Kwaliteitsbeheer is seker baie moeilik definieerbaar want vars gevestigde kolonies met vars perdemis se ekstrak is nie onderskeibaar van ‘n  “beleë” oes nie, behalwe vir die “olielagie”. Met drie eenhede in produksie oes ek 20 liter “wurmtee” per week wat aan al my bemestingsbehoeftes voldoen.

Napoleon het per geleentheid gesê dat ‘n weermag op sy maag marsjeer – dit geld ook so vir die erdwurms. Dit lyk nie so nie, maar hulle kan geweldig hardkoppig wees – veral as hulle in ‘n nuwe omgewing gevestig moet word. Hulle is baie lief vir pampoen, maar ek voer hulle ook turksvyblaaie wat middeldeur gesny is – en dan mieliepap!

Bostaande foto toon die voorkeur wat die wurms vir mieliepap het. Daarteenoor, hulle smaak vir vars spanspekskil (in die middel van die foto, regs), turksvyblad (in die 1-uur posisie van die foto) asook artappel en wortelskille (in regter boonste hoek – nie baie duidelik sigbaar nie). As daar vir lang periodes nie na die wurms se behoeftes omgesien kan word nie, sny ‘n pampoen in die helfte deur en plaas dit omgekeerd in die wurms se houer. Binne perke sal daar genoeg vog en kos vir ‘n redelike tydperk beskikbaar wees. “Erdwurmboerdery” is egter nie ‘n toeskouersport  nie. Balans tussen genoeg kos en water en ‘n stinkende verrottende massa word gehandhaaf deur ‘n toegewyde oog – net soos die boer se voetspoor in sy mielieland of sy versorgende hand by die lammeroes. Per slot van rekening – ons is tog rentmeesters van God se skepping.

Oor die bemestingswaarde van “erdwurmtee” sal daar seker net soveel verdeeldheid bestaan as oor waterwys met ‘n stokkie. Wat myself aanbetref, is ek versigtig opgewonde oor die waarde van hierdie vloeibare bemesting met “erdwurmtee”. Hieronder is ‘n aantal foto’s van my resultate – ongelukkig sonder enige kontroles.

Appelkoosboom

 

Black Mission-vy

 

Aalwyn met erdwurmtee
Let op na die nuwe groei – binne 6 weke

 

Saailinge (in hierdie geval California Wonder soetrissie) met wurmtee –  vandat ontkiemende saad grondoppervlakte breek lewer dit baie goeie resultate.

 

Skadu-liefhebbers – varings, die Delicious Monster en hulle vennote hou van “wurmtee”

 

Ja, daar is nie altyd resultate nie, maar . . . .

 

. . . let ook op na die nuwe groei aan die plant – in hierdie geval – laventel, links onder aan die oorspronklike stam.

Blaarbemesting vir Begonia en tamaties blyk nie baie suksesvol te wees nie, maar as ‘n oppervlaktebemesting behaal ek baie goeie resultate.

Ja, so doen ék dit . . .

Lemmie van der Linde <lemmie.vanderlinde@gmail.com>

2.75 avg. rating (61% score) - 4 votes

10 Comments

  • Dankie vir hierdie Lemmie. Ek en my seun probeer ook ‘n erdwurm plaas aan die gang kry. Het eers verkeerde (tuinwurms) gehad maar nou die Kariba (rooi) erdwurms.

    Ons voer die gesnyde gras (soos ek gesien het ‘n ander boer hier naby my doen) en dan ook van die kombuis skille. Ek maak nota van die pampoen. Ek het ongelukkig nie perde hier in die stad nie (Pretoria) :).

    Wat ek wil weet, gooi jy enigsins water in die houers om die bemesting ‘af te spoel’ of loop die erdwurm tee vanself uit na onder?

    Ek het so 1500 erdwurms in twee houers – is dit genoeg of moet ek maar wag tot hulle nog meer aanteel?

    Groete

    Koot

  • Geagte Vriend,
    Wat ek nie in my artikel gemeld het nie, is dat ek oor elk van my houers ‘n kombers, die grootte van die houer gesit het. Hiervoor het ek die “komberse” wat gebruik word om meubels tydens vervoer te beskerm. Hierdie erdwurms gebruik geweldig baie water en hulle MOET klam gehou word. Onhou hulle suurstofopname geskied deur die blootgestelde dele van hulle liggame. Hierdie suurstof moet opgelos wees in die water om deur hulle laag beskermende selle te diffundeer. Jy sal agterkom dat hulle al dieper in die medium in beweeg op soek na vog en dit is heeltemal teen hulle aard. Hulle voed op die oppervlakte en as ek nou Darwin- nisties mag raak, is hulle vinnige aanteel juis om te vergoed vir die verlies aan getalle agv predatore. Die kombersbedekking wat jy gedurig klam moet hou sorg dat hulle op die oppervlakte bly en vreet en teel. Jy sal moet byvoeding gee. Deur die gras alleen sal hulle voedselinname nie genoegsaam wees nie omdat hulle te stadig sal vreet. Hulle vrek oor pampoen, maar as jy pampoen moet inkoop dan raak dit duur. Ek kook vir hulle geel mieliemeel pap – so 12 min in ‘n mikrogolf. Moenie sout of so-iets bygooi nie – net die skoon miieliemeel. Ek gebruik geelmieliemeel terwille van die hoër Vit A inhoud vs wit mieliemeel. Hoe growwer die meel hoe meer hou hulle daarvan.
    Om op te som, kry dadelik jou waterbehoeftes reg. Daarsonder kwyn die kolonie.
    Laat gerus weer van jou hoor, want die erdwurms is nie die sitkamerboerdery soos wat voorgehou word nie.
    Groete.
    Lemmie.
    lemmie.vanderlinde@gmail.com

    • Goeienaand Lemmie,

      Ek het my twee houers bo-op mekaar gesit. Gisteraand uitgevind al die wurms in die onderste houer het gevrek – die water het nie behoorlik gedreineer nie lyk dit my en toe versuip die goed in die gebluste beesmis waarin ek hulle aanhou. Baie teleurstellend.

      Maar ek het vanaand aartappels en patatas in die ander bak gesit en sal hulle klamhou – maar nie papnat nie. :):)

      Ons het darem ons eerste 500ml tee gekry…

      Groetnis

  • Koot,
    Ek het deur die wurms bevriend geraak met iemand in Johannesburg wat ook op klein skaal groot plaas! Ek sal met haar uitklaar en dan kan jy met haar ook gedagtes wissel. Sy kry by van die kitskosplekke hulle eierdoppe en koffiemoer wat sy dan in kunsmis/potgrond omskep. Moenie moed verloor nie. Ek is regtig jammer om van jou teenspoed te hoor.
    Ek het dit nog nie gedoen nie en vra jou dus: wat is die moontlikheid dat jy die grassnysels laat droog word; dan eweredig klam maak en dit dan vir kooigoed gebruik. Ek is net bang dat as jy die groen materiaal gebruik, dit gaan muf eerder as ontbind. Voer hulled an pampoen of pap sodat hulle net eers tot rus kom en die nuwe omgewing as blyplek aanvaar. Die oomblik as daar onaangename reuke is moet jy weet daar is probleme. Eintlik is hulle baie sindelik en kan jy hulle nie ruik nie – self nie eens die afloop nie!
    Ek het baie las van aalwurm en wil dus nie grond in my erdwurmbakke gebruik nie. My uitkoms is perdemis vars uit die stalle, maar in die plaalike koöperasie verkoop hulle so ‘n blok palmboom pietmos wat as dit in water blus ‘n hele 20 lit pulp laat. Die pH is baie na aan neutral en sal edeale blyplek vir die wurms wees. Gee kans, ek sal by Danielle hoor of sy nie wil kom saam gesels nie. Mens moet hulle net eers gelukkig gevestig kry. Dit sal nie lank neem voordat hulle jou verlies uitwis nie. As jy die oppervlakte goed klam hou dan bly hulle aan die bokant en dreineer die oormaat water af in die opvangbak. Moenie moedeloos word of haastig raak nie.
    Groete.
    Lemmie

  • Ek sukkel met piep klein rooi spinnekoppies in my erdwurm boerdery. Is dit normaal of hoe verwyder ek hul andersins?

  • Ek kan dalk net noem dat ek glo aartappelskille is heel waarskynlik die oorsaak van aalwurms in jou grond.

  • More, waar in Centorium or Werda kan ek n paar erdwurms koop asb? Dankie. Valerie

    • Goeie middag Lemmie.Ek is van Postmansburg.Ek sien my erdwurm is bitter klein en n klomp hey gevrek.Ons het n PE gewoon waar ek baie perdemis gekry het.Hier is dit maar n baie skaar ding.
      Groete Renate

  • Hallo Lemmie hoe vinnig kan ek geld genereer uit 1000 wurms, terug voering sal waardeer word.

    Groete

    Christa

  • As jy my epos intik Sal jy n hele reeks Lesings kry om jou te help om jou erdwurmboerdery te begin

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui