Hooglied-liefde
Hy het haar die eerste keer by die eetplekkie op die hoek van die straat gesien. Hy was nie van daardie omgewing nie… Koos Dup se swart riviere het hom daarheen gebring. Sy het rustig in ‘n sonhoekie die oggendson gekoester. Die sonstrale het haar sagte jongmeisie-vel gebaai en glansend weggekaats van die gladde kurwes van haar lyf. “Ek is bruin gebrand, maar lieflik. Moenie so na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie… my eie wingerd het ek nie opgepas nie.” Die boodskap kom vanaf die swart gesluierde oë na hom toe. Haar tongetjie veeg-vee ‘n lastige krummeltjie van haar lippe terwyl haar oë hom koel takseer. Die atmosfeer tussen die twee is gelaai en in albei se wete was die besef dat dit liefde met die eerste oogopslag is. Nie bruisend, siedend, gryp die oomblik nie, maar skugter-ontwakend soos wat die Koningin van die Nag – wat in die tuin se hoek staan – se ragfyn geweefde blom uit sy sluier ontvou.
Hy sorg dat hy die volgende dag weer by dié bekende eetplekkie uitkom. Sy is nog nie daar nie en hy soek vir hom ‘n plekkie in “haar” sonhoekie – nie te naby waar sy die vorige dag was nie. Hy wil nie die indruk laat dat hy haar ruimte betree nie, maar darem ook nie so ver weg dat dit lyk of hy nie belangstel nie. Hy proe tydsaam aan dit wat op die spyskaart is, maar verslap geen oomblik sy waaksaamheid nie. Die lui-maak sonnetjie bak sy lyf tot lomerigheid en toe hy sy oë oopmaak was sy daar. Hy groet met ‘n kopknikkie in haar rigting en skugter erken sy die gebaar. Sy vertoef nie, en toe sy klaar geëet het maak sy haar uit die voete en verdwyn om die draai. “Hoe mooi is u tog, my vriendin, hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe deur u sluier heen …”
Die dag word lank en die volgende “toevallige” ontmoeting lê soos ‘n vlakte voor hom. Hy hou hom besig om na ‘n blyplekkie te soek. Dis nie moeilik om hier tuis te voel nie. Met ‘n gemoedelikheid aanvaar sy nuwe omgewing, met sy inwoners, hom. Niemand dwing sy teenwoordigheid op hom af nie en hy kan rustig die veskillende opsies van ‘n dak oor sy kop oorweeg om by sy Boheemse leefwyse te pas. Geen oomblik slaag hy egter daarin om die beeld van daardie jong ligaam uit sy gedagtes te kry nie – hoe hard hy ookal probeer. “Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan; daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem.”
Die volgende dag is hy reeds vroeg op sy pos. Toe sy opdaag neem hy dit wat hy van die spyskaart geneem het en plaas dit onbeskaamd voor haar neer. Sy laat dit haar welgeval en met ‘n versluierde blik erken sy die gebaar en rustig beskou die twee mekaar en vorm elk sy opinie van elkander. Met sondeurdrenkte liggame dartel hulle van die ou knus eetplekkie weg met die energie wat net in jong liggame teenwoordig kan wees. Sy voor, met die eeu-oue vrouwees-uitdaging; “Vang my as jy kan.” Hulle speelsheid dra hulle deur son- en skadukolle, oor kort geknipte gras en tussen boom en bas. Toe die laatmiddagson die einde van die dag begin aankondig kies hulle koers na haar blyplek – rustig, vervuld in mekaar met die wete dat die kronkelpad van alleen wees, sy einde bereik het. By haar blyplekkie aangeland loop hy huiwerend, skaam, saam tot by die voorportaaljie. Daar draai sy om en uit die versluierde oë kom die boodskap: “Tot hier toe.” Hy kies snel rigting na sy eensame blyplekkie. Sy hart te groot vir sy borskas. “Hoe mooi is u tog my vriendin . . .”
Die eetplek word die begin van elke dag se avontuur. So onvoorspelbaar as wat die spyskaart van die dag is, so is ook die dag se verloop onder hul kunstenaarsbestaan. Eers die luilekker bak in die goue lig van die son, want hierdie vooraf ritueel is die ouverture van hulle spel deur die dag. Dis hier waar hy haar rustig kan indrink, elke nuanse van die lyftaal. Die fyn beweging van die dun vingers, die soepel vloeiende beweging van die nek as sy haar kop oplig en die vars lug insnuif – en die sagte deining van haar liggaam onder die rustige asemhaling.
Al verder en verder lei hulle ontdekkingstogte hulle. Altyd dartelend oor klip en gruis totdat hulle eendag op dié verlate afvalhoop beland. Hier ontvou ‘n heel nuwe avontuur. Weggooigoed word kosbaarhede in hulle skatkamer en hier kry baie nuttelose goed toepassings waarvan die ontwerper nooit kon droom nie. En altyd dartelend – sy die ontdekker en hy rustig die sterkere. ‘n Lewenslange band word deur die natuur gesmee volgens oeroue standaarde. Sy die dirigent van die liefdespel wat so oud soos die skepping self is. “Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?”
En dan… !
Haar voet glip op die rand van ‘n skag en sy gly langs die staalwande na benede. Die momentum van sy poging om haar tastende hande vas te gryp dra hom saam met haar die dieptes af. Skokgolwe doof die eerste pyne. Paniekbevange skarrel hulle rond maar teen die gladde wande is daar geen uitkomkans nie en heel gou dring die volle omvang van dié reddelose situasie tot hierdie twee jong lewens deur. Die dag word ‘n ewigheid waarin die son wat neerbak lewensvog uit hul liggame suig. Die eerste nag is ‘n beproewing.
Haar gebreekte been voorspel ‘n ramp. Hy troos, probeer haar gemaklik maak, oorstraal haar met sy primitiewe liefde, maar sy lê lusteloos met geslote oë sonder enige erkenning of emosie. Die son wat hulle lewe gekoester het word nou die beuel. Die koelte van die nag gaan oor in snerpende koue en teen dagbreek is dit duidelik dat haar lewensvlammetjie taan. In die koel morelug word dit vir haar ewig nag. Ook hy oorleef nie die versengende hitte van die middagson nie en die twee jong liggame verenig met dié in die wieg van die dood.
Lank staan ek na die twee dooie geitjies onder in die leë roomkan en kyk – die een se beentjie met ‘n onnatuurlike hoek onder die lyf ingevou. ‘n Onbeskryflike gevoel van leegheid wel in my op. Hartseer loop ek terug na die studeerkamer. Hartseer omdat die dood hierdie dartelende lewe geneem het. Hartseer, omdat ek in my skeppingsopdrag om as koning in die skepping te heers gefaal het en nie na die veiligheid van hierdie nederige onderdane, aan my sorg toevertrou, na die beste van my vermoë omgesien het nie. “HERE, bewaar U tog maar almal wat vir my lief en dierbaar is. Bewaar ook U skepping.”
Lemmie.