’n Geldige gesprek oor geld

Is dit die mens beskore om platsak en so arm soos ’n kerkmuis deur die lewe te gaan as jy nie so gelukkig was om met ’n goue lepel in die mond gebore te word nie? Hoeveel van ons hou die horison angstig dop in die hoop dat ons skip binnekort sal inkom? Ja, ons weet baie goed dat geld nie aan bome of op ons rûe groei nie. Dit is nie ’n goeie idee om die bietjie geld wat ons wel het – al brand dit in ons sakke – in die water te gooi nie. Deesdae kos alles mos ’n plaas se geld en jy moet jou sente sommer ’n hele paar keer omdraai.

Boonop moet ’n mens heeltyd uitkyk vir geldwolwe wat hulle skoonma’s vir dertig stukke silwer sal verkoop – iets wat jy natuurlik vir geen geld ter wêreld sal doen nie, nè? Daar is diegene wat agter geld is soos die duiwel agter ’n siel, want vir hulle ruik alles na geld. Hulle besit geen duit nie, maar sal die geld uit jóú sak jaag sonder om twee maal te dink. Hulle sal jou probeer oortuig om al jou geld op een perd te sit en op die koop toe jou kaal uittrek. Gierigheid is immers die wortel van alle kwaad, dan nie?

Dit is nie wys dat ons heeldag vir kwaadgeld met ons plat beursies te koop loop nie. Ja, die meeste van ons kan doen met ’n miljoen, maar dit dien tog geen doel om tot vervelens toe jou stuiwer daaroor in die armbeurs te bly gooi nie. Onthou eerder daar is dinge wat te dik vir ’n daalder is en dat baie maar net maak of hulle geld in die bank het. Ryk gesaai, bankrot geoes is ook baie se lot, want vir hulle het geld eens vrylik soos water geloop.

Vir sommige gelukkige siele is daar ’n goudpot aan die einde van die reënboog, maar vir die gewone sterflinge is alles wat blink nie goud nie. Ons wil graag glo dat daar dinge in die lewe is wat met geen goud te betaal is nie – soos liefde – maar nou weet ons uit dure ondervinding dat as armoede by die voordeur inkom, gaan liefde by die agterdeur uit. Trou is immers nie perdekoop nie. Daar is diegene wat reken geld wat stom is, maak reg wat krom is. Maar dink weer. Doen dit regtig? As jy geld soos bossies sou hê, sou jy nie dalk tien teen een soos die ryk man in die Bybel opgeeïndig het nie?

Moenie dat jou vriendskap te koop wees nie. Hê altyd ’n geldige argument reg en laat jouself te alle tye geld. Sê vir jou vennoot dat jy eers die kleur van sy geld wil sien voordat julle verder praat. Wees bedag daarop dat goedkoop koop, gewoonlik duur koop is. Maar duur koop is ook nie noodwendig reg koop nie. Moenie jou siel vir geld verkoop nie. Hou altyd voor oë dat geld vergaan, maar God bly staan.

Moenie geld só najaag dat jy jou geloof verloor en jouself allerhande ellendes op die hals haal nie. Dink mooi na of geld regtig die wêreld regeer. Onthou, die Bybel maan: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5a, AFR53). En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Luk. 12:15, AFR53). En as geld wel in jou beursie klingel: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers” (Heb. 13:16, AFR53).

3.67 avg. rating (77% score) - 3 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Uitstekend geskryf, Louise! Die gebruik van tipiese Afrikaanse idiome word meesterlik aangewend en sorg vir ‘n genotvolle leeservaring. Doe so voort!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui