Só het Leonardo gedink…
Leonardo di ser Piero Da Vinci was ‘n veelsydige genie, ‘n polimaat wat beduidende bydraes gelewer het op die gebiede van skilderkuns, beeldhoukuns, argitektuur, uitvinding, wetenskap, musiek, wiskunde, ingenieurswese, letterkunde, anatomie, geologie, sterrekunde, plantkunde, die skryfkuns, geskiedenis en selfs kartografie! Hy is gebore op 15 April 1452 in die die dorpie Vinci in die Italiaanse provinsie Florence. Hierdie besonderse persoon is al dikwels beskryf as ‘n universele genie met idees wat sy tyd járe vooruit was. Dit is dan ook om hierdie rede dat baie mense steeds wonder hoe Leonardo se kop aanmekaar gesit was en hoe sy gedagteprosesse gewerk het.
Leonardo da Vinci se Notaboeke
In 2003 het Michael J. Gelb ‘n boek laat verskyn met die naam “How to Think Like Leonardo da Vinci: Seven Steps to Genius Every Day”. Hierdie skrywer het die lewe en werk van Da Vinci bestudeer en gepoog om die geheim van sy genialiteit te ontsluit, te ontsyfer en te vertolk. Vanuit hierdie navorsing kon hy 7 eienskappe identifiseer wat hy met 7 beskrywende Italiaanse woorde benoem het te wete Curiositá, Dimostrazione, Sensazione, Sfumato, Arte/scienza, Corporalitá, en ook Connessione.
Die inspirasie vir hierdie boek het Gelb gekry nadat hy in 2003 ‘n opvoering van die toneelstuk genaamd “The Notebooks of Leonard da Vinci” in The Second Stage Theatre in New York bygewoon het. Die dramaturg en regiseuse van die opvoering was Mary Zimmerman. In hierdie toneelstuk word alledaagse en terloopse waarnemings deur Leonardo – van hoe hy sy dag beplan het tot in-diepte vrae en fundamentele oordenkings rondom kuns, argitektuur, ruimte, geskiedenis, filosofie en nog vele ander fasette – weergegee en uitgebeeld. Wat uit die onderstaande videogreep veral fassinerend is, is hoe Leonardo homself oor fisiese begrippe soos onder andere gewig, krag en beweging uitgedruk het, nog lánk voordat mense soos Sir Isaac Newton en andere die moderne fisiese wette en wiskundige beginsels, soos ons dit vandag ken en verstaan, geformaliseer het. So het hy onder andere gesê:
“Weight is a power created by a means of force and the length of its life corresponds to its effort to regain its native place. Force is the child of material motion and the mother and origin of weight. Weight is caused by one element having been drawn within another weight. Weight simply dies with the arrival at its native place.”
Hoe beoefen ‘n mens ingenieurswese, argitektuur en ander wetenskappe sonder die bydraes van wetenskaplikes soos Isaac Newton, sy tydsgenote en opvolgers? Bogenoemde aanhaling laat mens net weer tot die besef kom wat die aardskuddende bydraes was van hierdie intellektuele reuse!
Leonardo se gedagtes en idees wat die basis van die toneelstuk vorm, is deur Mary Zimmerman opgediep uit sy daaglikse joernale wat na 500 jaar nog vir ons behoue gebly het. Hierdie toneelstuk met ‘n hele aantal volledig uitverkoopte produksies, het baie gunstige kritiek, tot gevolg gehad.
Om hierdie toneelstuk te kon skep, moes geweldig baie navorsing oor die lewe van Da Vinci gedoen word. Die bron van hierdie navorsing was ‘n aantal notaboeke wat behoue gebly het. Die versameling notaboeke was oorspronklik in die besit van ene John Foster. In 1876 het hy dié 5 notaboeke wat in 3 volumes ingebind is en bekend is as die Codex Foster, aan die Victoria-en Albertmuseum bemaak. Die goeie nuus is dat hierdie notaboeke onlangs gedigitaliseer is en dat dit nou aanlyn beskibaar is.
Michael Gelb het volgens Mary Zimmerman se voorbeeld, self die notaboeke bestudeer en daaruit die 7 denkbeginsels geïdentifiseer.
Verdere navorsing het aangetoon dat daar ook ander versamelings van Leonardo se notaboeke is. So is daar onder andere die Codex Atlanticus, die Codex Leicester, die Codex Arundel en ook die Codex Madrid. Die Codex Leicester is in 1994 deur Bill Gates op ‘n veiling gekoop vir USD 30,8 miljoen, wat dit die duurste boek maak wat nog ooit verkoop is!
7 Aksiestappe om eie denke en optrede te stimuleer en te rig
Curiositá – ‘n Onversadigbare nuuskierige lewensinstelling wat soeke na kennis, voortdurende groei en verbetering teweegbring.
Leonardo het melding gemaak van sy begeerte om te wil wéét. Almal van ons is gebore met ‘n natuurlike nuuskierigheid oor ons wêreld. Babas en kinders is intens nuuskierig oor mense, dinge en plekke. Hulle ondersoek en vra vrae sodat hulle hulself en hul wêreld kan verstaan. Hoe kan hierdie eienskap gestimuleer word?
- Om nuuskierig te wees is om vrae te vra. Speel ‘n speletjie deur te vra – Wat as? … soos – wat as Leonardo vandag sou geleef het? Ook ander vrae kan soortgelyk gestimuleer word. ‘n Gedig van Rudyard Kipling uit sy storie “Elephant’s Child” begin as volg:
I keep six honest serving-men (They taught me all I knew); Their names are What and Why and When And How and Where and Who…
- Soos Leonardo gedoen het, hou ‘n notaboek of joernaal by. Skryf idees neer. Maak verbintenisse tussen gebeure en dinge. Skryf waarnemings neer en maak vryhand sketse en tekeninge. Blaai gereeld deur jou joernaal. Reflekteer oor gebeure en dinge – nadenke en oordenke. Skaf ‘n goeie woordeboek aan lees dit soos ‘n storieboek. Die Engelse Oxford Dictionary is ‘n skatkis van inligting! Pas het daar ook ‘n Afrikaanse Tesourus verskyn wat sekerlik met vrug aangewend kan word om nuuskierigheid te stimuleer!
Dimostrazione – ‘n Ingesteldheid om deur ervaring te leer. Beproef jou kennis en leer uit foute.
Dimostrazione is ‘n logiese uitvloeisel van Curiositá. Volgens hierdie beginsel nooi Leonardo ons uit om ons denke met ervaring op te volg. Hy moedig ons aan om dinge uit te probeer, uit ons foute te leer, menings van ander uit te lok en om vreesloos vars en nuut, in ‘n gees van reformasie … sê ek … na lank-gevestigde oortuigings te kyk. Moet nie enige iets as vanselfsprekend aanvaar nie. Probeer om hipoteties na alle lewensfasette te kyk deur die volgende stelling te oordink: As… dan… As ‘n land die meeste sonlig ter wêreld ontvang, dan is daardie land in ‘n posisie om die goedkoopste elektriese krag ter wêreld op te wek en goedkoop uit te voer.
Toets jou gedagtes uit en moet nie bang wees om foute te maak nie – beskou foute as ‘n geleentheid om iets te leer en mislukking as ‘n geleentheid om vars te begin en só ‘n probleem op ‘n ander manier aan te pak. Verdiskonteer mislukkings deur vooraf deeglik te beplan en aksies en gevolge te oordink. Dink egter aan moontlike beplanningsafwykings in terme van lesse en nuwe geleenthede. Probeer ook om meer as een perspektief in ‘n probleem of geleentheid raak te sien.
Sensazione – Verfyn en verskerp jou sintuie om ervarings te beleef.
“Die vyf sintuie is die bedienaars van die siel” het Leonardo da Vinci gesê. Sien, hoor, tas, proe en ruik stel ons in staat om te kan ervaar. Ongelukkig gaan ons dikwels deur die lewe deur te kyk sonder om te sien, te hoor sonder om te luister, om aan te raak sonder om te voel, te eet sonder om te proe en onbewus te wees van reuke en geure rondom jou. Dit is byna soos om te praat sonder om te dink!
Waar ons vandag met inligting gebombardeer word behoort ons ons ons sintuie te verskerp deur elke dag bewustelik te dink oor wat ons sien, hoor, voel, proe en ruik. Ons kan ook ons sintuie stimuleer deur onsself aan goeie skeppende en goeie uitvoerende kuns, goeie kos en goeie vermaak bloot te stel… “La dolce vita” – om ten volle te lewe!
Sfumato (beteken letterlik om in rook op te gaan) – ‘n Bereidheid om dubbelsinnighede, teenstrydighede, onsekerhede, en ook verandering, te erken en te bestuur.
Om ‘n oop gemoed te behou is noodsaaklik om kreatief en innoverend te wees. Dit word veral ‘n uitdaging wanneer veranderinge plaasvind wat dan dubbelsinnighede en teenstydighede van opinies en verskynsels tot gevolg het. Om dit te kan verstaan en te kan verklaar is Sfumato nodig om ewewigtigheid en balans, te midde van onsekerhede en onbekendhede, te behou.
Hoe kan Sfumato gekoester word ten einde ‘n toleransie vir onbekendhede en onsekerhede te bewerkstellig? Vertrou en luister na jou aanvoeling (gut feel) en verwoord dit in jou notaboek. Volg dit op met analise om akkuraatheid en relevansie te bepaal. Waar daar meer as een onsekerheid bestaan dink aan sintese as moontlike oplossing. Sintese gebeur wanneer onderdele of elemente gekombineer word ten einde ‘n samehangende geheel te vorm.
Arte/Scienza – Ontwikkel heel-brein denke deur ‘n balans te vind tussen wetenskap en kuns asook logika en verbeelding.
Die onderskeid wat Leonardo tussen kuns en wetenskap getref het, vind in ons moderne tyd baie aanklank in die onderskeid wat sielkundiges deesdae tref tussen linker- en regterbreindenke.
Volgens hierdie teorie is sommige mense dominante regterbreindenkers. Hulle presteer die beste in take waar hulle hulself in kuns kan uitdruk en waar hulle kreatief kan wees. Dié mense is holistiese denkers en is in staat om die groter prentjie in ‘n saak raak te sien. Hulle is ook vry-denkers wat buite die boks kan dink en hulle steun op intuïtiewe denke. Regterbreindenkers is meer geneig om te visualiseer en gebruik hulle verbeelding om in terme van prente te dink. Kleure en musiek spreek tot hulle en hulle is goed om met emosies te werk. Hulle is ook goed om gesigte te herken en te onthou.
Dominante linkerbreindenkers, daarteenoor, blink uit in take waar logika, taal, getalle, redenering asook analitiese en kritiese denke nodig is. Hulle is detail- en feite-georïenteerd, hou van syfers en dink in terme van woorde.
Hele-breindenke vind plaas as linker- en regterbreindenke gekombineer word. Die beste gereedskap om hierdie manier van dink te stimuleer is om van Gedagtekaarte (Mind maps) gebruik te maak. Alhoewel hierdie tegniek met kleurpenne op ‘n vel papier beoefen kan word, is daar gratis rekenaarsagteware beskikbaar waarmee gedagtekaarte rekenaarmatig geskep kan word.
Corporalitá – Aankweek van grasie (sierlikheid), beidehandigheid, waardigheid asook liggaams- en verstandsfiksheid.
Die moderne mens kan sekerlik nie kwalik geneem word as Leonardo as ‘n intellektuele “nerd” of Poindexter gesien sou word nie. Alles behalwe! Leonardo was geseënd met uitsonderlike fisiese energie, aanleg en bekwaamheid. Hy het ook raad gegee oor hoe om jou liggaamlike en geestelike welsyn te handhaaf. “Pas jou gesondheid op” het hy gesê en onder andere die volgende reëls aan homself gestel:
- Waak teen woede en vermy bedrukte of swartgallige gemoedstemmings.
- Laat jou kop rus, maar hou jou gemoed vrolik en opgewek.
- Maak jouself snags deeglik toe.
- Doen matige oefeninge.
- Vermy ligsinnigheid en oordaad. Skenk aandag aan wat jy eet.
- Eet net wanneer jy honger is. Geniet ligte aandetes.
- Meng jou wyn met water. Moenie te veel op ‘n slag drink nie – ook nie tussen maaltye of op ‘n leë maag nie.
- Eet eenvoudige (vegetariese) kos.
- Kou deeglik.
- Gaan gereeld toilet toe.
Connessione – ‘n Erkenning en waardering vir die onderlinge verbondenheid tussen alle dinge en verskynsels.
Hierdie beginsel van Leonardo da Vinci kom neer op die stelseldenkwyse – stelselanalise en -sintese. Stelseldenkwyse het te doen met ‘n benadering om holisties na komplekse probleme te kyk deur te analiseer hoe die onderdele of elemente onderling geskakel en verbonde is, hoe die onderdele, in die geval van ‘n dinamiese stelsel, tydsgewys met mekaar in interaksie is en hoe die stelsel in die konteks van die groter stelsel funksioneer.
As voorbeeld kan na ‘n skoolstelsel gekyk word. Die elemente van die skoolstelsel bestaan onder andere uit leerlinge, onderwysers, klaskamers, sportgeriewe ensomeer. Die stelsel is nie ‘n statiese stelsel soos byvoorbeeld ‘n brug nie, maar is ‘n dinamiese stelsel waar die onderdele in terme van ‘n tydsrooster met mekaar in wisselwerking tree. Tydens skoolperiodes is daar interaksie tussen leerlinge onderling en met onderwysers. Dit soort wisselwerking hang af van die vakke wat aangebied word en die sport wat beoefen word. In elke tydsinterval tree die onderdele van die skoolstelsel op verskillende maniere met mekaar in interaksie. Die skool is egter deel van ‘n groter opleidings- en opvoedingstelsel waarvan die elemente van die groter stelsel op hulle beurt sekere wedersydse vereistes onderling en aan die groter stelsel stel.
Like you said – how relevant Leonard’s principles are still today – timeless.
This was what I was looking for and is a great inspiration.
Baie dankie vir hierdie uitstkende boekbespreking.
Mens leer daarvan.