Ontmoet TLU SA
TLU SA se vernaamste doelwit is om boere veilig en volhoubaar op hul plase te hou.
TLU SA het nog altyd – sedert sy stigting in 1897 – die boer se standpunt aan die regering verkoop. Nooit die regering se standpunt aan die boere nie. Ons praat nie vir die boere nie – die boere praat self. Daarmee saam is TLU SA se krag op grondvlak – daar waar dit vir die boer regtig saak maak in sy dag tot dag oorlewing.
Landbou in Suid-Afrika is gekompliseerd met die dat ons in vergeleke met ander lande as ’n marginale landbou-omgewing beskou word. Die onseker beleidsomgewing wat deur die ANC-regering geprojekteer word vererger die situasie.
Daar is drie aspekte waarop TLU SA tans fokus wat noodsaaklik is om stabiliteit te verkry.
Eerstens, die veiligheid van die boere, hul naasbestaandes en hul werkers op die plase. Die werklikheid is dat die regering grootliks beheer verloor het oor die veiligheid van die inwoners van die land. Die veiligheidskomitee is gevestig waar daar realistiese en haalbare planne geïmplementeer word om na ons eie veiligheid om te sien. Verskeie ander instansies het op die TLU SA model voortgebou.
Verder is die onsekerheid oor eiendomsreg wat baie duidelik met ’n politieke agenda geskep word vir geen belegger positief nie. Landbou kan nie gedy onder sulke onseker omstandighede nie en TLU SA is deurlopend besig om nie die ANC se glybaan na sosialisme te ondersteun nie, maar klem te plaas op daardie beginsels wat nodig is om seker te maak dat landbou sal oorleef.
Derdens het die boer op die plaas om verskeie redes onder uiterste ekonomiese druk gekom waarvan die uitmergelende droogte in groot dele van die land seer sekerlik die grootste rede is. TLU SA het op 6 Desember 2018 ’n volhoubaarheidskonferensie gehou waarna ’n komitee begin werk het aan ’n manier hoe daar gekyk moet word om die risiko nie hoofsaaklik op die produsent alleen te plaas nie, maar om dit te verskans en te versprei.
TLU SA het deur al die jare daarby gestaan dat die rol van die familieboerdery die basis vorm van landbou en dat dit juis hul bydrae in die landelike omgewing is wat werk skep en die plattelandse dorpe laat leef.
TLU SA dra die laaste aantal jare die boodskap uit dat dit tyd is vir saamstaan. Dit kan net gedoen word saam met mense en instansies wat uit innerlike oortuiging dieselfde ideale nastreef. Die regte beginsels moet uiteraard nagestreef word en is die waardes wat TLU SA sedert sy ontstaan gevestig het steeds daardie waardes wat in belang van elke boer is. Dit word in die Manifes en die Grondwet uiteengesit.
Die belangrikste hiervan is steeds die vaste geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel.
Daarmee saam staan TLU SA vir die beskerming van eiendomsreg en die feit dat die markkrag beginsel bepalend is in prysvasstelling.