Landboukorrelsboeredag word deel van Sakeliga KragDag 2019 se landbou sub-ekspo

Die Landboukorrelsboeredag wat op 5 & 6 April 2019 sou plaasgevind het, is afgestel, om die program en uitstallings wat aangebied sou word, deel te maak van Sakeliga KragDag 2019 se Landbou sub-ekspo, wat hierdie jaar vir die eerste keer in samewerking met TLU SA aangebied word. Die KragDag ekspo vind op 8-10 Augustus, op Diamantvallei Landgoed sowat 20 km oos van Pretoria, plaas.

Die Landboukorrelsboeredag is jare gelede deur Radio Pretoria begin en is vir die laaste aantal jare deur die Cullinan Distrikslandbou-unie en TLU SA Sentraal aangebied en veral die lesings en seminare wat tydens hierdie boeredae aangebied is, het groot aftrek gekry.

Die nuutste skuif is geneem om vir ondernemings en borge beter en groter geleenthede te skep en dit sal ook vir hulle baie meer blootstelling gee.

Die KragDag ekspo, waar jaarliks ’n groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings uitgestal word, is verlede jaar deur 15 700 mense bygewoon, wat kom kyk het na oplossings wat hulle self kan implementeer om hulle meer bestand te maak teen uitdagings op ’n wye spektrum van lewensterreine, wat veral die gevolg is van staatsfalings en -vergrype. Dit sluit dinge in soos beurtkrag, watertekorte, veiligheid, tegnologie, konstruksie, opvoedkunde, voedselproduksie, entrepreneurskap, gesondheid en ekonomie en finansies.

Met sy Doen-jou-eie-ding leuse het KragDag ’n baie praktiese ingesteldheid en moedig die ekspo mense aan om innoverend te bou aan ‘n volhoubare selfstandige vrywees lewe.

Die Landbou sub-ekspo fokus op volhoubare, presisie, intensiewe, tegnologies innoverende en slim boerderypraktyke, veral vir die nismark van kleinboere en klein-area kommersiële boere. Die landbou sub-ekspo sal bestaan uit tema-uitstallers ten opsigte van die hele waardeketting vir boerdery, sowel as rastentoonstellings vir groot-, klein- en pluimvee asook perde. Lesings en inligtingsessies sal vir die duur van die ekspo in twee sale oor ’n wye reeks van onderwerpe aangebied word, wat onder andere veeteelt, akkerbou, tegnologiese praktyke en hulpmiddels en nis boerderygeleenthede insluit. Demonstrasies en vermaak sal ook in die arena aangebied word. Twee ander hoogtepunte is die slaglamkompetisie en die noordstreek uitdunne van die Toyota Junior Afslaers kompetisie.

Afgesien van die 350 bestaande KragDag uitstallers, word voorsiening gemaak vir ’n addisionele 125 landbou-uitstallings. Hierdie ekspo het die vooruitsig om die toonaangewendste landbou-ekspo in die Gauteng omgewing te word.

Die organiseerders van Landboukorrels en van die KragDag ekspo nooi ondernemings wat belangstel om uit te stal, om die hulle aansoeke in te dien deur op die Stal uit by KragDag skakel op KragDag se webtuiste te klik.

Navrae kan ook gerig word aan:

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui