Bakterieë kan die wêreld red!
Die woord, bakterieë, laat dikwels mense se hare rys, want dit word omtrent altyd in ‘n negatiewe sin gebruik, soos bakteriese infeksie; dis nou die deel van verkoue wat jou laat nies en proes en selfs longontsteking laat kry. Onlangs was listeriose in die nuus en gereeld word van e.coli-vlakke gepraat. Dit het alles met bakterieë te doen. Mense sien bakterieë as kieme wat siekmaak.
Huishoudelike ontsmettingsmiddels word bemark as middels wat bakterieë doodmaak en die bakterieë word uitgebeeld as nare klein goggas wat nie kan wag om jou aan te val nie.
Bakterieë word doodgespuit, doodgebrand of doodbelig. Dit is een van die wonderwerke van die natuur dat bakterieë nog ‘n manier vind om te oorleef in die totale aanslag teen hulle.
Elkeen van ons moet dankbaar wees daarvoor, want sonder bakterieë kan ons nie leef nie. Al die prosesse in die natuur sal gaan stilstaan sonder bakterieë. Daar sal geen kos geproduseer kan word nie en jou liggaam sal geen voedingstowwe kan opneem nie.
In die HG Wells se boek, The War of the Worlds (1898), wat eintlik deur Orson Welles se radiodramavertolking in 1938 bekend gemaak is, is bakterieë darem die wenners. Geen oorlogsmasjiene kon die aanvallers van Mars stuit nie, maar gewone bakterieë, waarteen hulle geen weerstand gehad het nie, het hulle ondergekry.
In plaas daarvan dat bakterieë as internasionale lewensredders vereer is, het die aanslag teen hulle in felheid toegeneem na die Tweede Wêreldoorlog toe daar ‘n afset gevind moes word vir die chemiese middels wat in plofstoffabrieke vervaardig is.
Daar is weggedoen met natuurlike bemestingstowwe en kunsmis is bemark as die enigste pad vorentoe. Dit was ook die begin van die era van chemiese beheer van onkruid en peste. En hoewel die verband moeilik bewysbaar is, was dit ook die begin van die groot groei in siektes soos kanker.
Boere wat in ‘n uiters mededingende mark ekonomies wil oorleef het nie werklik veel van ‘n keuse nie. Hulle gee kunsmis en hulle spuit, want die kettingwinkels se aankopers verwag ‘n perfekte vrug regdeur die jaar.
Meganisasie, outomatisasie, presisieboerdery, elektroniese ontledingskaarte en satellietbeelde het landbou na die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling geneem, maar dit alles kon nog nie daarin slaag om produksiepraktyke so te verander dat ons kos sonder chemiese ingryping verbou kan word nie.
Dit is tyd vir nuwe denke en nuwe produksiemetodes wat op ekonomiese skaal uitgevoer kan word.
Een van die metodes vir groenteverbouing (met ‘n proteïenbonus) is akwaponika. Akwaponika is ‘n produksiemetode wat ‘n natuurlike rivierstelsel naboots met ‘n balans tussen die dierelewe, plante en bakterieë.
Dit bestaan uit drie stelsels wat in harmonie saamwerk:
- Akwakultuur
Akwakultuur is boerdery met vis, skulpdiere, plante, alge en enige ander organismes wat in water leef. Natuurlike seevisbronne word al hoe minder en visboerdery is besig om wêreldwyd dramatiese groei te toon.
In Suid-Afrika is akwakultuur ook deur die regering aangewys as ‘n sleutelontwikkelingsbedryf in landbou, maar dit groei baie stadiger as in die res van die wêreld. Ons land word nie eers genoem op die FAO (Food and Agriculture Organization of the United Nationsse) tabelle oor akwakultuur nie. Die potensiaal vir groei is tans eindeloos.
In ‘n akwaponiese stelsel kry die vis die hele tyd skoon water
Een van die groot uitdagings vir visboere is watergebruik. In ‘n tradisionele akwakultuurstelsel moet tot ‘n derde van die water gereeld vervang word en alles moet skoon en steriel gehou word. ‘n Verskeidenheid filters, ultravioletligte en ontsoutingsaanlegte word gebruik sodat die water kan hersirkuleer.
Wanneer jy akwakultuur in ‘n akwaponiese stelsel gebruik moet jy baie van die reëls by die deur uitgooi. Skielik is bakterieë jou beste vriende!
- Hidroponika
Hidroponika is die verbouing van plante sonder om grond te gebruik. Voeding van plante geskied deur die toediening van groeimengsels en chemiese voedingstowwe. Dit is gewoonlik ‘n enkelgewasstelsel omdat die voedingstowwe spesifiek vir een plantsoort op ‘n slag gemeng word.
Van die waterstelsels wat gebruik word is drupbesproeiing, geutstelsels soos NFT (Nutrient Film Technique), dryfstelsels soos DWC (Deep Water Culture) en AeroPonics.
‘n Geutstelsel (NFT)
Hidroponika geskied meesal in beskutte omstandighede, soos tonnels en nethuise met grade van klimaat-beheer. Dit is intensief, benodig heelwat aanvangskapitaal, maar lewer baie meer produksie per vierkante meter as tradisionele stelsels.
In ‘n hidroponiese stelsel moet alles steriel en skoon gehou word.
Nog ‘n uitdaging vir hidroponiese boere is watergebruik. As die water deur die stelsel gevloei het, moet dit weggegooi of heeltemal gesuiwer word, anders kan sekere voedingstowwe opbou tot gevaarlike vlakke vir die plante. Die water kan ook skadelike patogene bevat. So skoon water en nuwe kunsmismengsels is telkens nodig.
Kunsmismengsels word in hidoponika gebruik
Wanneer jy hidroponika in ‘n akwaponiese stelsel gebruik moet jy ook baie van die tradisionele reëls van hidroponika by die deur uitgooi. Skielik is bakterieë van jou beste vriende!
- Bakterieë en ander mikrobes
Daar is drie bakteriestelsels of -prosesse om van kennis te neem:
Nitrifikasiestelsel: Dit is die omskakeling van die ammoniak wat deur die visse uitgeasem word in bruikbare nitrate. Twee tipes bakterieë is altyd aan die werk in die natuur wanneer daar ammoniak (NH³) teenwoordig is. Hoe meer ammoniak daar is, hoe meer word die bakterieë. Nitrosamines bakterieë: Dit verander die ammonium in nitriete (NO²). Nitrobakterie bakterieë: Sodra daar nitriete is, begin hierdie bakterieë groei en verander die nitriete in nitrate (NO³); die voedingstof wat plante nodig het. Te veel ammoniak en nitriete in die water maak visse dood! Dit is noodsaaklik vir die visse dat hierdie bakterieë hulle werk moet doen.
Denitrifikasiestelsel: Dis die omgekeerde proses waar nitrate omgeskakel word in stikstofgas en alkaliese toestande veroorsaak. Dit gebeur gewoonlik wanneer anaerobiese bakterieë oorneem. Dit is skadelike bakterieë wat kan ontstaan as ‘n stelsel nie in balans is of reg opgestel is met voldoende watervloei nie.
Heterotrofiese bakteriestelsel: Dit is die afbreek van soliede organiese materiaal, soos visontlasting en ongebruikte viskos om koolstofdioksied, ammoniak en anorganiese stowwe vry te laat. Die water wat agterbly nadat die soliede stowwe opgelos is of uitgehaal is, is uiters mineraalryk en goed vir die plante.
Die water in ‘n akwaponiese stelsel lewe!
Mikrobes:
Daar is nog baie ander vorms van mikrolewe wat ʼn rol speel om balans in die natuur te behou en in ʼn akwaponiese stelsel nooi ons hulle in.
Die organismes sluit in alge, soöplankton, fitoplankton, nematodes en nog vele ander. Dit is die prag van akwaponika, dit is ‘n natuurlike ekostelsel met ‘n verskeidenheid van biologiese materiaal wat in die natuur voorkom. Uiteindelik dra al die elemente by tot die voeding van die plante.
Die mikrobes in ‘n akwaponiese stelsel is ook nie beperk tot ‘n sekere plek of tenk nie – hulle werk deur die hele stelsel en hulle maak jou nie siek nie. Lees hier oor studies in die verband.
Ten slotte
Daar is nog min kommersiële akwaponiese stelsels aan die werk, maar dit hoef jou nie te stop om self jou eie gesonde groente en visse te verbou nie. Kom leer op 9 Maart hoe, by die kursus Kry gesonde kos uit jou eie akwaponiese stelsel.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.