As die rugkussings begin gly…

“Ek het ‘n kussing in my rug ‘n paar jaar terug gegly” of “my rug het ingegee, maar die dokter sê ek gaan oraait wees” lui die geselskap partymaal om die braaivleisvuur.

Dit klink nogals gevaarlik as die rûe soos met swak vakmanskap inmekaar sak of die kussings tussen die werwels soos ‘n gladde reënboogforel uitgly!

Om vinnig agter die kap van die byl te kom:

Intervertebrale kussings (IVK) gly gelukkig nie; dit bult, steek uit en skeur.

Hierdie kussings funksioneer as jou vertebrale segmente se skokdempers. Hierdie skokdempers reguleer die drukking op jou vertebrale kolom. Die kussingkies bestaan uit ‘n gelatienagtige fibro-kraakbeen materiaal wat in 3 gedeel kan word:

  • ‘n Nukleus (kern) pulposis. ‘n Sentrale gelatien waterbal in die binneruim van die kussing wat rondbeweeg soos beweging oor die intervertebrale kussing ontstaan.
  • Die Annulus fibrosis, die stewige, sirkelformige, buitenste kollageen-lae. Die Annulus fibrosis vorm die grootste deel van die kussing.
  • Die vertebrale eindplate. Die eindplate funksioneer as die gom tussen die Annulus fibrosis en die omliggende vertebrale segmente en ligamente.

 

Slegs die oppervlakkige deel van die Intervertebrale kussings (IVK) kry genoeg bloed- en senuwee toevoer, waar die dieper dele van die IVK slegs toevoer ontvang van die eindplate en vertebrale beenmurg deur ‘n proses genoem diffusie. Dus, ‘n vermindering in beweging en aktiwiteit lei tot ‘n afname in voeding en kwaliteit van die IVK’s.

Dus as die manne langs die braaivleisvuur ‘n bietjie meer om die blok sal draf sal die kussings nie so rondgly nie.

Ongelukkig veroorsaak veroudering van die kussings, asook traumatiese drukking op die rug mikrotrauma aan die eindplate en skeuring van die Annulus fibrosis.

Beserings van die kussings kan ontstaan as gevolg van verskeie oorsake, van ‘n hoes-aksie tot die verkeerde opteltegniek van ‘n swaar voorwerp. Die mees algemene manier om die rug te beseer is deur vooroor te buig en byvoorbeeld ‘n 20 kilogram voorwerp op te lig sonder om die kniëe te buig.

Dit is heelwat gemakliker om soos ‘n kameelperd te buig om water te drink, maar deur die maagspiere saam te trek en die knieë te buig word beserings vermy.

Konstante spierspasma aan beide kante van die werwelkolom is ‘n algemene presentasie van ‘n IVK besering. Die ondersteunende spiere aktiveer om die drukking op die kussings te verlig.

Die tipe beserings kan wees:

  • Irritasie en bulting van die gelatienagtige Nukleus pulposis, wat gelokaliseerde pyn na die boud veroorsaak.
  • ‘n Uitsteking van die nukleus, wat drukking op die neuroliogese sisteem veroorsaak en gepaard gaan met verwysende pyne tot by die knieë.
  • ‘n Ekstrusie, of die bekende herniasie van die nucleus pulposis wat lei tot verwysde pyne na die enkels en voete.
  • Die finale fase van ‘n IVK besering wat bekend staan as ‘n Sekwestrasie van die Nukleus pulposis. Die nukleus drup uit die spasie tussen die vertebrale segmente en lei tot pyn en swakheid van die onderlyf.

‘n Deeglike fisiese ondersoek, met X-strale of MRI toetse indien die presentasie ernstig is, is ongelukkig noodsaaklik om te verseker dat daar nie ‘n “papwiel“ in die rug is nie. Wanneer die assessering en spesifieke toetse ernstige komplikasies uitgeskakel het, sal deeglike konserwatiewe behandeling jou in ‘n japtrap weer terug op die been hê!

Hierdie artikel is geborg deur Dr Jacques H Maree Chiropraktisyn

Webadres: https://www.garsfonteinpretoriaeastchiropractor.com/

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.57 avg. rating (91% score) - 7 votes
Dr. Jacques Maree
  • Dr. Jacques Maree

2 Comments

  • Hoe goed of sleg is gereëlde gebruik van Milan Diclofenac vir rug pyn?

    • Goeie middag Chris,

      Die gebruik van anti-inflammatoriese medikasie om inflammasie te verminder is altyd ‘n tawwe vraag.

      Mens kyk maar eerstens waarom gebruik die persoon die medikasie.

      Is daar ‘n chroniese kondisie wat die pyn veroorsaak of is daar ‘n besering wat ongelukkig nie korrek genees het nie?

      Baie mense sit ongelukkig met ‘n skeet wat net nie reg gesond geword het nie en sodra hy fisiese behandeling ontvang en die pyn gaan weg, is dit nie meer nodig vir die gereëlde medikasie nie. Vergelykend met ‘n situasie waar die persoon ongelukkig ‘n sistemiese probleem het, waar daar konstant inflammasie geproduseer word in die liggaam, sal hy/sy ongelukkig op die medikasie moet bly.

      Die goed of die sleg van die Mylan diclofenac word dan geasseseer deur die boonste genoemde situasies. As daar ‘n foutjie is en dit word nie reg gestel nie, gaan die situasie ongelukkig nie verbeter word deur die medikasie nie, maar as daar n choniese probleem is sal die medikasie help om die pyn te reguleer.

      Die kort weergawe is dat anti-inflammatoriese medikasie met spesifieke selle bind binne die liggaam om inflammasie en pyn te verminder. Deur die selle aanmekaar te blok verminder die sensitiwiteit van die selle aan pyn en inflammasie en so word die diclofenac meer gereeld gebruik. Die persoon sukkel ook ongelukkig om sonder die medikasie te kan funksioneer.

      ‘n Anti-inflammatoriese middel moet ook nie gebruik word as daar enige vermoede is van hartkwale of medikasie gebruik word vir hartkwale nie. Dit kan ongelukkig ‘n reeks probleme veroorsaak van hartaanvalle, beroertes en bloedklonte. So ook kan die maagwand ongelukkig ook baie seer kry (chroniese sooibrand en maagswere) saam met chroniese gebruik van ‘n anti-inflammatoriese middel.

      Mens sien dan hoe belangrik dit is dat jou huisdokter of spesialis die medikasie voorskryf en reguleer nadat ‘n deeglike ondersoek gedoen is, om enige newe-effekte te voorkom.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui