
Kan akwaponika vir my werk?
Akwaponika as boerderymetode raak al hoe meer bekend en gewild, omdat dit so ‘n gesonde, biologiese soort boerdery is, wat vanaf ‘n klein skaal in die agterplaas tot groot kommersiële skaal beoefen kan word. Tot 90% minder water word gebruik om groente in so ‘n stelsel te verbou as in die grond.
Akwaponika is die integrasie van drie stelsels, naamlik ‘n akwakultuurstelsel (visboerdery), hidroponikastelsel (groenteboerdery) en ‘n bakteriestelsel om ʼn totale ekostelsel te vorm.
Die water word die hele tyd deur die stelsel gesirkuleer. Eenvoudig gestel voorsien die visse die voedingstowwe vir die plante en die plante suiwer die water wat teruggaan na die visse.
Baie mense wil weet hoe om te begin of hoe groot so ‘n stelsel moet wees. In Kleinskuur Aquaponics se omvattende opleidingshandleiding, Inleiding tot Akwaponika, word mense aangeraai om eers die volgende vrae vir hulleself te antwoord voor hulle begin:
Doel: Wat wil jy bereik? Wil jy net jouself en jou gesin gesonde kos gee, is dit ʼn skoolprojek, of wil jy op die mark meeding en geld maak?
Kies wat jy wil doen, want die ontwerp van jou stelsel sal afhang van jou behoeftes. Kies tussen: Tuisstelsel, klein kommersieel, groot kommersieel.
Plek: Hoeveel plek het jy? Vir ʼn tuisstelsel om vier mense te voed is 36 m2 voldoende, vir geldmaak benodig jy ‘n ruimte van minstens 120 x 60 m.
Ligging: Kry jou plek genoeg natuurlike sonlig, watter kant van die berg is jy, waai daar woeste winde, is hael (of sneeu) ʼn probleem, moet jy die woestyn tem of die bosveld makmaak voor jy kan begin?
Water: Het jy toegang tot goeie gehalte, skoon water? Hoewel jy minder water gebruik as met ʼn ander verbouingsmetode, moet jy steeds die stelsel vul. Maak seker jy het genoeg water.
Begroting: Beplan jou dinge so dat jou geld langer as jou ontwikkelingstyd hou, veral as jy dit kommersieel wil doen. Maak jouself reg vir omtrent R30 000 vir ʼn tuisstelsel en tot maklik R3-miljoen vir ʼn ekonomiese grootte stelsel. Onthou net die kapitaalkoste is eenmalig…
Mark: Hoe naby of ver is jy van jou mark af? Wie gaan wat by jou koop? DOEN EERS JOU NAVORSING HIEROOR VOOR JY ENIGIETS AANPAK!
Die toekoms: Waar wil jy oor tien jaar wees? Beplan en bou so dat jy ʼn goeie fondament lê as jy wil uitbrei na groter en meer produksie.
Sakeplan: Stel ʼn behoorlike sakeplan op. Na kapitaalkoste is ander uitgawes faktore soos: huur, lone, krag, telefoon, water, vervoer en voertuig, versekering, boekhouding, verpakking, verkoeling, saad, saailaaie en die hoofuitgawe, viskos.
*********
Kleinskuur Aquaponics bied op 17 Februarie saam met die organiseerders van KragDag by Diamantvallei net oos van Pretoria ‘n eendagkursus aan. Klik HIER vir meer besonderhede en om jou kaartjie aanlyn te koop. Indien jy vandag nog jou naam HIER opgee staan jy ook ‘n kans om een van twee persone te wees wat die kursus gratis kan bywoon.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————-
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.