
Die Enviro Buggy, ‘n rommelsuigmasjien
Die Enviro Buggy is ‘n selfaangedrewe karretjie wat gebruik word om ongewenste plastiek en ander nie-bioafbreekbare materiaal op die grond in rommelgebiede skoon te maak. Die Buggy word deur batterye aangedryf en word trots in Suid-Afrika vervaardig. Dié “omgewingstofsuier” wat volgens industriële spesifikasies ontwerp en gebou is, kan die meeste algemene en skadelike besoedelingstowwe opsuig wat op strande en sypaadjies, in parke en strate en wat ook in die meeste ander menslike gebruiksareas en openbare areas rondlê.
Sea The Bigger Picture is ‘n nie-winsgewende organisasie in Kaapstad wat in 2018 gestig is en hulle fokus op omgewingsopvoeding rakende kusgebiede, oplossings vir probleme van seebesoedeling en die bewusmaking van maritieme besoedeling. Hierdie is ‘n immer-uitdagende poging waar mikro-plastiekstukkies sowel as medium en groot stukke rommel gedurende gereelde strandskoonmaak-aksies opgetel en gesorteer moet word.
Die voorneme en die beweegrede om afvalopeenhoping, wat menslike aktiwiteite volg, op die kuslyn te verminder, het ‘n vennootskap tussen Tau General Engineering en Sea The Bigger Picture laat ontstaan. Laasgenoemde organisasie het verder ook die organisasie STBP Ocean Tech gestig. Die doel hiervan is om opvoedinggedrewe inisiatiewe daar te stel ten einde seker te maak dat tegnologiese vooruitgang ook omgewingsvriendelik sal wees.
Die Johannesburgse firma Tau General Engineering het hierna ‘n eenvoudige, dog uiters doeltreffende oplossing ontwerp en vervaardig wat ‘n wêreldwye krisis sal aanspreek, wat nie net ons oseane raak nie, maar ook verskeie ander belangrike ekosisteme. Alhoewel beide maatskappye die idee van voorkoming eerder as genesing beklemtoon, glo hulle ook dat bewese rehabilitasie as ‘n tussenmaatreël nodig is. Op só ‘n wyse word groter omgewingsveerkragtigheid teen ons skadelike gewoontes in die natuur weer bewerkstellig.
Van ‘n pragtige strand in Kaapstad tot tussen die mure van ons ingenieursfirma in Johannesburg is ons elkeen op ons eie voorstoep besig om die gevolge van wanbestuur van afval te stuit deur gesprek, ontwerp en ontwikkeling – die beste manier waarvan ons bewus is. Ons kan nie mense keer om oordadig te verbuik nie. Ons kan nie elke persoon verhoed om rommel te strooi nie. Ook het ons nie die mag om openbare en privaatsektore aan te vat wat nie mense opvoed nie… en ons kan nie die gemors keer wat van die binneland na die oseane vloei nie, maar ons kan wel optree deur die waterweë en oseane se blootstelling aan afval te beperk. Dit, aldus die mening van Luigi Faccio, ontwikkelaar van die Enviro Buggy.
Die doelstellings van die Enviro Buggy -inisiatief is drie-ledig:
- Die onmiddelike mikpunt is om te verseker dat die mariene lewe, sowel as ander wildlewe, nie aanhoudend in gevaar gestel sal word deur blootgestelling aan besoedelingsgemors nie.
- Die globale doelwit is dat rommel op land, wat gevolge het vir die strande en oseane en skade veroorsaak aan die seelewe en aan die hele natuur, verminder sal word.
- ‘n Allesomvattende visie stel dat bewusmaking en opvoeding sal plaasvind oor die bose kringloop van besoedeling, die nodige maatreëls wat geneem moet word en om ‘n voorbeeld te wees hoe mense en tegnologie saam kan werk om te keer dat rommel ‘n uiteindelike bestemming sal bereik in ons ongelooflike lewegewende water.
Daar sterf elke jaar ongeveer 100 miljoen seediere vanweë plastiekafval, hetsy as gevolg van verstikking, inname daarvan of verstrengeling daarin. Die natuurlike habitat van verskeie organismes word hierdeur in gevaar gestel en veroorsaak ongekende lyding en uiteindelik uitwissing as onvermydelike gevolg. Deur die aanwending van die Enviro Buggy kan direkte skade aan die natuur verminder word.
Besoedeling is onooglik en bederf toeriste besienswaardighede. Gemeenskappe wat by die see woon dra by tot ‘n gesonde ekonomie wanneer strande rommelvry is. Toeriste en ander besoekers voel dan positief en spandeer dan graag geld by besighede in die omliggende gebied.
Maar rommel beïnvloed ook die gemeenskapsgevoel negatief wat bydra tot ‘n gevoel van onveiligheid. Deur rommel op te ruim skep ons ‘n gevoel van verantwoordelikheid en eienaarskap, dit toon ons trots vir ons gemeenskap en dit voed ‘n volgende geslag op.
Die Enviro Buggy verminder skade aan mense. “Wat in die see ingaan, beland binne-in ons, meer nog só as ons seekos eet” word gesê. Die gemiddelde persoon wat seekos eet neem ook klein stukkies plastiek in. Die chemikalieë in hierdie plastiek hoop mettertyd in ons liggame op en veroorsaak uiteindelik gesondheidsprobleme. Dit is bewys dat mense siek kan word van vuil water, sowel as van besoedelde strandsand. Skade aan water- en landhabitatte beïnvloed uiteindelik die hele aarde se ekosisteem.
Die Enviro Buggy verminder blootstelling aan beserings asook onhigiëniese opruimingspraktyke in openbare areas. Uitgestrooide en onbestuurde afval kan ‘n openbare gesondheidsgevaar veroorsaak en is boonop onesteties. Skerp stukkies rommel kan maklik in sand of gras versteek wees wat ernstige beserings tot gevolg kan hê.
Rolmodelle van wie kinders leer, voorsien nie vir onderwysinisiatiewe wat oor wêreldwye besoedeling handel nie. Die nodige aanmoediging word ook nie gedoen nie. Die belangrikste begin wat ons kan maak, is om by die kern te begin deur ons jeug op te voed en bewustheid in ons gemeenskappe te skep oor die uitkringende gevolge van besoedeling. Ons is hoopvol dat die bekoring en die uniekheid van hierdie rommel-verwyderende “buitelugstofsuier”, bedagsaamheid sal kweek tesame met ‘n passie om skoon te maak.