4 Redes waarom enige iemand behoort te weet hoe om te programmeer

Programmering is een van die vaardighede wat die wêreld aan die brand het. Sedert Konrad Zuse in 1938 die eerste programmeerbare rekenaar, die sogenaamde ‘Z1’ voltooi het, het die programmerings-, digitale tegnologie- en rekenaarindustrieë ontplof en ontvou tot die reus wat dit vandag in ons ekonomie is.

Ons hoef nie baie diep te dink, om te besef watter groot rol tegnologie in ons lewens speel nie. Virtuele realiteit is besig om deur al meer besighede aanvaar te word. Selfone is besig om slimmer, eenvoudiger en vinniger te word. Sosiale Media is ook aan die orde van die dag.

Volgens Forbes.com is die tien mees waardevolle besighede vandag Apple, Google, Microsoft, Facebook, Coca-Cola, Amazon, Disney, Toyota, McDonald’s, Samsung. Dink ‘n bietjie aan hierdie besighede. Hoeveel van hulle het hul sukses nie geheel en al aan tegnologie te danke nie? Minstens ses van hulle sou vandag nie bestaan het, as dit nie vir Konrad Zuse se ontdekking in 1938 was nie, en al tien van hulle sou heelwat anders gelyk het.

Dit is gereeld ‘n misverstand dat slegs mense wat in ‘n IT gekoppelde loopbaan belangstel, nodig het om te leer om te kan programmeer. Hier is vier redes waarom enige iemand, maak nie saak wat sy of haar belangstelling is nie, kan baat deur programmeringsvaardighede aan te leer:

1. Programmering ontwikkel probleemoplosvaardighede.
Programmeerders het dikwels baie probleme waarteen hulle te staan kom, bv. om ‘n projek aan te pak wat te groot is om in een slag af te handel. Dit is daarom uiters noodsaaklik vir programmeerders om van vroeg af aan te leer om groot probleme op te breek in kleiner dele.

Programmeerders benut hierdie vaardighede ook oor in hulle alledaagse lewe. Om in staat te wees om ‘n probleem, hetsy verbind aan programmering of nie, op te deel sodat jy dit stuk vir stuk kan oplos, gee vir jou ‘n bepaalde voorsprong in die lewe.

2. Programmering maak jou lewe makliker, eenvoudiger en meer effektief.
Niemand kan betwis dat programmering ‘n baie groot rol speel in ons daaglikse lewens nie. Staan net vir ‘n oomblik stil en kyk na al die stelsels rondom jou wat nie sonder programmering sou kon werk nie; selfone, skootrekenaars, virtuele assistente, kookgereedskap, motorkarre, horlosies, klankstelsels, TV’s, internet aangedrewe toestelle en vele meer. Ons hoef werklik nie baie hard te dink om te besef dat programmering besig is om ons lewens baie makliker, eenvoudiger en meer effektief te maak nie.

Programmeringsvaardighede kan jou ook help om groter effektiwiteit in jou eie lewe toe te pas – of jy nou besig is om op jou webjoernaal (blog) te skryf en of jy nou stoei om ‘n sekere effek reg te kry in jou elektroniese dagboek.

3. Programmering is die toekoms.
Ons lewe in ‘n baie opwindende tyd. Kyk ‘n bietjie na die lewe 50 jaar terug:

  • Die internet is so pas uitgedink, min mense weet wat dit is. Nog minder besef watter groot rol dit nog sal speel.
  • Telegramme is aan die orde van die dag. Watter nuwe tegnologie sal die bestaande tegnologie klop?
  • Data word nou op kassetband gestoor. Ongelooflik hoe ver tegnologie al gevorder het?
  • GPS koördinatestelsel is so pas uitgevind. Wonderlik hoe die wêreld hierdeur verander word.

Hoe ons ook al mag glimlag vir die primitiewe tegnologie van die 1960’s – vir daardie tyd was die tegnologie werklik verstommend! Hoe dit ook al sy, sedertdien het ons al baie verder gevorder. Vandag is tegnologie al so in ons lewens ingeweef, dat ons dit skaars opmerk. Tegnologie is aan die toppunt van nuwe ontdekkings en programmering is aan die toppunt van tegnologie.

4. Programmering bied aan jou van die heel beste loopbane.
Die gemiddelde sagteware ingenieur in Suid-Afrika verdien ongeveer R300 000 per jaar en in Amerika is dit 80 000 USD (meer as R1 miljoen)!
Sedert die rekenaar uitgevind is, het ons werksomgewings heeltemal verander. Daar word daagliks nuwe werksgeleenthede geskep. As daar vandag soveel werksgeleenthede is wat deur programmering moontlik gemaak word, hoeveel meer sal daar nie oor 10, 20 of 30 jaar wees nie? Programmering is werklik een van die heel veiligste, lekkerste en mees vervullende loopbaan wat daar is!
Ongeveer tagtig jaar gelede is die rekenaar uitgevind. Vandag kan ons sien wat die impak van programmering op die wêreld is. Ons kan ook vandag sien hoe een man se idee ‘n nalatenskap het wat tot tans toe nog gebruik word en wat vir honderde jare in die toekoms, nog steeds gebruik gaan word. Jy staan vandag voor die keuse: Gaan jy kennis en vaardighede in die toekoms belê, of gaan jy jou glad nie steur aan die tegnologie wat besig is om die wêreld te verander nie?

******

PROGRAMMERINGSKURSUS VIR KINDERS

Pieter van Deventer bied ‘n aanlynkursus aan om kinders (en beginners) te leer programmeer met die Python programmeringstaal. Tot en met 29 Januarie 2018 is daar ‘n spesiale KragDag-afslagaanbod en kan jy hierdie kursus, wat normaalweg R1 500 kos, doen vir slegs R200. KLIK HIER om in te skryf.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui