
Doen dit voortaan self
My oorlede oupa het gereeld gewaarsku dat daar ’n tyd sal kom wanneer mense met geld in die hand gaan staan en niks daarmee sal kan koop nie. Hy het nie net na astronomiese voedselpryse sowel as voedselskaarste verwys nie, maar ook na geldeenhede wat hulle koopwaarde verloor.
Verbruikers wêreldwyd voel die geniepsige knyp van inflasie aan hulle eie basse (of is dit beursies?). Kos- en lewensmiddele se pryse styg kommerwekkend. Dan praat ons nie eens van al duurder wordende energieverbruik, verblyfkoste, klererekeninge, skoolgelde, gesondheidskoste, ens. nie. Voeg daarby werkskaarste en werksverliese en die prentjie raak onrusbarend donkerder.
Almal eis hulle pond vleis van jou, maar jy het skaars nog ’n bok oor om te slag. Hoe nou gemaak? Dit is duidelik dat ons vernuwend sal moet dink en minder afhanklik van die staat en sogenaamde “sisteem” sal moet raak. Dit behels dat ons nie net oor ons waardes moet nadink nie, maar ook oor hoe ons oor geld, luukshede en gemak dink. Is dit werklik nodig dat ons die nuutste motors moet ry, elke jaar op vakansie moet gaan of gereeld moet uiteet?
Daar is wêreldwyd ’n strewe om minder gekompliseerd en gejaag te leef en om die beginsel van selfdoen en selfvoorsienend wees te omarm. Dis veral hartverwarmend om te sien dat jong mense al hoe meer hierdie inisiatief begin dryf. Hulle verkies om so kostedoeltreffend as moontlik in baie klein huise (dikwels selfgebou) te bly pleks van om peperduur huislenings aan te gaan. Die meeste leef ook onafhanklik van die krag- en waternetwerk. Hulle plant en oes hulle eie kos. Hulle oogmerk is om skuldvry te leef en nie vir hulle lewensbehoeftes van ander afhanklik te wees nie. Daarbenewens koester hulle eenvoud en jaag nie meer ’n luukse leefstyl, wat deur gebruik en verbruik gekenmerk word, na nie. Dit beteken geensins dat hulle gebrek ly nie; net dat hulle bewustelik afskaal en nie meer deelneem aan die wêreld se gejaag na heeltyd meer en beter nie.
Plaaslik is KragDag aan die voorpunt van diegene wat ’n vrywordlewe deur volhoubare en selfstandigheidsoplossings nastreef. Al hoe meer Suid-Afrikaners besef dat die dae toe hulle nog op die staat kon staatmaak vir dienste en gerief lankal reeds verby is. Deesdae moet ons maar self hand aan die ploeg slaan en dinge maak gebeur. Ons moet slimmer en meer besuinigend te werk gaan.
Heroorweeg jou waardes
Dink na oor wat vir jou belangrik in die lewe is. Meet jy jou selfwaarde aan jou aansien, status en besittings? Wil jy jou buurman beïndruk omdat jou huis groter is as syne, jou motor nuwer en duurder is en jy by die duurste winkels kos en klere koop? Móét jou kinders die nuutste tegnologie en speelgoed besit om in tel te wees? Meet hulle jou liefde vir hulle aan dít wat jy vir hulle kan gee? Is jy bereid om elke dag ure in die verkeer te spandeer om werk toe te gaan sodat jy jou duur huis- en motorpaaiemente kan bekostig? Of is jy en jou gesin bereid om ’n kopskuif te maak, julle waardes te heroorweeg en af te skaal om ’n meer eenvoudiger, gesonder en vryer lewe te lei? Wil jy jou gesin posisioneer sodat verdere prysstygings en hoër lewenskostes julle sekuriteit so min as moontlik bedreig?
Doen dit self
Ek gaan voortaan gereeld artikels plaas wat KragDag se doen-dit-self selfstandigheidstema voorhou en onderskryf. As jy dalk reeds hierdie temas uitleef en toepas (en dus praktiese, doenbare raad het), kontak my gerus by author.skrywer@gmail.com en ek voer graag met jou ’n onderhoud.