
AleitApteit – ’n kosbare nalatenskap
LAPA Uitgewers publiseer Aleit Swanepoel se AleitApteit.
Geliefde media-persoonlikheid, geleentheidsbeplanner en entrepreneur Aleit Swanepoel is in Mei 2022 onverwags in sy slaap oorlede aan ’n hartaanval. Hy was veral bekend as flambojante en spitsvondige aanbieder van die kykNET-program, Tyd met Aleit, en was ook die stigter en voorsitter van The Aleit Group. Sy groot glimlag, vriendelike geaardheid, aansteeklike lewenslus en bodemlose kreatiwiteit het die harte van talle bekendes en ook dié van gewone kykers gesteel. Sy kennis en filosofieë is gelukkig nie vir die wêreld verlore nie en leef voort deur sy skool, Aleit Academy.

Aleit het op Worcester grootgeword en die heerlike reuke en geure van sy ma se Sondagetes in sy ouerhuis het hom geïnteresseer en geïnspireer. Hy was lief vir kos en het baie graag onthaal en sy gaste met smullekker kos bederf. ’n Vorige persoonlike assistent van Aleit, Inge Grobbelaar, het aan hom die voorstel gemaak om ’n kookboek uit te bring, en hy het die idee met sy gewone entoesiasme aangegryp. Die lokteks op die agterblad van AleitApteit lui: “AleitApteit is ’n hoofstuk van sy nalatenskap en ’n manier waarop hy vir altyd in mense se hart, kombuis en lewe kan voortleef. Dis ’n pragkookboek, maar ook een wat deel van jou kombuis se bestanddele moet uitmaak – gevul met bekende hartskos en bypassende stories geskryf deur ’n legende.”
AleitApteit is soveel méér as net nog ’n kookboek. Die lekkerleesstories oor Aleit se lewe is in ’n gemaklike verteltrant neergepen. Kat Willemse (Vision Photography & Films) se volkleurfoto’s van die geregte is net ’n plesier vir die oog. Daar is ook persoonlike foto’s uit Aleit se lewe. Die boek beslaan 160 bladsye. Hy skryf veral met deernis van sy ma Cliffie – ’n prysenswaardige eienskap wat hy gedeel het met Herman Lensing, self ook ’n bekende media-persoonlikheid, skrywer en koskenner. “Sy is my alles. Sy was. Ek droom al oor haar in die nagte, en droom hoe haar gesig ophelder wanneer sy my sien, wanneer ek deur haar glasvoordeur met die donkerbruin staalraam loop. Hoe sy haar arms oopmaak en my hele bolyf omvou met haar liefde, deernis en alomteenwoordige majesteit. Sy was so ’n sterk vrou. Dinamies en die beste kok” (40).

Daar is heelwat resepte in AleitApteit wat ek gereeld sal maak, byvoorbeeld Gerhard se malvapoeding, Ma Magda se groentesop, Pampoenpoffertjies en Tannie Lona se brood-en-botterpoeding. Dan sal ek ook graag Aleit se beesstert, beesfilet, Griekse hoender, lamsboud en waterblommetjiebredie probeer. Hier is nog ’n paar voorbeelde van die resepte in die boek: Tannie Lona se herderspastei, Kerrievis met paasbolletjies, Aartappels uit Clarens, Hans se appelkoosgeelstert en Elmarie se pynappelwortelkoek.
“AleitApteit is behartig deur ’n groep kreatiewe, bekwame en dinamiese kollegas, vriende en familie. Hulle het hom liefgehad en wil graag sy visie en doel deel met almal wat ook mal was oor hom, en dié wat hom nog deur hierdie pragtige boek gaan leer ken” (154). Die kookboek is opgedra aan Aleit se dogter, Kateline. Beverley Dodd is die uitgewer.
LAPA Uitgewers deel graag twee resepte met KragDag-lesers. Klik net op die foto’s om die resepte af te laai.
Skaf gerus jou kopie van AleitApteit hier aan.