Beiteltjie – Goud, geskiedenis en handewerk

beiteltjie.co.za

Hierdie maand se Beiteltjie grawe letterlik diep — tot drie en vier kilometer diep, om presies te wees. Jaargang 1.6 volg die glinsterende spoor van goud van die oertyd tot vandag, en wys kinders hoe ‘n handjievol geel metaal koninkryke laat opkom en handelsroetes oor ‘n hele oseaan laat span het.

Die “Ontdek”-afdeling gaan voort met Deel 2 van Die storie van goud. Lesers kom eers meer te wete oor die Witwatersrand Supergroep en die geheimsinnige Vredefort Koepel, voor die verhaal weswaarts en noordwaarts na die Arabiese handelsroetes langs die Ooskus van Afrika beweeg. Van Sofala en Kilwa tot Mapungubwe en Groot Zimbabwe, word gewys hoe goud, ivoor en handelsware vir eeue met dhows tussen Afrika, Arabië en die Ooste gevaar het. Die artikel eindig terug in eie agterplaas met die ontwikkeling van die Witwatersrandse goudmyne, die diepmyn-tegnieke wat hier ontwikkel is, en die hedendaagse uitdaging van onwettige mynbou en zama-zamas.

Vir wie liewer met die hande werk: die “Knip en Plak”-afdeling gaan voort met Deel 2 van die bou-jou-eie-mynskagtoring-projek — ‘n skaalmodel van Crown Myn se beroemde Skag no. 14, kompleet met wiele, hysbak en masjienhuis om uit te knip en te plak. Dit vou mooi saam met die goud-tema van hierdie uitgawe, en kan selfs met ‘n Blits-Elektries mynskagstel gekombineer word vir ‘n hysbak wat regtig op en af beweeg.

In “Bak en Brou” word gewys hoe om ouderwetse skaapkaiings te maak — stadig uitgebraai tot ligbruin en heerlik op stywe pap of roosterbrood. “Wat maak jy daar?” leer lesers hoe om ‘n vertikale sonwyser teen ‘n muur te bou, met ‘n verduideliking van hoekom sonwysers in die Suidelike Halfrond se syfers “agterstevoor” lees — en hoekom horlosies daarom kloksgewys beweeg. En in “Kom Speel Saam” word ‘n klassieke papierwaterbom stap vir stap gevou, met ‘n knipoog dat dit net vir noodgevalle is.

“Toeka se Tyd” vertel hierdie keer die geskiedenis van die Armblankes — hoe droogtes, veesiektes en die verwoesting van die Tweede Anglo-Boereoorlog duisende Boeregesinne verarm het, en hoe organisasies soos die SAVF, die Helpmekaarbeweging en die Carnegie-kommissie gehelp het om die volk weer op die been te kry. “Uit die Tuin” bied intussen ‘n prakties toepaslike wenk vir hierdie tyd van die jaar: hoe en waar om jou vrugtebome korrek te snoei voor die lente.

Die vervolgverhale gaan onderbreek voort. In Sias en Mias se sesde hoofstuk, “Die groot skrik”, loop die drie jong jagters amper op ‘n bende daggasmokkelaars vas in die bos by Boesmansberg. En Buksie in “Die Knoffels” kry ‘n slim plan om Oupa se ou skattestories op te grawe — met onverwagte gevolge vir die tuin.

Die “Hoesê?”-woordelys is hierdie maand ekstra vol, met verduidelikings van terme soos “sianied”, “kraton”, “sultanaat”, “koekepan” en “Witwatersrand” wat kinders help om die groot storie van goud beter te verstaan. En die “Brief aan die Ouers” gee ‘n nugtere blik op hoe taalontwikkeling in kleuters se breine plaasvind, en hoekom aandag, gesels en beweging in die eerste vyf jaar so deurslaggewend is.

Van diep ondergrondse skagte tot ‘n donkie-liedjie op die voorblad — Die Beiteltjie herinner ons weer hoe geskiedenis, handewerk en verbeelding saam ‘n ryk leerervaring vir kinders kan skep.

Jy kan Beiteltjie gratis aanlyn by beiteltjie.co.za lees, of jy kan vir R100 per jaar inteken en jou Beiteltjie as ‘n PDF-dokument per epos ontvang, sodat jy nie ‘n enkele uitgawe mis nie. Jy kan dit dan op jou rekenaar bêre of dit in papierformaat uitdruk.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui