Ek werk, hoe nou gemaak met studeer?
Akademia se na-uurse onderrigleermodel bewys alreeds vir nege jaar lank, oor en oor, dat dit ‘n suksesvolle onderrig-opsie is vir werkendes wat graag wil studeer. As jy nog wonder of jy ‘n formele kwalifikasie agter jou naam moet kry, óf dit selfs oorweeg om jou deur verdere studie te bekwaam, dan is dit nóú die tyd!
Dié model word deur ‘n landswye netwerk van studiesentrums of via ‘n e-leer-opsie aangebied en afstand hoef dus nie ‘n uitdaging te wees nie. Studente van tot so vêr as Dubai, Nieu-Seeland, Australië en Namibië studeer in hul moedertaal na-uurs aan Akademia. Bykans 50% van hierdie studente werk reeds. As húlle dit kan doen, kan jy ook.
Hier is antwoorde op vier belangrike vrae wat dikwels deur werkende voornemende studente gevra word:
Watter akademiese ondersteuning ontvang studente wat werk?
Anders as met gewone afstandsleer, vorm optimale studie-ondersteuning deel van hierdie model. Daar is verpligte kontaksessies wat na-uurs aangebied word sodat studente hul studiemateriaal selfs makliker kan baasraak – eerder as om bloot op hul eie daardeur te stoei. Boonop word klasse opgeneem en ná afloop daarvan op die aanlyn-leerbestuurstelsel beskikbaar gemaak. Indien jy dalk ‘n nuwe akademiese konsep beter sou wou verstaan, is hierdie werkswyse inderdaad ‘n wenner! Verder beteken dit ook dat studente, ná afloop van die klas, sommer in die motor op pad werk toe, na die podsending kan luister. Dosente is deurentyd elektronies beskikbaar om kwelvrae oor module-inhoud te hanteer. Dit maak dosente dus baie toeganklik.
Hoe bestuur werkende studente hul tyd?
Die model is van meet af ontwikkel om werkende studente tegemoet te kom. Klasroosters word vooraf beskikbaar gestel. Studente het daarom genoeg tyd om vooruit te beplan sodat hulle steeds hul werks- en gesinsverpligtinge kan nakom. Studente het ook die opsie om minder modules per jaar te neem ten einde hul studielading só te verlig en seker te maak dat hulle uiteindelik hul studie teen ‘n realistiese en haalbare pas suksesvol kan voltooi. Al is hierdie opsie beskikbaar, word daar steeds van studente vereis om binne ‘n voorgeskrewe maksimum tydperk hul studie te voltooi. Goeie persoonlike tydsbestuur is daarom steeds nodig.
Wat van onderbrekings as gevolg van die pandemie?
Die beste van alles is dat jy jou nie hoef te bekommer oor onnodige studie-onderbrekings nie. Desnieteenstaande die inperkingsmaatreëls kon Akademia in 2020 naatloos voortgaan met aanlyn-klasse – dít sonder om bykomende druk op studente te plaas! Ten spyte van ʼn ontwrigtende jaar wat wêreldwyd ervaar is, kon 226 na-uurse studente hul studie aan Akademia aan die einde van verlede jaar voltooi – dit was die meeste kwalifikasies, tot nou toe, wat deur die instelling toegeken is!
Hoe betaal studente?
Die goeie nuus is dat studente wat reeds werk en ʼn inkomste verdien solank kan begin om terselfdertyd hul studiegeld af te betaal. Hierdie metode help talle studente om rentekoste wat met studielenings gepaardgaan, te bespaar. Studiekoste kan ook minder per jaar wees indien studente besluit om minder modules te neem en hul studie oor ‘n ekstra jaar of twee te voltooi. Natuurlik kan van eksterne finansiering gebruik gemaak word as die bogenoemde opsies steeds nie sakpas is nie.
Aansoeke vir studie in 2022 is reeds oop. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!
Bogenoemde artikel is deur ‘n onafhanklike persoon, onderneming of instansie saamgestel. Menings en standpunte wat in die skrywe gestel word, is nie noodwendig die standpunt of beleid van KragDag, sy werknemers, die nuusbriefredakteur of enige van sy aandeelhouers nie.