Die waarde van jou eie kostuin
Vanoggend draal die deuntjie en lirieke van die ou bekende en geliefde FAK-liedjie, Dis heerlike lente, deur my kop.
Dis heerlike lente, die winter’s verby;
weer nooi berg’ en klowe vir jou en vir my.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Die bergklim is heerlik, dit hou mens gesond.
Die vroe-, vroeë môre het goud in die mond.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Woorde: Theo W. Jandrell en G.G. Cillié (FAK)
Wat ’n wonderlike voorreg is dit nie om weer eens ’n nuwe seisoen te mag beleef nie! Dié keer een wat die belofte inhou van nuwe lewe en groei. En hoeveel te meer verryk hierdie ervaring van lewe en groei jou nie wanneer jy jou eie groente kweek nie. Daar is min dinge wat jou soveel genot verskaf as om te sien hoe ‘n saadjie ontkiem, ’n plantjie groter en sterker word en uiteindelik aan jou ’n oes lewer. En dan die heerlikste ondervinding van alles – om vars groente, vrugte en kruie in jou tuin te pluk en as ’n maaltyd voor te sit! Nie net is tuisgegroeide kos gewoonlik smaakliker en meer voedsaam nie, maar jy kan beheer hê oor hoe peste en plae in bedwang gehou word – verkieslik op ’n natuurlike, holistiese wyse wat nie gifstowwe insluit nie.
Deesdae is ons almal opnuut bewus van hoe belangrik vars lug, oefening en genoegsame sonlig is. Wanneer jy in jou eie kostuin woel en werk, kry jy al drie gratis en verniet. Onthou net om steeds maar ’n sonskerm en sonhoed te dra en probeer om nie op die hitte van die dag te wil spit en grawe nie. Drink gereeld vloeistof om jou gehidreer te hou. Wees ook bewus van hoe jy beweeg – moet byvoorbeeld nie swaar potte alleen optel nie en werk tog maar ekstra versigtig met skerp tuingereedskap. As jy al die veiligheidsmaatreëls in gedagte hou, kan jy heerlik ontspan en die tydverdryf geniet. Woel met jou vingers deur die grond en ruik die klam aarde. Span al jou sintuie in om die oomblik vas te vang. Sien hoe krioel ’n erdwurm, luister hoe kwetter ’n mossie en voel die bries oor jou wange streel. Onthou dat jy besig is om lewendige goed – plante – te versorg, en dat dit jou sal beloon met vars, organiese groente, vrugte en kruie.
Die kweek van eetbare produkte hoef nie ’n anti-sosiale ervaring te wees nie, behalwe as jy dit so verkies. Jy kan immers jou hele gesin daarby betrek. Dalk steek jy nog ’n buurman of twee aan en kan julle vorentoe onder mekaar van julle gekweekte produkte uitruil – ’n mandjie vye vir ’n sak aartappels of patats. Dit is ook raadsaam om bessies en ander superkosse te groei, want dié is gewoonlik peperduur in die winkels. Kostuinmaak kan ’n opwindende en baie belonende én bevredigende stokperdjie wees wat terselfdertyd ’n positiewe leefstylverandering kan teweeg bring. Behalwe al die voor-die-hand-liggende voordele wat tuisgekweekte groente, vrugte en kruie inhou, is dit ook ’n ekonomiese tydverdryf wat jou mettertyd baie geld sal spaar. Jy kan ook van jou produkte verkoop en só ’n inkomste genereer.
Moet nie vergeet om eers navorsing te doen alvorens jy jou kostuin aanlê nie. Leer uit ander se foute, nie jou eie nie. Ek beveel Johan van Zyl en Peter van Noord se boek, Begin jou eie groentetuin, aan as vertrekpunt. Dit word uitgegee deur Human & Rousseau en kan hier bestel word. Dit is ’n omvattende praktiese gids propvol wenke oor hoe om jou eie kostuin te begin en in die proses gesonder, goedkoper, groener en meer mededeelsaam te leef. Jy kan hier my indruk oor die boek lees.