Boekoorsig: Sinkhuisresepte

Ek was baie opgewonde toe ek hoor die gasvrye Willie Strauss se jongste resepteboek getiteld Sinkhuisresepte is pas deur Lapa gepubliseer, want ek het sy debuutboek, Daar is ‘n engel in my koskas, sommer baie geniet. Sinkhuisresepte stel beslis nie teleur nie. Dit is nie net ‘n heerlike versameling resepte nie maar ook ‘n visuele bederf vir die oog met aptytwekkende foto’s en pragtige dekor. Die lekkerleestitels en Willie se stories en vertellinge het my heeltyd laat omblaai om die volgende kreatiewe woorspeling te waardeer.

Sinkhuisresepte beslaan 176 bladsye en meer as 100 smaaklike resepte. Daar is agt afdelings getiteld Voorhek, Voordeur, Gang, Kombuis, Sitkamer, Slaapkamer, Eetkamer en Op die werf. Van die interessante titels is: So by my VY; TJIPS, daar kom ‘n engel; Daar is ‘n veer op jou BLAD-JANg; Sies, jy het VARK-erige gedagtes; Die WORTEL van goed en kwaad en As die engel jou BEET-kry.

Willie skryf in die Voorwoord oor sy sinkhuis in Cullinan: “Hierdie ou Sinkhuis is een van Cullinan se oorspronklike huise. Volgens die papiere is dit in 1905 gebou, in die jare toe mense nog hierheen gestroom het met drome van diamantglans- en glorie. … Dit is inderdaad my droomhuis en hier is meer rykdom as wat enige diamant kan bring. Hierdie boek wat jy nou vashou, is so ‘n droom. Berei die disse vir die mense wat jy liefhet, rond dit af met wat beskikbaar is en soos jy die dag voel. Vandat ek my ma kleintyd voor die Jewel-houtstoof sien kook het, wou ek ook mense toevou met geure van anys en vleispastei, appelkoos en skilferkors. In my eerste kookboek, Daar is ‘n engel in my koskas, kon ek jou neem op ‘n reis deur my kinderdae in die Noord-Kaap en voorstel aan my ma wat so doenig in die kombuis was. Dié keer nooi ek jou om saam met my in my sinkhuis te kom kuier. Ons sal deur my albums blaai en ek sal vir ons mooi musiek aansit. Ons sal op die stoep sit vir oggendtee, terwyl ons kyk hoe die swane in my dam swem. En wanneer jy honger is, gaan ons sommer by die kombuistafel sit vir iets lekkers.”

Ek lys hier ‘n paar van die heerlike resepte in die boek: vyevierkantjies; botterskorsie-en-spektertjies; lekkerbek-ertjiesop met Russiese worsies; flippen lekker hoender; tunarol; wildspastei met slapdeegkors; boeliebief-souttert; sinkhuissopmengsel; rooikop-eiland se sultanablatjang; ma se biltong-en-marmite-tert; beesvleis-en-niertjiepastei; dadelbrood met karamelsous; geurige vleispasteitjies; vyfbeker se brandewyntert; geurige varkbredie; pampoenskilbredie; sinkhuislasagne en liplekker koolgereg. Daar is selfs ‘n paar liplekkerresepte vir jou troeteldiere, naamlik kiep-kiep-balletjies vir honde, tunakoekies vir katte en ‘n hart van saad.

Meer oor die skrywer: Willie Strauss in op Kenhardt in die Noord-Kaap gebore. Hy het hom eers in die uitvoerende kunste uitgeleef maar toe begin kosrubrieke skryf vir die Rapport-tydskrif My tyd. Hy lewer gereeld kospraatjies op RSG en Pretoria FM en verskyn as gas op verskeie TV-programme. Ons ken hom ook as mede-aanbieder van Kos is oppie tafel op die onafhanklike kanaal ASTV. Willie toer tans deur Suid-Afrika met sy produksie Willie kook.

Kompetisie

Een gelukkige KragDag-leser kan ‘n eksemplaar van Sinkhuisresepte wen. Die boekprys kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 Mei 2025.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

6 Comments

  • Ek hou van kosmaak, en geniet elke nuwe resep wat ek ontvang. ?baie dankie vir die geleentheid om te kan deelneem. Wanneer die resepte saam met stories gepubliseer word, is dit net soveel lekkerder om te lees en te bak en te brou.

  • Die boek het my nou baie na my pa laat verlang. Hy het op Rooikopeiland grootgeword, een van 9 kinders, en dalk is dit nog my groot ouma se sultanablatjangresep wat hierin beskryf word. Hulle was baie arm, maar sultanas, die klein baie soet korreltjies nog voor die hormoonbehandelings, was beskikbaar en konfyt en blatjang altyd daar om vars gebakte brood of vaalvleis hemels te laat smaak. Drie en veertig van ons kinders het die naweek van 26 April saamgetrek by Oranjerus by Kanoneiland vir die Barnard reunie. Daar is gelag, gesels en soms ook saamgehuil oor tye wat nooit weer sal wees nie. Die boek sal ek altyd kan gebruik en waar meeste van ons kinders grootgeword het in die Noord Kaap, party as kanaalape langs die rivier, ander op karoovlaktes van Carnavon en party met die rooi kalaharisand tussen hulle tone sal hierdie vir my’n baie kosbare besitting wees.

  • KOOKBOEK KOMPETISIE
    Daar is niks vir my lekkerder as om vir my gesin iets spesiaals voor te berei nie – ‘n kookboek gee my nuwe idees om hulle te verras! Ek het ‘n liefde vir kos, maar sukkel soms met idees. Ek hak vas met dieselfde ou resepte. dus hoop ek om nuwe inspirasie en kombinasies te ontdek as ek hierdie Kookboek wen.
    Ek hou styf duime vas.

  • O ek is so lief vir lees en soek ook heeldag nuwe resepte.
    Ek is ontsettend lief vir kismaak en sal baie graag die boekke Wil he

  • Ek woon in Cullinan, soos Willie en is noudat ek afgetree het ‘n kranige kaasmaker en ook bakker.

  • Hello, Ek val sommer met die deur in die huis, want dit is in alle geval die beste manier om gou tuis te voel. Ek is getroud met my liefling vrou wat ek in Kanada ontmoet het. Nadat ons vir ‘n paar jaar in Suid-Afrika gebly het, het ons besluit om vir ‘n tyd die wêreld in Kanada te gaan verken. Ons het ‘n paar jaar gelede weer die terugreis aangepak en geniet die sonnige Suid-Afrika in die Langkloof,tussen die berge, terdee. Noudat ons weer gevestig is, begin die oorsese familie nuuskierig raak en kom een na die ander kuier. Dit sal lekker wees om van die watertand resepte aan die buitelanders op te dis sodat hulle kan ervaar wat dit beteken om hier aan die suidpunt van die kontinent van lig te woon. Mooi bly. Jannie

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui