
Laai jou Selfstandigheidsgids hier af
“Selfstandigheid is ’n reis en nie ’n bestemming nie.”
Die KragDag Selfstandigheidsgids, help jou om jou volgende tree te identifiseer. Dit gaan nie daaroor om alles oornag te verander nie, maar om doelgerig minder afhanklik en beter voorbereid te word.
“Die pad na groter selfstandigheid begin nie by groot planne nie, maar by die besluit om verantwoordelikheid te neem vir die volgende stap.”
Die Selfstandigheidsgids is die laaste dag van KragDag 2026 aan die einde van die Kopskuifateljeeprogram gesamentlik deur Lex Libertas en KragDag bekend gestel. Die gids bevat praktiese en gedagteprikkelende inhoud oor verskillende terreine waarop huishoudings, plase en ondernemings hulle kan inrig vir groter selfstandigheid.
Opvoeding en vaardighede
Watter kennis en praktiese vaardighede het jou gesin nodig om probleme self op te los, by veranderende omstandighede aan te pas en nuwe geleenthede te skep?
Die gids help jou om te dink oor vaardighede wat binne jou gesin ontwikkel kan word, die toerusting van kinders vir die lewe en die waarde daarvan om kennis prakties toe te pas.
Energie, water en voedsel
Elke stap wat jou toegang tot noodsaaklike hulpbronne meer betroubaar maak, verminder jou blootstelling aan stelsels waaroor jy geen beheer het nie.
Dit hoef nie met ’n omvangryke stelsel te begin nie. ’n Klein noodvoorraad, ’n alternatiewe waterbron, ’n groentetuin of ’n eenvoudige plan vir kragonderbrekings kan reeds ’n betekenisvolle verskil maak.
Behuising en selfdoen
Die vermoë om basiese herstelwerk en instandhouding self te doen, bespaar nie net geld nie. Dit maak jou ook minder afhanklik van ander wanneer iets verkeerd loop.
Selfdoenvaardighede word mettertyd opgebou: een stuk gereedskap, een nuwe vaardigheid en een voltooide projek op ’n slag.
Veiligheid
’n Goeie veiligheidsplan berus nie op een produk of voorsorgmaatreël nie. Dit bestaan uit verskillende lae wat mekaar aanvul, van goeie gewoontes en fisiese beveiliging tot tegnologie, kommunikasie en betrokkenheid by jou gemeenskap.
Finansiële selfstandigheid
Finansiële selfstandigheid beteken nie noodwendig dat jy reeds finansieel onafhanklik is nie. Dit begin by groter beheer: om te weet waarheen jou geld gaan, skuld doelgerig te verminder, noodvoorsiening op te bou en nuwe inkomstemoontlikhede te ondersoek.
Stel jou eie plan saam
Die gids sluit ’n persoonlike selfstandigheidsplan in waarmee jy jou sterk punte, kwesbaarhede en volgende praktiese treë kan bepaal.
Jy hoef nie alles tegelyk te doen nie. Kies een terrein, identifiseer een haalbare stap en begin daar.
Want dit is hoe selfstandigheid groei. Druppels word strome. Strome word riviere.
