Vroue van die Bybel
Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM) publiseer Vroue van die Bybel deur Wayne Barber, Eddie Rasnake en Richard Shepherd. Hierdie boek beslaan twaalf week lange interaktiewe indiepte studies oor lewensbeginsels aan die hand van merkwaardige vroue wat ons in die Bybel leer ken.
Hedendaagse vroue sal hierdeur ontdek dat God vroue oproep om ’n betekenisvolle verskil in hulle gemeenskappe, huise en kerke te maak. Lesers leer uit die historiese perspektief op die Bybelse vroue se lewens, dat wanneer hulle in alle omstandighede op God vertrou, Hy hulle oorvloedig seën.
KragDag respekteer en eer die rol wat vroue speel, nie net in bogenoemde sleutelareas nie, maar veral ook in die ekonomie en die strewe na selfstandigheid. Woon maar enige KragDag-ekspo by en jy sal vroue aan die woeker en werk sien.
Die lokteks op Vroue van die Bybel se agterblad lui: “Die vroue van die Bybel speel ’n integrale, wesenlike en beslissende rol in God se ewigheidsplan. Uit ’n hemelse oogpunt is vroue altyd uniek, weergaloos en onvervangbaar – hulle speel nooit ’n ondergeskikte rol in God se koninkryk nie. Soos hierdie Bybelstudie wys, demonstreer hierdie vroue van die Bybel vir ons die verhewe ideale van geloof en getrouheid, deugde en waardes, verstand en skoonheid, bevryding en vindingrykheid, diensbaarheid en opofferings.”
Die twaalf vroue wie se lewens indiepte bestudeer word, is Eva (om God te volg nadat ons misluk het), Sara (’n gelowige vrou), Mirjam (vertrou God met jou plek in die lewe), Ragab (’n nuwe begin met geloof), Debora (dis nie jou stryd nie, maar God s’n), Rut (om ons Verlosser te volg), Hanna (bring jou onvrugbaarheid na die Here), Ester (bruikbaar vir God waar Hy ons ook al plaas), die deugsame vrou (lewenslesse uit Spreuke 31), Maria en Marta (sien wat ewig is), Maria, die ma van Jesus (die reis van ’n diensmaagd) en die bruid van Christus (lewe in die skoonheid van heiligheid).
Die drie manlike skrywers sê in die voorwoord: “Ons doel is om jou na die Woord te neem, en spesifiek daardie gedeeltes wat ons voorstel by die prominente vrouekarakters van die Bybel, en jou self te laat sien wat God te sê het. Deur hierdie vroue van die Bybel het Hy ’n boodskap vir mans sowel as vroue oor wat dit beteken om God te volg. Ons bid dat hierdie studie jou sal help om Hom nog nader te volg.”
Hulle behandel vrae soos die volgende:
• Kies jy die pad van bitterheid of die pad van gebrokenheid wanneer jy voor kommer of probleme te staan kom?
• Weet jy dat jy die verlede op die altaar kan plaas, want jy kan dit nie verander nie?
• Is jy doenig met sake wat ewigheidswaarde het?
• Weet jy dat God groter is as enige situasie waarin jy jou mag bevind?
• Het jy jou lewe volkome aan die Here oorgegee?
• Is jou karakter al deur teëspoed so gelouter dat dit soos goud blink?
Vroue kan met vrymoedigheid hulle roepings uitleef in die wete dat hulle vir God belangrik is. Hy gebruik vroue om ’n verskil te maak.
Skaf jou kopie van Vroue van die Bybel hier aan.
Kompetisie
Een gelukkige KragDag leser kan ’n kopie van Vroue van die Bybel wen met die komplimente van die uitgewer. Lewer kommentaar hier onder en vertel waarom jy graag die boek sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Augustus 2023.
Ek sal baie graag wil leer hoe vroue uit die Bybel uit, die uitdagings waarvoor vroue te staan kom hanteer het vanuit n Christelike oogpunt.Ek het n voorbeeld nodig.
Dit sal insiggewend wees om uit ‘n nuwe hoek na die vroue van die Bybel te kyk. Ons ken tog die stories van die vroue maar ons kyk vas teen ons eie gevoelens en interpretasies. Hierdie sal verseker ‘n vereikende boek wees om te lees.
Geluk, Tanya. Jy wen ‘n kopie van Vroue van die Bybel. Ons sal jou kontak in verband met die aflewering van jou prys.
Om te leer van vroue uit die Bybelen hoe hul situasie baie met ons situasie in 2023 ooreenstem.