
Toe die pad wegval, het mense hul eie pad gemaak
’n Vertelling deur Daryl Hardy, stigter van CityGates
“Ek het iets in Mosambiek gesien wat my weer herinner het hoekom selfstandigheid nie ’n slagspreuk is nie, maar ’n noodsaaklikheid.”
Só begin Daryl Hardy, stigter van CityGates, wat deur alles altyd die eer aan die Here gee, sy verhaal oor die twee weke ná 18 Januarie toe hy in Mosambiek vasgekeer was nadat gedeeltes van die EN1 weggespoel het.
Die vloede was verwoestend. Die skade was groot. ’n Hoofpad het eenvoudig opgehou bestaan. Maar, sê hy, dit is nie die verwoesting wat hom bybly nie. Dit is wat daarna gebeur het.

“Toe die pad verdwyn, het mense nie gaan sit en wag nie. Hulle het begin plan maak.”
Met formele voorsieningskettings wat tot stilstand gekom het, het die informele ekonomie onmiddellik begin leef. Vis is vir mango’s verruil. Vars produkte van ’n gestrande vragmotor is teen brood uitgeruil. Wat beskikbaar was, het waarde gehad. Wat jy gehad het, kon jy gebruik. Wat jy nodig gehad het, kon jy deur ruil bekom.

“Dit was nie net chaos nie,” vertel Hardy. “In die wanorde was daar ’n orde wat van onder af ontstaan het. Sonder regulasies, sonder beleidsraamwerke, sonder skuld.”
Vir hom was dit ’n tasbare bewys van iets waarin hy lankal glo: die werklike ekonomie leef in mense, nie in stelsels nie.
“Jy sien dit wanneer mense nie afhanklik is van ’n sentrale voorsiener om te oorleef nie. Jy sien dit wanneer ’n gemeenskap besef: ons kan self.”
Hy praat nie romanties oor rampe nie. Niemand kies vloede nie. Niemand kies om vasgekeer te wees nie. Maar hy wys daarop dat krisisse bloot ontbloot wat reeds daar is.
“Selfstandigheid kan jy nie in ’n noodgeval aanleer nie. Dit moet reeds deel wees van hoe jy dink en leef. Wanneer die infrastruktuur faal, staan karakter op.”

Volgens Hardy is die grootste gevaar nie die verlies van ’n pad nie, maar die verlies van die vermoë om self te handel en te produseer. Hy waarsku teen ’n kultuur waar gemeenskappe wag op hulp, lenings of toestemming voordat hulle beweeg.
“Lenings maak jou nie vry nie. Produksie maak jou vry. Handel maak jou vry. Eienaarskap maak jou vry.”
Hy glo die antwoord lê nie eerstens in groot internasionale reddingsplanne nie, maar in belegging, vaardighede en plaaslike ondernemings wat waarde skep waar mense woon.
“Wanneer mense hul eie brood kan bak, hul eie produkte kan verhandel, hul eie infrastruktuur kan herstel, verander alles. Dan is ’n pad belangrik, maar nie jou enigste lewenslyn nie.”
Vir Hardy sluit hierdie ervaring direk aan by die denke agter KragDag: doen jou eie ding. Bou jou eie kapasiteit. Leer vaardighede. Skep waarde.
“Selfstandigheid is nie isolasie nie,” sê hy. “Dit is verantwoordelikheid. Dit beteken jy dra by. Jy wag nie vir toestemming om nuttig te wees nie.”
Hy het Mosambiek verlaat met ’n oortuiging wat sterker is as voorheen: gemeenskappe wat kan handel dryf, ruil en produseer, is veerkragtig. Gemeenskappe wat net kan ontvang, bly kwesbaar.
“Ek het kaalvoet mense gesien wat kos deel met vreemdelinge en steeds plan maak om iets te verkoop of te verruil. Dit is waardigheid. Dit is die werklike ekonomie.”
Wanneer ’n pad wegval, word dit duidelik wie kan aanpas en wie wag. En dalk is dit die les wat verder strek as enige ramp: bou só dat jy kan staan wanneer die stelsel val.
“Selfstandigheid begin lank voor die krisis,” sê Hardy. “En dit bepaal hoe jy deur die krisis stap.”
