Sonkragstelsels: Aanlyn en in-persoon kursusse
Die beskikbaarheid (of dan eerder die onbeskikbaarheid) van elektrisiteit het so ‘n beduidende invloed op die ekonomie en ons daaglikse lewens dat dit ‘n goeie idee is om meer oor groenenergie te wete te kom. Ek het so bietjie gaan loer na bekostigbare en selfs gratis aanlyn kursusse oor sonergie en sonkragstelsels.
Volledige sonkragstels het drie komponente, naamlik sonpanele, ‘n omsetter en batterye. Huishoudings wat oor volledige sonkragstelsels beskik, kan onafhanklik van die nasionale kragnetwerk funksioneer aangesien dit bystandkrag bied en ook elektrisiteit opwek. Dit is dus die moeite werd om jou huiswerk oor sonkragstelsels te doen.
Gaan loer gerus na die volgende kursusse:
Kursus in Afrikaans
Vir diegene wat graag ‘n kursus in Afrikaans wil bywoon, is daar Carel Ballack se Verstaan en beplan jou sonkragstelsel-kursus wat periodiek op die Diamantvallei Landgoed aangebied word. Gaan lees gerus meer oor die kursus se doelwitte en voorvereistes sowel as die struktuur en inhoud op die Waantu Kaartjie Winkel se webwerf.
Die kursus bestaan uit sowat 100 skyfies wat in hoofstukke, modules, onderwerpe en konsepte opgedeel is. Ballack is ‘n konsultant wat inligting en data aan rolspelers verskaf om besigheid strategieë vir die hernubare energie sektor in Suid-Afrika en Afrika te ontwikkel.
Hou ook KragDag se webtuiste en nuusbrief dop vir die aanlyn kursus wat vanaf Maart 2024 aangebied word.
Alison
NPTEL (The National Programme on Technology Advanced Learning) bied hierdie 15 uur lange gratis diploma kursus (CPD-geakkrediteerd) getiteld Diploma Solar Energy Engineering aan. Dit beslaan 9 Engelse modules: Introduction to Solar Energy, Solar Radiation Geometry, Solar Radiation Estimation, Fundamentals of Photovoltaic Systems, Standalone Photovoltaic Systems, en Grid-Connected PV System. Daar is ook twee mini-assesserings en ‘n finale assessering.
Bykans 16 000 studente het al hierdie kursus voltooi. NPTEL bied kursusse aan op universiteitsvlak in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Die Indiese Ministerie van Menslike Hulpbronne en Ontwikkeling befonds dit. Hulle kursusse bestaan uit materiaal wat uit lesings van deelnemende professore geneem word.
Udemy
Jesse Gorter bied die volgende kursus aan op Udemy, naamlik Off-Grid Solar Energy Sytems: Design and Operation – 2023. Gorter beskik oor ‘n meestersgraad in hernubare en volhoubare energie wat hy aan die Carleton Universiteit in Ottawa, Kanada, verwerf het. Hy het ook ‘n B.A.-graad in meganiese ingenieurswese, spesialiseer in energie tegnologie en het meer as ‘n dekade se praktiese ervaring.
Die kursus is geskik vir beginners wat graag meer natuur gebonde wil leef. Dit leer jou alles oor energie sisteme en om vry van die krag netwerk te leef. Dit beslaan drie modules wat elk drie afdelings het en in kort videos aangebied word. Ek gee die titels van die hoofstukke deur in Engels: Generation (Solar Panels, Generators, Altenators); Storage (Batteries, Charge Controllers, Fundamentals of Electricity); Consumption (Inverters, Wiring, Fuses & Breakers).
Coursera
Neal Abrams, ‘n medeprofessor aan The State University of New York, bied ‘n kursus getiteld Solar Energy Basics aan op Coursera. Dit is ‘n 15 uur lange kursus wat vyf modules beslaan, nl. Introduction to solar power systems, Determining energy needs and sizing a PV system, The growth of photovoltaic markets, Infrastructure of photovoltaics en Basics of solar power capstone.
Abrams bied ook ‘n 23 uur lange kursus getiteld Introduction to Solar Cells aan wat elf modules beslaan, naamlik Introduction, History of solar cells, Why solar energy, Power from solar cells, Modelling a solar cell, How do solar cells work, Efficiency of solar cells, Silicon solar cells, Thin film solar cells, Polymer solar cells en Solar cell technologies.
Afsluiting
C.J. Langenhoven het gesê: “Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan ‘n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.”
In hierdie geval is dit eerder dat jy jou daarop toespits om jou huishouding minder afhanklik van die kragnetwerk te kry. Rus jou toe met die nodige kennis.