Riglyne vir die hantering van onwettige grondbesettings

Ons leef in tye waar grondgryp en grondbesettings, nie net op plase nie, maar ook in stedelike gebiede ‘n realiteit is. Skrywer Nico Uys het ‘n aantal riglyne saamgestel wat deur TLU-SA aan hulle lede versprei is. Alhoewel die riglyne gemik is op die plaaseienaar, kan stads- en dorpsbewoners daarby baat vind om hiervan kennis neem. Om die erns hiervan te onderstreep sal dit goed wees om onderstaande riglyne te beoordeel aan die hand van advies – Know your rights: when can you be evicted and how? – wat oor  “onwettige uitsettings” gegee word en waaroor grondbesetters ingelig word. Sien ook die SERI-webblad – veral wie die befondsers van hierdie organisasie is en ook wie deur hierdie befondsers verteenwoordig word.

Die riglyne:-

  • Kry so gou as moontlik lugfoto’s van jou plaas. Druk dit en bewaar of hou dit op n geheuestokkie. Maak seker dat die datum daarop gesien kan word. Google Maps werk goed hiervoor. Sodoende kan jy in die hof bewys dat daar geen strukture op jou grond was nie.
  • Boereverenigingvoorsitters of -ondervoorsitters moet probeer om waar moontlik, in GVS strukture te dien. Dit hou kommunikasiekanale oop.
  • Probeer om goeie verhouding met SAPD te handhaaf. Probeer om waar moontlik iets positief vir hul te sê. Dit beteken nie dat daar nie oor foute gepraat moet word nie, maar lof help om hul positief te kry.
  • Waar moontlik, belê in ‘n “dash cam of GoPro” vir jou voertuig. Dit help om videomateriaal te hê as jy dit nodig kry.
  • As daar n plaasbesetting plaasvind moet daar binne 48 uur ‘n brief afgelewer word wat besetters in kennis stel dat die besetting onwettig is. Jy moet sê dat dit privaat eiendom is en dat hul onmiddelik alles moet verwyder wat hul gebring het. Dit is beter as dit ‘n prokureursbrief is – dit dra meer gesag.
  • Kry SAPD om jou te vergesel as jy die brief gaan aflewer.
  • Neem persone saam wat klankopnames kan maak van alles wat gesê word.
  • As jy die brief aflewer, sê weer dat wat hul doen onwettig is en dat hul alles moet verwyder. Maak seker dat iemand van die polisie die boodskap ook in hul eie taal oordra. Dit help as jy iemand saamneem wat ook die taal magtig is. Dit verskaf sekerheid dat boodskap korrek oorgedra word.
  • BLY KALM. Plaas ‘n wag voor jou mond! Maak seker dat jy geen kru taal gebruik nie! Onthou hul kan dit wat jy sê ook opneem en teen jou gebruik. Dit help om iemand wat goeie onderhandelingsvaardighede het, saam te neem. Mense wat nie ín die situasie is nie, dink meer objektief en sien goed raak waaraan jy dalk nie dink nie.
  • Neem soveel moontlik boere saam. Dit dien as magsvertoon. Maak seker almal weet wat gedoen mág word en dat hul optrede ook binne die wet is.
  • As die plaasbesetters kwaad word, maak hul foute! Dis wat ons wil hê! Solank jy dit weldeurdag doen en nie toelaat dat jou eie emosies oploop gaan nie, werk dit uitstekend.
  • Indien geen van bogenoemde werk nie, moet ‘n hofinterdik verkry word, sodat die balju in samewerking met SAPD hul kan verwyder. Dit is beter om POPS te betrek omdat plaaslike SAPD lede maklik geïntimideer kan word. Hul families en huise is ook soms in die spervuur.
  • Alle optrede moet met selfvertroue gedoen word, sodat niemand dink jy is onseker nie. Dit word maklik uitgebuit.

Erkenning word hiermee gegee aan GroundUp en fotograaf Ashraf Hendricks vir foto’s in die artikel asook in die nuusbrief wat na hierdie artikel verwys.

Die riglyne in hierdie artikel het oorspronklik in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 01/18 verskyn. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.

 

 

 

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui