Die APA en die wyse Weste
Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) het in 1988 sy ontstaan in Pretoria gehad. Ons lei predikante, onderwysers, sielkundiges en joernaliste met Afrikaans as voertaal op, tesame met soveel ander beroepe wat veelsydigheid en meningsvormers vereis. Ons strewe om dit met ’n bepaalde soort wysheid te doen. Daarom het ons nie net waardering vir die wyse manne uit die Ooste nie. Ons is ook oortuig daarvan dat die vaders van die Weste belangrike grondslae vir ons kultuur daargestel het. Dit is hierdie erfenis wat vandag uit soveel oorde aangeval word. Te veel universiteite in die Weste, ook in Suid-Afrika, het skaam geraak oor hulle Westerse erfenis wat in soveel vakgebiede beduidende bydraes gelewer het. By die APA is ons anders oortuig. Dit is egter wel nodig dat ons weer sal moet verduidelik wat met die Westerse erfenis bedoel word.
Watter Weste?
Die literêre denker, Joseph Pearce, het onlangs in ‘n nuusbrief belangrike bakens oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Etikette maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en die sogenaamde nuwe Weste. Laasgenoemde gaan oor die era van die ná-Verligting. Die ou Weste kom egter neer op Athene wat lankal vir Jerusalem ontmoet het en ’n deurdronge Christelike wêreldbeskouing daargestel het waarbinne die vakwetenskappe kon gedy. Dit word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat die twee genoemde visies op die Weste steeds in ‘n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) het reeds hieroor besin en duidelik standpunt ingeneem vir die goeie ou wyn. Ons is oortuig dat dit belangrik is om die ou Weste te herwaardeer. Dwaalligte wat voorgee dat die permanente dinge wat die ou Weste geïdentifiseer het, nou uitgedien is, moet daadwerklik teengestaan word. Keer op keer het realiteit al in die geskiedenis teruggeskop en voortgalop, en dit is reeds aan die gang. Daar is ook verrassende mede-galoppers op hierdie pad.
Afhangende van waar jy oor hierdie standpunt staan, sal jy byvoorbeeld vir Rusland óf as vyand óf as medestryder van die Weste beskou. Pearce wys daarop dat hoewel Rusland nie geografies Wes gekarteer kan word nie, die invloed van Marx en Engels die na-Verligtingsera verteenwoordig wat ook op die ouer Rusland inbreuk gemaak het. Dit beteken dat ou Rusland en die ou Weste saam om ’n kampvuur kan sit, maar dat dit anders gesteld is met die Weste van post-Verligtingsfaam. Daarom is dit nodig om duidelik te definieer. Die bekende skrywer, C.S. Lewis, het homself by geleentheid beskryf as ‘n ou dinosourus. Hiermee het hy terugverwys na die oesjaar-Weste. Dit is hierdie Weste wat met die beste uit die hede bemiddel moet word. Dit sluit ook elke standpunt in wat vandag toonaangewend is.
Universiteite is by uitstek die instellings wat die kennis en wysheid van die verlede met die hede in dinamiese gesprek bring. Die APA is ’n instelling wat dit bewustelik wil doen. Ons is oortuig dat die instellings wat die na-Verligting navolg tot by die punt dat alles deesdae gedekoloniseer moet word, afstuur op ’n afgrond. Dit beteken dat die hede juis nie onbevange met die verlede in gesprek kan tree nie. Die APA streef eerder daarna dat die bemiddeling met die verlede waarderend, eerlik en deurdag moet geskied. En so, met behulp van hierdie tipe werkswyse, is ons oortuig dat ons anderkant die kortsigtigheid van die nuwe kolonisering aan universiteite kan tree. So bedien ons letterlik die beste van twee wêrelde aan ons studente.
Wat bied die APA?
Die APA het sy ontstaan te danke aan teologiese opleiding. Dit word steeds as die instelling se groot bate beskou. Vanweë die veranderende omstandighede word daar tans ’n nuwe geregistreerde Bdiv-graad in teologie aangebied, waarby studente van verskeie denominasies inskakel. Hulle kan so in vier jaar ’n klassiek-begronde teologiese graad verwerf en by hulle eie denominasie of netwerk verder gaan afrond as hulle so besluit. Die APA bied verder ook ’n unieke BA-graad in aansluiting by ons teologiese opleiding aan. Dit is tans vir die meeste studente by ons instelling die eerste stap tot beroepe in veral die hoër onderwys, maar ook vele ander meningsvormende beroepe.
Die onderwys bly maar altyd belangrik vir die vorming van ’n volgende geslag. Vanaf Januarie 2018 bied die APA hiermee saam ook die geakkrediteerde Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aan. Die NGOS dien as ʼn verdere professionele afrondingskwalifikasie vir studente wat ʼn Baccalaureusgraad voltooi het en tot die onderwysprofessie wil toetree. Studente wat hierdie kwalifikasie verwerf, is baie beter in staat om bewys te lewer van die vaardighede wat nodig is om ʼn effektiewe onderwyser te wees. Met hierdie sertifikaat het iemand ’n baie beter kans om in te stap in die onderwys van leerders vanaf graad 7 tot 12 by enige plek in die wêreld. By baie skole is NGOS selfs aanvaarbaar vir die skoolgee in enige graad.
Die geleenthede vir diegene wat in meningsvormende beroepe wil studeer, brei ook voortdurend uit. Ons het byvoorbeeld onlangs ook Kommunikasiekunde, Politieke Wetenskap en Ekonomie begin aanbied. Dit beteken dat ’n student die gewilde PPE (wat internasionaal staan vir Philosophy, Political Science and Economy) by ons te neem. Dit is ’n baie gewilde keuse vir diegene wat belangstel in die groot samelewingskwessies van ons tyd. By die APA staan ons ook opgewonde op die voorpunt van die herwaardering van Latyn. Ons het ’n bepaalde skool vir Latyn by die Universiteit van Pretoria oorgeneem en ontwikkel dit nou verder. Die naam daarvan is Schola Scripta. Hierdie kursus is ontwerp om enige belangstellende vanaf graad 6 (11-12 jaar) aan die rykdom van Latyn en die klassieke wêreld bloot te stel. Ons oudste student was onlangs 82 jaar en besig om kursusvlak III te voltooi. Ons leermetodes maak dit aangenaam en vol leeravontuur.
Die teologiese graad is ’n kontakprogram, maar die ander genoemde rigtings is almal geregistreer vir afstandonderrig. Ons kan dus mense oor die hele land en selfs in ander lande bedien. Kontak ons gerus by www.apa.ac.za vir meer inligting.