‘n Voorstel vir verspreide kragberging en -opwekking – ‘n visie vir kragvolhoubaarheid
Volhoubare elektrisiteit is noodsaaklik om langtermyn ekonomiese groei te bewerkstellig. Ekonomiese groei is nodig om welvaart te skep en om mense se welsyn te koester. In ‘n onlangse Kragopwekkingseminaar, gereël deur Akademia en Soldariteit, is gepoog om ‘n visie vir kragvolhoubaarheid in ons gemeenskap te gee. Dit word gedoen teen die agtergrond van ‘n staat, wat weens staatsverswakking, self nie meer die vermoë daartoe het nie. Daar is gewys op die innovasie-moontlikhede wat tegnologie bied om alternatiewe in elektrisiteitsvoorsiening in die gemeenskap te vind deur “self te doen”. So ‘n ingesteldheid en gesindheid vind byval by KragDag en die KragDag-gemeenskap en dit word met groot empatie bejeën. Juis, om hierdie rede, wil die skrywer, tesame met KragDag, ter wille van gesprekvoering, ‘n gemeenskapsoplossing voorstel en in die oopte plaas. Uitruil van gedagtes en idees deur rolspelers, belanghebbendes en belangstellendes word hiermee aangemoedig.
Wat is die probleem wat die voorstel wil aanspreek?
Ewewig-skepping tussen vraag en aanbod van elektriese krag:
Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se elektriese energie word deur mega-steenkoolkragsentrales, vanweë logistieke redes, naby steenkoolmyne opgewek. Met transmissielyne word hierdie energie oor lang afstande na groot verbruikersentra vervoer, waarvandaan dit na gebruikers versprei word. Steenkoolkragstasies, tesame met Koeberg, wat ‘n kernkragstasie is, ‘n paar hidro-elektriese kragstasies en gasturbine-opwekkers funksioneer almal as kragbronne wat versendgereed (dispatchable) is – dit wil sê, krag kan op aanvraag en versoek na verbruikers versend word. Hou egter in gedagte dat groot kragstasies krag teen vooruitbeplande aanvraag lewer, maar kan nie eensklaps na willekeur kraglewering verhoog nie. Verder is daar ook ‘n optimale kragleweringsvlak waarop ‘n kragsentrale kostedoeltreffend funksioneer. Die ideaal sou dus wees dat kragstasies, wat versendgereed is, teen daardie optimale vlak krag sal lewer.
Behalwe vir bogenoemde kragstasies is daar ook ‘n aantal hernubare kragbronne, wat ook tot die kragaanbod bydra en bestaan uit windplase en sonkragstasies. Hierdie kragbronne is egter wisselend omdat die uitset nie konstant, en baie keer nie voorspelbaar is nie. Kraglewering is afhanklik van verskeie faktore soos die wisseling tussen dag en nag, die verandering in seisoene asook die wisselvalligheid van weersomstandighede.
‘n Verdere wisselvalligheid is dat gebruikers se kragbehoefte ook varieer. Die vraag na elektriese krag kan wissel van uur tot uur, van dag tot dag en van maand tot maand. Die vraag wissel tussen dag en nag, volgens die dag van die week, of dit ‘n vakansiedag is en afhangende van die heersende seisoen.
In hierdie omstandighede moet die kraglewering voortdurend en byna momenteel by die kragbehoefte aangepas word. Eskom kry dit onder andere reg deur in tye wanneer daar ‘n lae vraag na elektrisiteit is, oorskotkrag te gebruik om water na hooggeleë damme te pomp. Tydens piek-vraagtye word hierdie water vrygelaat om hidro-elektriese kragturbines aan te dryf om sodoende krag op te wek wat gevolglik kragtekorte aan vul. Elektriese krag word dus gestoor by wyse van gepompte hidro-energieberging vir latere aanwending.
Voorsiening van hernubare elektriese krag:
‘n Verdere probleem is dat Eskom tans nie genoegsaam elektriese krag kan opwek om in toekomstige vraag te kan voorsien nie. Eskom is self bewus daarvan dat hulle nie alléén in die toekomstige enegiebehoeftes van Suid-Afrika sal kan voorsien nie. Verspreide hernubare elektrisiteitsbronne, geïntegreer in mikro-kragnetwerke en virtuele kragsentrales sal na verwagting ‘n al groter rol op die elektrisiteitsvoorsieningslandskap speel.
In hierdie voorstel word die belangrikheid van elektrisiteitsgebruikers, wat terselfdertyd ook opwekkers van hernubare elektrisiteit is – die sogenaamde prosumers (producer plus consumer) – erken en beklemtoon. Die voorstel benadruk ook egter verspreide energieberging by wyse van saamgeperste lug as stoor- en aandrywingsmedium, as die primêre doelwit, terwyl hernubare opwekking, alhoewel ook kardinaal belangrik, ‘n sekondêre oogmerk is en wat voortvloei uit die primêre doelwit. Sodoende tree ‘n ander rolspeler, die prosumager – ‘n samevoeging van producer, consumer en storage – op die voorgrond.
Deur ‘n groot aantal sulke rolspelers in ‘n mikro-kragnetwerk te integreer, word die vermoë gevestig om kraglewering optimaal te versprei, elektrisiteitsvraag en -aanbod intyds te balanseer en om addisionele elektrisiteitskapasiteit aan die netwerk toe te voeg.
Energieberging by wyse van saamgeperste lug (CAES)
Berging van energie deur middel van saamgeperste lug (CAES – Compressed Air Energy Storage) is nie ‘n nuwe idee nie. CAES-stelsels kan breedweg in drie groepe verdeel word. Die eerste verdeling is tussen Grootskaal-CAES en Kleinskaal-CAES. Kleinskaal-CAES op sy beurt kan verdeel word in Laedruk-CAES en Hoëdruk-CAES.
Grootskaal-CAES
Met grootskaal-CAES word beskikbare oorskot-elektrisiteit in die vorm van saamgeperste lug in reuse ondergrondse holtes of grotte teen ‘n druk van tussen 43 en 70 bar (4,3 en 7,0 MPa) geberg. Wanneer gestoorde energie benodig word, word die saamgeperste lug gebruik om krag op te wek deur ‘n lugdrukturbine aan te dryf wat aan ‘n kragopwekker gekoppel is. Tans is daar slegs twee sulke aanlegte in die wêreld, te wete een by Huntorf in Duitsland – ‘n 320MW-stelsel – en nog een by McIntosh, Alabama in die VSA – ‘n 110 MW-stelsel. Die volume van die Huntorf-aanleg se ondergrondse holtes word op 310 000 m3 bereken. Die omvang van die stelsel is só groot dat die invloei en uitvloei van lug in terme van kilogramme per sekonde gemeet word! Ongelukkig is hierdie twee aanlegte nie goeie voorbeelde van die aanwending van CAES nie, omdat die oudste aanleg maar net 42% doeltreffend is terwyl die jongste een darem 54% haal!
Daar is hoofsaaklik twee redes vir hierdie ondoeltreffendheid. Die eerste rede is dat ‘n gas se temperatuur styg as dit saamgepers word. Dieselfde effek word waargeneem wanneer ‘n fiets se wiel gepomp word en die fietspomp warm word. Hitte-energie wat onbenut verlore gaan is ‘n verlies wat ‘n ondoeltreffendheid verteenwoordig. Die tweede rede is dat die vrylating van saamgeperste lug die lug laat uitsit wat gepaard gaan met die afkoeling van die lug. Die afgekoelde lug veroorsaak dat die opwekkingsturbine, as gevolg van ‘n verlaagde druk, nie optimaal funksioneer nie.
Die doeltreffendheid van die stelsel kan egter verhoog word deur adiabatiese prosesse in die stelsel in werking te stel. Dit behels dat hitte wat tydens samedrukking gegenereer word opgevang en geïsoleerd gestoor word. Hierdie hitte-energie word dan gebruik om die lug se temperatuur tydens vrylating te verhoog om sodoende die doeltreffendheid van die opwekkingsturbine te verbeter. Na verwagting word die doeltreffendheid van só ‘n CAES-stelsel verhoog tot om en by 70%. Die eerste adiabatiese grootskaal-CAES-projek, ADELE was beplan om in Duitsland opgerig te word. Die projek is egter uitgestel sonder dat redes verskaf is. Die huidige stand van die projek is ook onbekend.
Kleinskaal-CAES
‘n Groeiende getal navorsers en ingenieurs is egter van mening dat die toekoms van energieberging met saamgeperste lug in kleinskaal- of mikro-CAES lê. Uit die literatuur blyk dit dat saamgeperste lug as ‘n stoor- en drywingsmedium ‘n volhoubare alternatief vir energieberging is. Kleinskaal-CAES is reeds so lank as 100 jaar gelede aangewend om torpedo’s en koekepanlokomotiewe aan te dryf. Meer onlangs is verskeie prototipes van saamgeperste lug motors ontwikkel en getoets soos byvoorbeeld die AIRPod 2.0 Compressed Air-Powered Car. In spesifikasies word aanspraak gemaak dat dié motor ‘n maksimum spoed van 80 km/h het en ‘n reikafstand van 160 km. Kommersialisering van die ontwerp was egter nog nie suksesvol nie… ten spyte van baie beloftes.
Kleinskaal-CAES by lae druk
Kleinskaal-CAES wat teen ‘n lae druk werk se ondoeltreffendheid is nie so akuut soos by grootskaal-CAES nie. Die rede hiervoor is dat mikro-toepassings onbeduidende temperatuurveranderings ondergaan as die stelsel op werkstemperatuur funksioneer. Só ‘n stelsel toon gevolglik naby-isotermiese eienskappe en vind plaas as die druk waarop die mikro-CAES werk minder as 10 bar (1 MPa) is. Dit het die gevolg dat ‘n kleinskaal-CAES by lae druk se doeltreffendheid teoreties tot so hoog as 95% kan wees. Weens die lae druk is die energie-digtheid van hierdie stelsels baie laag en noodsaak dus groot lugdrukreservoirs.
Kleinskaal-CAES by hoë druk
Uit die ontwikkelingsgeskiedenis van die AIRPod 2.0 blyk dit dat daar nog baie probleme met hoëdruk-CAES is. In hierdie voertuie word lug teen ‘n druk van 300 bar of 30MPa in lugsilinders gestoor. Behalwe dat dié soort voertuie eie unieke uitdagings het, soos vinnige herlaaityd en laaitempo van saamgeperste lug in ‘n lugdrukreservoir, asook die veiligmaking van lugsilinders in geval van ‘n voertuigongeluk, is energieverliese met die gepaardgaande energie-ondoeltreffendheid ‘n ontwerpskopseer! Dit is egter moontlik om hoëdruk-CAES se doeltreffendheid aansienlik te verhoog deur dit naby-isotermies te laat werk. Dit kan egter gedoen word deur die lug, in die nabyheid van ‘n groot nie-saampersbare termiese kapasitor soos HARS (Heat Absorbing and Release Structure) of watersproei, te laat saamdruk en uitsit.
Volgens ons is elektro-chemiese batterye, en nie CAES nie, die aangewese energiebergingsmetode vir voertuie. Daarteenoor bied die tegnologie rondom kleinskaal-CAES, laedruk sowel as hoëdruk, ‘n unieke en sinvolle oplossing om verspreide elektrisiteitsberging op prosumager-persele in bedryf te stel. Dit bied verder ook die geleentheid vir ander moontlikhede soos verspreide opwekking van hernubare elektrisiteit, asook die benutting van die CAES se hitte en afkoeling vir huishoudelike aanwending.
Laedruk-CAES se doeltreffendheid is hoër as hoëdruk-CAES alhoewel dit, vir dieselfde energiebergingskapasiteit, ‘n groter lugdrukreservoir benodig. Op prosumager-persele is dit egter in die meeste gevalle nie ‘n beperkende faktor soos by lugdrukvoertuie nie. Ondoeltreffendheid by hoëdruk-CAES is nie noodwendig ‘n verlies nie, aangesien dit deur ko-generasie aangewend kan word om warmwatergeisers te verhit en geboue binnenshuis te verwarm. Hitte-energie van koelkaste, vrieskaste en verkoelers, kan ook tydens luguitsetting, met die gevolglike verkoelingseffek, na die CAES gepomp word deur middel van ‘n hittepomp.
Verder is dit moontlik dat die hervulling van die reservoir teen ‘n lae tempo oor ‘n 24 uur-siklus kan geskied. Sodoende word naby-isotermiese werking aangehelp en verliese kan verder beperk word.
Die voorstel
Die kern van die voorstel is ‘n goedkoop tegniek om ondergronds ‘n lugdrukreservoir vir laedruk-en hoëdruk-CAES te implementeer. Die aanduiding is dat die helfte van ‘n kompressoreenheid se koste bepaal word deur die staalwand-reservoir waarin die lug saamgepers word. In die geval van CAES word gepoog om die reservoir so groot as moontlik te maak ten einde so veel moontlik energie te stoor. Sou ‘n staalwand-reservoir gebruik word, kan dus verwag word dat die koste van die reservoir ‘n groot kostedrywer in die totale CAES-koste sal wees.
Die voorstel behels dat ‘n lugdrukreservoir geïmplementeer sal word deur ‘n vertikale skag in die grond te sink. ‘n Knuspassende rubberbuis, met ‘n deursnee gelykstaande aan die skag se deursnit en met ‘n lengte, dieselfde as die skagdiepte, word in die skag geplaas. ‘n Metaal toevoer- en afvoerpyp word lugdig aan die rubberbuis gekoppel en dien as koppelvlak met die lugdrukkompressor en die lugdrukmotor. Die grondformasie onder en aan die sykante van die buis dien as versterking wanneer die buis se inhoud onder hoë druk verkeer. Ten einde ‘n hoë druk ook aan die bokant van te buis te kan weerstaan word ‘n swaar betonprop bo-oor die skag se opening gegiet. Op dié wyse kan ‘n lugdrukreservoir vir beide laedruk- en hoëdrukaanwending op ‘n goedkoop wyse gekonstrueer word. Die skag, afhangende van die deursnee, kan met ‘n grondboormasjien geboor word.
Die tabel hieronder dui potensiële energieberging, vir lae- en hoëdrukstelsels teen verskillende dieptes en deursnitte in megajoule (MJ) en kilowatt-uur (kWh) aan. Die negatiewe teken vir die aangeduide energiewaardes dui daarop dat arbeid op die lug verrig is tydens samepersing.
Werking:
Die voorstel word aan die hand van die onderstaande skets gedoen:
Elektriese energie word vanaf die Nasionale of ook ‘n Gemeenskapsnetwerk aan die prosumager-perseel gelewer. Hierdie energie word gebruik om ‘n elektriese motor aan te dryf wat aan ‘n enkelstadium of ‘n meerstadia lugdruk-kompressor gekoppel is. In die handel is verskillende lugdruk-kompressors vir verskillende aanwendings beskikbaar. Vir CAES sal ‘n energie-doeltreffende kompressor gekies word wat die verlangde druk (MPa) kan opwek en die nodige lugvloei (liter per sekonde) kan verskaf. ‘n Verdere oorweging is dat ‘n lae-onderhoud kompressor gekies moet word.
Die lugdruk-kompressor berg die saamgeperste lug in die lugdrukreservoir as gestoorde potensiële energie. Sodra daar ‘n behoefte aan elektriese krag ontstaan, word die saamgeperste lug uit die lugdrukreservoir gebruik om ‘n lugdrukmotor aan te dryf wat aan ‘n elektrisiteitsopwekker gekoppel is. Elektriese krag in gelykstroomformaat word aan ‘n wisselrigter voorsien wat gelykstroom omsit in 220V, 50Hz wisselstroom.
Die wisselstroom word gebruik om:
- elektrisiteit aan die prosumager vir huishoudelike of besigheidsverbruik te lewer,
- om weereens elektriese energie, indien hernubare energie-opwekking gedoen word, aan die lugdrukreservoir toe te voeg, of…
- om elektriese energie, soos by ‘n netvasnetwerk, terug aan die nasionale/gemeenskaps-netwerk te lewer.
‘n Monitor- en beheereenheid word voorsien om die betrokke prosumager op nasionale en/of gemeenskapsvlak te kan benut. Die monitor- en beheereenheid versamel en verwerk inligting, inisieer aksies en skakel met ‘n beheersentrum in die netwerk by wyse van IoT- tegnologie deur ‘n internetverbinding.
Prosumagers se CAES-stelsels kan op verskillende wyses in die kragnetwerk benut word:
- Kraglewering na die prosumager kan aan- of afgeskakel word ten einde beskikbare kraglewering aan ‘n netwerk te egaliseer en te balanseer. ‘n Perseel waar die lugdrukreservoir byna leeg is, kry prioriteit tydens lewering bo ‘n volgende perseel wat genoegsame energie in stoor het. “Beurtkrag” kan dus deurentyd toegepas word sonder dat prosumagers dit agterkom. Dit kan ‘n eerste-fase voordeel wees sou ‘n gefasseerde implementering plaasvind terwyl die prosumager nog net ‘n aankoper van elektriese krag is.
- Die CAES kan dien as ‘n insetpunt vir hernubare energie wat op die perseel opgewek word. Tesame met ander prosumagers in netwerkverband kan elektriese energie gesamentlik as ‘n virtuele kragstasie aan die nasionale netwerk gelewer word. Dit is daarom nodig dat kragontvangste en kraglewering gemeet moet word en rekeninge gebalanseer word vir maandelikse afrekening. Krag wat aan die netwerk gelewer word moet met die netwerk gesinchroniseer word. Veilgheidsmaatreëls word in plek gestel om te verseker dat, sou die netwerk se krag afgeskakel word, die netwerk geïsoleer word sodat geen elektriese krag aan die netwerk gelewer kan word nie.
- Energieberging kan ook vir die netwerk deur verskillende prosumagers gesamentlik gedoen word. In plaas daarvan dat opgewekte energie oor ‘n lang afstand na ‘n gepompte hidro-bergingstelsel gestuur word en vandaar weer na die verbruikers, kan die oorskot energie in die verskillende prosumagers se CAES-stelsels gestoor word en soos benodig, uitgeruil word. Hierdie funksionaliteit sal waarskynlik net vir hoëdruk-CAES-stelsels sinvol wees.
Daar is ook verdere nuttige funksionaliteit wat veral kleinskaal hoëdruk-CAES vir prosumagers kan bied. Omdat die lugdrukreservoir naby die gebruiker geleë is, kan CAES-verliese aangewend word tot voordeel van die prosumager. Hitte wat vrygestel word tydens die samedrukking van lug kan gebruik word om water in geisers te verhit ten einde ‘n huis, kantoor of kweekhuis te verwarm. Tydens die vrystelling van die lug uit die reservoir, wanneer afkoeling van die lug gebeur, kan die hitte wat in yskaste, vrieskaste en verkoelers gegenereer word deur middel van ‘n hittepomp na die reservoir verplaas word. ‘n Tweeledige voordeel word dus verkry deurdat genoemde verkoelingseenhede meer doeltreffend werk weens ‘n groter temperatuurgradiënt. Ook, omdat die lug in die reservoir verwarm word, is die elektrisiteitsomsetting van die CAES meer doeltreffendheid.
Hoe vergelyk CAES met elektro-chemiese batterye?
Die gonswoord vandag – wanneer gepraat word van berging van hernubare energie – is elektro-chemiese batterye. Veral lood-suurbatterye en lithium-ioonbatterye word hiervoor gebruik. Waarom kleinskaal-CAES implementeer eerder as batterye? Het kleinskaal-CAES voordele bo elektro-chemiese batterystelsels?
Energie-doeltreffendheid
Volgens die literatuur is die energiedoeltreffendheid van loodsuurbatterye 80% tot 90%, terwyl lithium-ioon batterye se doeltreffendheid 85% tot 95% is. Daarteenoor, met adiabatiese tegnieke, is die doeltreffendheid van grootskaal-CAES tussen 40% en 70%. Die doeltreffendheid van kleinskaal-CAES wat naby-isotermies werk, word tussen 90% en 95% geskat. Hoëdruk-CAES se doeltreffendheid, selfs met tegnieke om naby-isotermiese werking te bewerkstellig, sal waarskynlik heelwat laer as 90% wees.
Energie-doeltreffendheid word gedefinieer as die verhouding uitset-energie tot inset-energie. Dit is egter belangrik om appels met appels te vergelyk. Om ‘n sinvolle vergelyking te doen moet uitset en inset vir al bogenoemde gevalle dieselfde punt op die netwerk wees – daar waar wisselstroom die netwerk verlaat en waar die energie weer teruggeplaas word in die netwerk. Verliese as gevolg van gelykrigting, wisselrigting, berging, kompressors, elektriese motors, lugdrukmotors, elektriese generators, ensovoorts, behoort in elke geval deel van die vergelyking te wees. Ook verhittings- en afkoelingsverskynsels wat benut word, moet in aanmerking geneem word.
Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat elektro-chemiese batterye oor tyd self ontlaai. CAES behou lading oor ‘n heelwat langer tyd. Hierdie verskynsel moet ook in die doeltreffendheids-som in aanmerking geneem word.
Energie-digtheid
Die energie-digtheid van lug onder druk van 30MPa word bereken as 50Wh per liter. Dit vergelyk gunstig met die energie-digtheid van ‘n lood-suurbattery wat 60 tot 75Wh per liter is. Die lithium-ioon battery se energie-digtheid is heelwat hoër teen 250 tot 620Wh per liter. Energie-digtheid, en so ook spesifieke energie, is krities wanneer energie-berging vir voertuie beoordeel moet word. Vir die stoor van elektriese energie ondergronds, op ‘n prosumager-perseel, hoef net die oppervlakbenutting in ag geneem te word.
Aanskaffingskoste
Die aanduidings in die literatuur is dat elektro-chemiese batterye per kWh heelwat duurder is as CAES. Die tegniek, soos voorgestel, om die reservoir in die grond te plaas eerder as om ‘n dik staalwand rondom die reservoir te voorsien kan ‘n verdere kostebesparing teweegbring.
‘n Interessante gedagte om aan te dink is dat sou dit nodig word om elektro-chemiese batterykapasiteit te verdubbel, verdubbel die koste van die stelsel ook. In die geval van CAES sal ‘n verdubbeling in kapasiteit egter minder kos as twee CAES stelsels omdat dit, binne sekere limiete, net die reservoir is wat se inhoud hoef te verdubbel.
Nog ‘n moontlike besparing wat met tegnologie-ontwikkeling teweeg gebring kan word, is om werk wat gedoen is rondom wankel-enjins te gebruik om ‘n rotasiekompressor te ontwikkel. Tegnologieë en materiale het sedert die vyftiger-jare in so ‘n mate vooruit gegaan dat dit ‘n lewensvatbare en uitvoerbare alternatief vir vandag se kompressors moontlik maak. ‘n Waarskynlike voordeel van só ‘n ontwerp is dat die eenheid moontlik omkeerbaar kan wees en dus ook as ‘n lugdrukmotor kan funksioneer. Sou die elektriese motor en generator ook met ‘n dina-motor vervang word en met die kompressor geïntegreer word, kan ‘n baie doeltreffende en betroubare eenheid daargestel word om die elektriese motor, kompressor, lugmotor en generator te vervang. Omdat al die funksies roterend van aard is kan ‘n baie kompakte eenheid, wat min onderhoud benodig, daargestel word.
Die vermoede bestaan verder dat sou só ‘n geïntegreerde eenheid binne-in die reservoir geposisioneer word en lugsamedrukking en lugvrylating word in min of meer gelyke kort intervalle afgewissel, is dit ‘n verdere manier om doeltreffendheid te verhoog omdat naby-isotermiese werking so bewerkstellig kan word.
Lewensduur en koste oor lewensiklus
Lood-suurbatterye het ‘n lewensduur van ongeveer 300, en lithium-ioonbatterye ‘n lewensduur in die omgewing van 500 tot 1000 laai- en ontlaaisiklusse. Elektro-chemiese batterye het verder ook die eienskap dat hulle oor tyd degradeer. Die laai en ontlaai van batterye moet ook baie goed bestuur word anders word die lewensduur drasties verkort. Hierteenoor is die lewensduur van ‘n CAES-stelsel tussen 20 en 40 jaar. Instandhouding van die CAES kan geredelik lokaal in ‘n lae-tegnologie-omgewing gedoen word en onderdele is geredelik beskikbaar wat ook die plaaslike ekonomie kan bevoordeel. Rou-materiale is nie toksies, brandbaar of skaars soos in die geval van elektro-chemiese batterye nie.
Uitdagings rondom CAES:
Daar bestaan ‘n aantal uitdagings rondom die voorstel in terme van CAES met verspreide berging en opwekking van elektrisiteit waarna ons net kortliks verwys.
- Aansienlike ontwikkelingswerk rondom die spesifieke toepassing is nodig met insette van verskeie rolspelers. Die ideaal sal wees om die stelselingenieursproses te volg ten einde:
- Eerstens ‘n operasionele behoefte te omvorm in ‘n beskrywing van stelsel- en produkverrigtingsparameters asook ‘n voorkeur stelselkonfigurasie deur die gebruik van ‘n iteratiewe proses bestaande uit funksie-analise, sintese, optimering, definisie, ontwerp, toets en evaluasie.
- Tweedens moet verbandhoudende tegniese parameters geïntegreer word ten einde versoenbaarheid van alle fisiese, funksie- en ook projek- of programkoppelvlakke te bewerkstellig op ‘n wyse wat die totale stelsel se definisie en ontwerp optimeer.
- Derdens moet spesialiteite soos onder andere vervaardigbaarheid, betroubaarheid, onderhoubaarheid, ergonomie, kwaliteit, ensomeer in die totale stelselontwerpspoging geïnkorporeer word.
- ‘n Besigheidsmodel wat al die partye tevrede sal stel sal moeilik onderhandelbaar wees. Finansiering, wedersydse waarborge, SLAs (diensvlakooreenkomste) en regulering is onder andere sake wat tussen partye aangespreek sal moet word.
Uitstekende idee. Die gat kan soos n 12” boorgat geboor word met n silinder wat knus daarin pas.
My vraag is hoeveel navorsing is al gedoen rondom dit. Daar behoort verskeie P.hD ingenieurs studente reeds daarop te werk.
Dit sal ideaal werk vir ‘n tuis son / battery stelsel. Die oortollige energie deur die dag kan dan daar gestoor word. Dit kan dan in die nagtelike ure teruggee word aan die groter netwerk. Batterye word vir die huis gebruik en hoef dan ook nie enorm groot te wees nie.