
Mense is die ware ekonomie
Die G20-beraad het gekom en gegaan. Suid-Afrika het tussen die wêreldmoondhede gesit onder die tema “Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid.” Maar hier by die huis voel baie Suid-Afrikaners dat hierdie woorde min met ons werklikheid te doen het.
Ons sien nie solidariteit nie, maar verdeeldheid. Nie gelykheid nie, maar afhanklikheid. Nie volhoubaarheid nie, maar ’n land wat sukkel om kop bo water te hou. Hoewel ons die kleinste ekonomie in die G20 is, dra ons een van die swaarste laste van werkloosheid, korrupsie en skuld. 
Meer as 32 persent van ons mense is werkloos. Byna die helfte van ons jongmense staan sonder werk. Meer as 19 miljoen burgers oorleef op staatstoelaes. Huishoudings word vasgedruk tussen stygende pryse en kwynende geleenthede. Die ondernemingsgees waarvoor Suid-Afrikaners bekend is, word al dowwer namate afhanklikheid groei.
Afhanklikheid lyk soos hulp, maar dit steel jou vryheid. Dit hou jou aan die lewe, maar dit beroof jou van ’n roeping, waardigheid en die vermoë om self jou toekoms te vorm.
En die harde waarheid is dit: niemand kom ons red nie. Nie die G20 nie. Nie die regering nie. Nie nóg ’n plan of belofte nie. Suid-Afrika se hoop lê nie in toesprake of beleidsdokumente nie, maar in gewone mense wat besluit om op te staan.
En ons kán opstaan.
Daar steek nou ’n ander gees weer kop uit. Dit is die gees van Vukuzenzele. Die woord beteken letterlik: “Word wakker en doen dit vir jouself.” In Afrikaans praat ons van selfdoen. Dit beteken nie om alleen te staan nie, maar om self die eerste tree te gee. Om jou deel te doen. Om nie te wag vir ’n reddingsplan nie, maar jou hande, jou talent en jou tyd doelgerig te gebruik.

Selfdoen is die asem van ware vryheid. Dit is die moed om op te staan, die vasbyt om te bou met wat jy het, en die wete dat klein begin groot vrug kan dra. Dit herstel waardigheid. Dit wek hoop. Dit bind gemeenskappe saam en laat hulle sterker terugkom.
Dwarsoor Suid-Afrika sien ons hoe mense dit reeds uitleef. In tuine agter huise, in motorhuise wat in werksruimtes omskep word, in kombuise waar klein besighede gebore word, in sóveel hande wat werk eerder as wag. Mense ontdek dat dit beter is om te doen as om te kla, beter om te skep as om te verlang, en beter om te dien as om te wag vir iemand anders se oplossing. Hulle maak nuwe deure oop, een stap op ’n slag.
Dit gaan nie net oor ekonomiese oorlewing nie. Dit is ’n innerlike ontwaking. Dit is mense wat besef dat God iets in elkeen van ons se hande sit wat genoeg is om te begin. Jou vaardigheid, jou idee, jou ywer, jou kreatiwiteit. Hierdie dinge is die sade van ’n ware ekonomie. Hulle wys die pad uit afhanklikheid en terug na hoop.
Die ware rykdom van Suid-Afrika lê nie in die politiek of die beleid nie. Dit lê in sy mense. Dit lê in jou.
Selfdoen. Word wakker. Staan op. Bou. Dien. Skep. Leef vry.
Wanneer gewone mense opstaan en verantwoordelikheid neem, begin ’n hele land saam groei.
