Mega-T: Opelug Padvervoer ekspo bring die industrie bymekaar
Op 6-7 Oktober 2022 is die eerste Mega-T Ekspo suksesvol, tydens Vervoermaand, aangebied op Diamantvallei Landgoed, buite Pretoria. Hierdie inisiatief is ‘n samewerking tussen die organiseerders van die KragDag ekspo’s, en die RFA (Road Freight Association) en is daargestel om die nuutste ontwikkelings en oplossings vir die vervoerindustrie ten toon te stel.
Alhoewel ‘n hele paar binnenshuise vervoer ekspo’s in Suid-Afrika aangebied word, bied hierdie opelug geleentheid nie net ‘n platvorm vir die besluitnemers in die industrie om te netwerk en handel te dryf nie, maar is ook ‘n prettige vragmotorskou wat fokus daarop om die hele gesin te betrek, met verskeie aktiwiteite en besienswaardighede vir oud en jonk.
Sowat 80 uitstallers het hulle produkte en dienste aan die publiek ten toon gestel. Kategorieë het vragmotors, sleepwaens, opsporingstelsels, bande, sekuriteit, onderdele, instandhouding, finansies, versekering, navigasie, vlootbestuur, brandstofstelsels, media en handelsmerk bekendstelling ingesluit.
Lugambulans- en reddingsverskaffer Rocket HEMS het hulle noodtoepassing, ROCKET Connect, wat onmiddellike noodhulp fasiliteer, aan alle lede wat inteken, gedemonstreer. Die diens, wat in September bekend gestel is, word verkry deur middel van ‘n slim-toep-paniekfunksie, of deur na hul interne 24-uur-inbelsentrum in te skakel, waar ervare professionele persone die toepaslike noodhulp vinnig en doeltreffend uitstuur. Ekspogangers het ook die geleentheid gehad om helikopterritte in ‘n JetRanger te geniet.
Afrika se grootste bestuurderopleidingsentrum, Innovative Learning Solutions (ILS), het vir die duur van die geleentheid ‘n span van hul top-instrukteurs op die terrein gehad, wat trokbestuurdemonstrasies gegee het.
Voormalige Gladiator, bekende, akteur en komediant Garth Collins, het ook ‘n draai by die Mega-T ekspo gemaak, en saam met die SA Sterkman Unie besoekers vermaak met ‘n paar indrukwekkende demonstrasies.
In die PRBB Biertuin het die bekende rockgroep Clint & Co, Ruan Nel asook Michelle Abreu besoekers vermaak, terwyl hulle hulle middagete van verskeie kosstalletjies geniet het.
Teken solank 5-7 Oktober 2023 in jou dagboek aan, om te verseker dat jy hierdie geleentheid nie volgende jaar misloop nie!